FOTO: Phyllis Green

FOTO: Phyllis Green

Ons praat met

EKSKLUSIEF op SARIE.com: Heino Schmitt groet die Laan ná 11 jaar

Altus kuier al in ons sitkamers vir 11 jaar en 1 maand. “Maar ek kon nie hier matrikuleer nie,” grap Heino Schmitt terwyl hy vanoggend werk toe ry. Vandag is sy laaste dag op die stel van 7de Laan.

“Ek voel soos enige ander dag. Net ligter met ’n ander energie. Maar dit het nog nie heeltemal ingesink nie,” vertel Heino aan SARIE.com. “Ek sien dit as die begin van nuwe dinge en veranderinge wat kom.”

Altus was sy eerste TV-rol en as hy weer kon kies, sou hy weer ja gesê het vir 7de Laan. “Jy leer so baie – oor die craft van toneelspeel en oor jouself. Jy moet jouself verstaan om karakters te verstaan.”

Maar ná 11 jaar is dit tyd vir iets anders.

“Ek wil iets wees wat ek vir 11 jaar nie was nie. Soos om my hare te verander.”

Sepiekarakters mag weens kontinuïteit en vir hul karakters se onthalwe nie hul haarstyl sonder toestemming verander nie.

“My hare het 11 jaar aan iemand anders behoort.”

Ons gaan nog vir Altus tot in Februarie 2016 op die kassie sien.

Heino wil steeds toneelspeel as vryskut en dalk ook modelwerk doen – iets wat hy gedoen het voor 7de Laan.

Maar hy is ook sedert die begin van die jaar hard besig om te werk aan sy ander passie, kuns. En nou gaan hy meer tyd hiervoor hê.

“Party mense sal sê ek maak meubels, maar dit is funksionele kuns.” Funksionele kuns is items soos meubels wat steeds hul funksie verrig (byvoorbeeld ’n lamp of stoel), maar ook estesties mooi is soos ’n kunswerk.

FOTO: Phyllis Green

FOTO: Phyllis Green

“Die meeste van my stukke het ook ’n storie – wat my geïnspireer het, waar ek die materiale gekry het …”

En dis juis die materiale wat sy stukke so uniek maak. Hy werk met rou materiaal van hout, koper, staal en leer, selfs ’n deel van ’n ossewa, dryfhout uit die Waterberge wat al deur termiete geëet is – dít maak hom opgewonde.

Hy koop ook versamelstukke aan en skep dan ’n kunswerk daarmee.

“Ek kyk wat ek uit die materiaalvonds kan maak. Wat ek kan doen wat anders is. Wat ander mense nie hiermee sal doen nie.”

Elke stuk word individueel deur Heino gemaak. Hy koop nie eens die boute nie – hy draai en maak dit self.  “Dis borderline steampunk,” verduidelik hy. Steampunk is ’n kunsbeweging wat tegnologie en estetiese ontwerp kombineer en dis geïnspireer deur die 19de eeuse stoom-aangedrewe masjinerie.

FOTO: Phyllis Green

FOTO: Phyllis Green

Die beste terugvoer wat hy kry, is van mense en kunstenaars wat raaksien wat hy gedoen het – die moeite, die tyd – besef elke stuk is individueel gemaak.

Soos Yiull Damaso, wat al lank in die bedryf is en vir Heino genooi het om saam met hom ’n uitstalling te hou.

Heino het by verskeie mense geleer hoe om met sy hande te werk. Ook by sy pa en sy oom. “My pa het houtwerk as ’n stokperdjie gedoen en hy het weer by sy pa geleer. Êrens in die familie was daar seker ’n skrynwerker.”

Maar of hy nou toneelspeel of met sy hande werk, Heino is mal daaroor om sy kreatiwiteit uit te leef. “Dís hoekom baie mense so hartseer is. Ek hou van die aanhaling, ‘Earth without art will only be eh’. Kuns is oral in die natuur, in die geskiedenis van die mensdom en dis lekker om dit te kan uitbeeld.”

FOTO: Phyllis Green

FOTO: Phyllis Green

Heino maak lank reeds kuns vir homself en sy vriende, maar hy het aan die begin van die jaar besluit hy wil meer tyd daaraan bestee. “Ek het besef dit help nie mense sê en praat nie. Woorde beteken niks. Woorde is leeg. Dade maak saak.”

FOTO: Phyllis Green

FOTO: Phyllis Green

Volg Heino op Facebook by Heino Schmitt Design en op Twitter en Instagram (@heinoschmitt) om meer van sy kunswerke te sien en sy lewe ná 7de Laan te volg.