nine_poster_535x713
Ons praat met

Eksklusief: Nicole Kidman praat met sarie.com

Nicole, hoe gaan dit met die baba?

Baie goed. Sy’t ’n stewige eetlus en begin nou die wêreld ontdek. Sy is ons sonskyn. Ek sal haar graag 24 uur per dag by my wou hê, maar dis nie altyd moontlik nie. Ek probeer wel om my werk ’n bietjie af te skaal. My lewe is nou vol en ryk en draai nie meer nét om die filmbedryf nie. Danksy Sunday Rose is ek ’n nuwe mens. Ek is baie meer emosioneel en oop en lewe met groter intensiteit.

Na wie lyk sy die meeste?

Ek het eers gedink sy trek meer na Keith, maar nou voel ek anders. Ek dink sy is ’n goeie mengsel tussen my en Keith. Ek sien elke klein verandering raak – as sy nuwe hare gekry het of langer geword het. Mamma sien alles (lag sy)!

Het julle enige gesinsrituele?

Ons word almal saam wakker – danksy Sunday Rose soms so vroeg soos sesuur in die oggend. Maar ons gee nie om nie. Dit is hierdie “ons-tyd” wat vir my kosbaar is en ek wil dit nie mis nie.

Jou man is van Nieu-Seeland, maar woon al lank in Amerika. Jy is Amerikaans, maar het as kind Australië toe getrek. Watter invloed het dit op hoe julle Sunday Rose grootmaak?

Ek dink sy’s ’n goeie voorbeeld van die moderne, kosmopolitiese wêreld waarin ons vandag leef. Sy het as baba al reg oor die wêreld gereis en het ook ’n Australiese paspoort. Die wêreld lê oop vir haar.

Sal jy graag nog ’n baba wou hê?

Ons is baie bly dat ons vir Sunday Rose het. Dis nie asof ek en Keith mekaar in ons 20’s of 30’s ontmoet het nie. Dit was nooit ’n uitgemaakte saak dat ons ooit sou kinders hê nie. In ’n stadium het ek geglo dat dit nooit sou gebeur nie. En toe maak Sunday haar verskyning! Dit was ’n wonderwerk. Daarom dink ek nie te veel oor nog ’n baba nie. As dit wel gebeur, sal dit wonderlik wees.

Jou ander twee kinders is nou al tieners . . .

Ja, dis ongelooflik hoe vinnig tyd vlieg. Maar hulle is glad nie moeilike tieners nie en skaam hulle gelukkig nie vir my nie. Hulle hou baie daarvan as ek saamgaan na ’n geleentheid, soos ’n skoolopvoering of iets. Ek is regtig trots op hulle. Deesdae begin hulle al hoe meer belangstelling toon in die filmbedryf – iets waaroor ek nie baie gelukkig is nie. Daar is so baie verwerping in die bedryf en ek dink nie hul ouers se bekendheid gaan hulle hierteen beskerm nie. Dis ook ’n tawwe loopbaan. Ek het teater begin doen as driejarige! Toe ek nege was, het ek al naweke ’n toneelskool bygewoon. Ek was so ambisieus, miskien té ambisieus. Dalk was ek ook lief vir toneelspeel omdat ek nie baie van myself gehou het nie en daarom in ’n fantasiewêreld kon ontsnap. Ek was lank en het daarom nie kêrels gehad nie. Ek was ook soos ’n seun gebou met baie lang en dun bene.

Maar dit was tog die moeite werd om soveel energie aan jou toneelspel te wei . . .

Ek weet. En om die waarheid te sê, dis baie pret om vir ’n première of gala-geleentheid reg te maak. Dit voel asof ek weer en weer na my matriekafskeid (prom) toe gaan. Ek en Keith sien albei uit na sulke geleenthede.

Dit klink asof jy saam met Keith die laaste stukkie legkaart van ’n perfekte lewe gevind het . . .

Absoluut. In my eerste huwelik (met akteur Tom Cruise) het alles so vinnig gebeur. ’n Week ná my eerste ontmoeting met Tom het ek reeds geweet dat ek met hom wil trou. Met Keith was dit anders en het ons albei besef hoe eensaam die ander een was. Ons het onsself tyd gegee om mekaar goed te leer ken. Ons het aand na aand omgesels, uitgevind watter swakhede en sterk punte die ander een het, en ons gevoelens met mekaar gedeel. So het ons besef dat ons vir mekaar bedoel is. Ek wil vir die res van my lewe op hom verlief wees. As ek oud is, wil ek terugkyk op my en Keith se lewe saam met ons kinders.

Jy het met kleedrepetisies vir Nine begin net ses weke ná Sunday Rose se geboorte . . .

Ja, dit was nogal fenomenaal. Ek moes haar natuurlik saamneem na die stel omdat ek nog geborsvoed het. Dit was vir my ’n totaal nuwe ervaring, maar het die kleedrepetisies soveel meer pret gemaak omdat ek geweet het ek sal my kind tydens pouses en in die aand kan sien. Ek sal voortaan nie meer rolprente maak wat my vir langer van my gesin sal skei nie.

Vertel ons ’n bietjie meer oor die ervaring rondom die verfilming van Nine.

Ek weet nie eintlik hoekom ek ingestem het om dit te doen nie, want ek hou nie van my sangstem nie. Dit is ’n vreemde gevoel. Ek hou ook nie daarvan om myself op skerm te sien nie, maar om te sing is nog erger. Die groot uitdaging vir ’n akteur is om élke rol reg te vertolk. Met sang is daar beperkings. Ek kan byvoorbeeld nie altyd hoë note bykom nie en daarom moes ek een van die liedjies laer sing as wat ek dit eintlik wou doen. Maar my stem is net eenvoudig nie sterk genoeg nie. En dit kan frustrerend wees as jy jouself nie kan uitdruk soos jy graag wil nie. Maar aan die ander kant, is dit ook so lekker om vir ’n slag iets anders te doen. As ’n akteur wil jy uitdagings hê. Dis in ons aard. Jy kry ook nie élke dag kans om so iets te doen nie. Wanneer die geleentheid hom voordoen, moet jy dit aangryp. En natuurlik kon ek nie “nee” sê nadat ek die rolverdeling gesien het nie! Dit is die sterkste groep akteurs waarmee ek nóg saamgewerk het. Regtig ongelooflik!

Jy dra sulke pragtige rokke in die fliek. Kon jy hulle hou?

Nee, ek doen dit nooit nie. Ek wou eintlik net die diamante hê (sy lag). Ek speel sommer! Ek bring nooit iets huis toe nie – dit maak nie saak hoe mooi dit is nie. Dit herinner my te veel aan die karakter van daardie fliek. Ek kan dit in elk geval nie weer by die huis dra nie. Maar ja, die rokke in die fliek was pragtig. Op stel wou ek van die môre tot die aand die rokke dra.

As jy nie ’n akteur geword het nie, wat sou jy wou doen?

Ek sou graag ’n skrywer wou wees. Ek is gek oor verbeeldingswêrelde . . .

Het jy al iets geskryf?

Nee, maar ek hou graag dagboek – ook op stel. Dis terapeuties vir my. Ek bêre my dagboeke oor elke fliek sodat my kinders eendag my emosies op stel en in verskillende situasies kan volg.

Jy is selfversekerd. Waar kry jy daardie krag vandaan?

Glo dit of nie, maar as kind was ek baie skaam. Nie net oor my voorkoms nie. Om voor ander mense te praat was ’n nagmerrie. Ek het so angstig geraak dat ek glad nie kon dink wat om te sê nie. Ek het nooit geglo dit sou verander nie. Maar eendag het ek net vir myself gesê dit kan nie so aangaan nie. Ek kon dit net nie langer verduur nie. En toe sê ek vir myself: “Nicole, jy gaan nou daardie sterk mens wees wat jy nog altyd wou wees.” En dit het gewerk. Jy moet net in jouself glo. Nou is ek honger vir die lewe. En baie optimisties. Ek glo beslis dat dinge wat oor jou pad kom, jou ’n sterker mens maak. En om in die kollig te leef vra dat jy ’n sterk mens móét wees. Anders sal dit jou vernietig…

Wat doen jy as jy ’n bietjie van dié lewe in die kollig wil ontsnap?

Niks. Ek kan eenvoudig nie ontsnap nie. Selfs al kruip ek agter ’n sonbril weg en verander my haarstyl, kom mense na my toe en vra hoe dit met my gaan. Ek kan nêrens wegkruip nie. Juis omdat ek so lank is …


  • http://www.sarie.com Elize Slabbert

    Nicole bly ‘n fenomenale vrou en aktrise.

  • http://lqhyvlxgdyzf.com/ aqqjauzxenr

    BLea0d qefywahekflw, [url=http://csmvverwfipo.com/]csmvverwfipo[/url], [link=http://zhdbggeuareq.com/]zhdbggeuareq[/link], http://dagaagkmtahs.com/