sarahjessica
Ons praat met

Eksklusief: sarie.com gesels met Sarah Jessica Parker

Haar nuutste fliek, Did you hear about the Morgans?, begin vandag in fliekteaters landwyd draai. sarie.com  het eksklusief met Sarah gesels oor dié nuwe rol teenoor Hugh Grant, surrogaatskap en naaktonele.

Jou nuutste fliek, Did you hear about the Morgans?, is ’n projek na aan jou hart . . .

Ja. Teen die einde van verfilming het ’n surrogaatma geboorte geskenk aan ons tweeling. Niemand op stel het daarvan geweet nie, nie die filmspan of my mede-akteurs nie. Ons het die geheim eers baie naby aan die geboorte onthul. Ek en Matthew was mal daaroor om so lank as moontlik hierdie geheim te hou, ek wou nie sulke opwindende nuus sommer net so laat val nie. Soos jy kan indink, is dit baie moeilik om enigiets stil te hou. Daarom wou ons hierdie opwindende nuus koester sonder om dit met die wêreld te deel.

Hoekom het julle besluit om ’n surrogaatma te gebruik?

Ons wou graag ons gesin vergroot en het na verskillende opsies gekyk.  En surrogaatskap was die eerste opsie wat vir ons uitgewerk het. Maar ek moet darem ook sê dat ek dit baie geniet het om swanger te wees met ons eersteling. Ek was gek daaroor en sou baie graag weer en weer swanger wou wees. Dit is die wonderlikste gevoel ooit, ’n voorreg, alle ma’s sou saamstem.

En dit is ongelooflik dat daar mense is soos Michelle, ons surrogaatma, wat vir nege maande lank hul lewe daaraan wy om ander gesinne te help.

Hoe het vriende en familie op die nuus gereageer?

Hulle was só bly vir ons. Hulle weet hoe graag ons ’n tweede kind wou hê en hoe lief ek vir kinders is. Maar niemand het verwag dat ons gesin só sou uitbrei nie – ewe skielik was ons vyf! Dis nog ’n gróter geskenk. Die vreugde is moeilik om te verwoord. Om eerlik te wees het ons ophou glo dat dit ooit met ons sou gebeur. Só keer jy verdere teleurstelling. Nou hoop ek net dat wanneer ek dit eendag aan die tweeling verduidelik, hulle my steeds sal liefhê.

Hulle is ’n paar maande oud. Hoe gaan dit met hulle?

Dit gaan baie goed. Hulle verskil so baie! Een van hulle wil die heeltyd vasgehou word terwyl die ander een heeltemal die teenoorgestelde is. Sy hou niks daarvan nie. Als sou so wonderlik kon wees, maar . . .

Maar?

Ek het só ’n vol program. Ek kan nie my kinders so gereeld sien soos wat ek wil nie en ek is nou spyt dat ek tot sekere projekte ingestem het. Maar ek wil nie te veel kla nie, dis my eie skuld. Die groot uitdaging lê daarin om als te balanseer. Ek wil my beste gee vir al dié projekte, maar ook ’n superma wees. Maar elke werkende ma het dieselfde uitdaging.

Wat is die lewenslesse wat jy graag vir jou kinders wil leer?

Ek wil beslis nie hê dat my kinders als wat hulle begeer net eenvoudig moet kry nie. Hulle moet leer om hard te werk, want só kan jy jou sukses regtig waardeer. Ek besef dat dít moeilik sal wees om reg te kry met die leefstyl en voorregte wat ek in hierdie bevoorregte posisie geniet. Maar ek sal hard werk om hierdie waardes aan hulle oor te dra.

Vir my is dit ook belangrik dat James van sy sussies hou. Ek was bang dat hy jaloers sou wees omdat hy nie meer al die aandag kry nie. Maar hy is ongelooflik. Hy versorg en beskerm hulle en is so trots om hul ouboet te wees. Dis ’n verligting!

Het Sex and the City jou as persoon verander?

Ek het beslis verander en het geleer om ’n beter vriendin te wees. Ek was altyd jaloers op die vriendskap tussen die vier en hoe hulle daarvoor geveg het. En op ’n stadium wou ek meer soos hulle wees en meer tyd in my eie vriendskappe belê. 

Ek gaan ook nou meer oopkop deur die lewe.  Ek is eintlik ’n bietjie konserwatief. Ek is skaam, vloek nie en praat nie oor my sekslewe met my vriende nie. Daarom was dit moeilik om ’n karakter te speel vir wie hierdie dinge doodnormaal is. Carrie het my gehelp om meer gemaklik hieroor te voel. Sex and the City was soos terapie. Kan ek jou ’n snaakse storie vertel?

Ja, asseblief!

Jy sal nie glo hoeveel vreemdelinge in New York hul wildste seksstories vir my vertel nie. En dan vra hulle nog raad ook! Al wat ek dan kan sê is: “Jammer, maar ek het geen ondervinding van ’n ‘one night stand’ nie.”

Is dit waar dat jy volgens kontrak geen naaktonele sal doen nie?

Dis waar, ja. Ek het nog nooit ’n naaktoneel gedoen nie, hoewel hulle my tien miljoen dollar aangebied het om dit in Sex and the City te doen. Kan jy jou dit indink? Tien miljoen dollar net om my borste of agterstewe te sien! Dis gek, of hoe?

Hoe verskil die tweede Sex and the City-fliek van die eerste?

Die eerste fliek het baie hartseer en teleurstelling. Nr. 2 is veel meer pret. Ons het die wêreld vol getoer om dit te maak. Dit gaan oor die rol van mans en vroue in die huwelik – die tradisionele teenoor die moderne sienings. Ek dink ons aanhangers gaan mal wees daaroor.

Wat sou jy sê is die belangrikste in ’n huwelik?

Om liefdesbriewe vir mekaar te skryf! Dis ’n wonderlike ou tradisie wat besig is om uit te sterf. Ek kan op papier my gevoelens beter verwoord. Ek het nog al die liefdesbriewe wat my man vir my geskryf het. Ek kyk elke nou en dan daarna. Dis baie spesiaal.

Jy word beskou as dié mode-ikon deur talle jong vroue. Wat is die geheim van jou unieke styl?

Wel, ék dink nie daar is iets spesiaal aan my nie (lag). Oukei, ek sal jou ’n geheim vertel. Ek koop nie baie klere nie. Ek kies eerder gehalte – items wat die toets van die tyd kan deurstaan. Daar is ’n paar rokke in my klerekas wat al 15 jaar oud is – ek dra hulle steeds. Ek fokus veel meer op dít waarvan ek hou as die nuutste trends. Ek sal nooit iets koop wat my nie pas net omdat dit ’n ‘moet-hê-item’ is nie. Vroeër sou ek dit nog gedoen het . . . ek sou vreemde items saam dra, soos work boots met ’n mansbaadjie. Ek geniet dit wel baie om my man aan te trek. Ek koop gereeld vir hom nuwe klere.

Is voorkoms vir jou belangrik?

Ek weet daar is ’n standaard vir skoonheid en waarskynlik voldoen ek nie heeltemal daaraan nie. Maar ek is selfversekerd en het ’n fantastiese beroep en dit het als gebeur ongeag wat mense oor my voorkoms te sê het.

* Moenie die Maart-uitgawe van SARIE misloop nie. Hugh Grant gesels eksklusief met SARIE. Vanaf Maandag 8 Februarie te koop.

 

  • http://hmcovznkzbst.com/ itxqqpbzdi

    fkokbK dyrleofwfikt, [url=http://bkbygreevwsj.com/]bkbygreevwsj[/url], [link=http://dauvptdyhcsw.com/]dauvptdyhcsw[/link], http://ucvntkomhlib.com/