sr1110piet_byleveld_1_
Ons praat met

Eksklusiewe uittreksel uit Piet Byleveld se boek

Piet Byleveld tel die dossier met die foto’s op. Leigh. Sy lê op haar rug. Haar regterarm skuins agtertoe gebuig.

Dit lyk of sy net daar in die veld neergesit is. Hier, tussen twee boompies en ’n miershoop, waar die son van 21 Julie 2004 oor haar geskyn het.

Sy lê nakend op haar rug, oë oop, haar lang hare los, skoon, gesprei in die wintergras. Blond op blond. Hare wat sy ’n dag voor haar dood spesiaal laat mooi maak het vir haar mondigwordingspartytjie.Haar vel lyk soos Italiaanse marmer. ’n Spinnekop het ’n fyn web tussen
haar dye gespin. Veldmuise het aan haar een kuit begin knaag.

“Dit lyk asof sy slaap. Rustig slaap. Asof daar nie vrees in haar is nie, nè?” sê Piet en sy stem is skielik sag.Hy vee met sy vinger oor haar gesig. “Arme Leigh. Sy was net ’n dag lank 21.’

Baasspeurder Piet Byleveld se biografie wat pas verskyn het, is vol vertellings oor hoe hy die vele sake wat hy al opgelos het, ervaar het. In die hoofstuk “Leigh – net ’n dag lank 21” stap hy en die biograaf, joernalis Hanlie Retief, terug op die spore van ’n misdaad wat die hele land geruk het – en wat steeds opspraak verwek.

Die biografie vertel van die dag, Vrydag 9 Julie 2004, toe Leigh Matthews ontvoer is op die kampus van die Bond-Universiteit in Sandton waar sy klas gedraf het. Ook hoe haar pa, Rob, die aand
R50 000 vir die ontvoerder op die N1 by die R558-afrit naby die Grasmeretolplaza gaan aflewer het. Daarna sou Leigh vrygelaat word. Toe Rob per ongeluk verby die aflaaipunt ry, het die ontvoerder woedend van Leigh se selfoon af gebel en op hom geskree en gevloek. Hy het omgedraai en alles gedoen soos die ontvoerder dit wou hê. Maar Leigh is nooit vrygelaat nie.

Kort voor lank groei die ondersoekspan van 15 polisieoffisiere, onderhandelaars en private speurders aan tot 150. Later word ook die polisie se spesiale taakmag ingeroep.

Twaalf dae later word Leigh se liggaam gevind deur ’n bejaarde plakkerskamper wat dekgras sny in die Thorntree-Bewaringsgebied dig teenaan Walkerville.

Maar die ondersoekspan kry nie die ontvoerder vasgetrek nie. Op Dinsdag 24 Augustus, 46 dae sedert Leigh se verdwyning en 35 dae sedert haar liggaam gekry is, word Piet Byleveld ingeroep.

‘Toe Piet die saak oorneem, word hy oordonder met vragte dokumentasie – selfoonstate,moontlike leidrade, bokse en bokse vol papiere. En wat doen Piet? Hy gee die bokse een kyk en gaan pak hulle onoopgemaak in die hoek van sy kantoor. “Nee, wat. Dit sou weke vat om daardeur te ploeg. En sê nou dit stuur my heeltemal in die verkeerde rigting? Toe sê ek vir my kollegas dankie,maar nee dankie, dis nie hoe ek werk nie.”

Toe begin Piet by die begin. By die slagoffer. “Ek wou uitvind wie presies Leigh Matthews was. Ek wou alles van haar weet. Wat sy vir brekfis geëet het, watter koffiewinkel haar gunsteling was, haar kêrels, haar vriendinne, haar alles.

’ Piet het dadelik ’n afspraak met die Matthews-gesin gereël en vertel in die boek hoe hy individueel met Rob, Leigh se ma, Sharon, en hul ander dogter, Karen,
gepraat het.’

Rob het Piet verseker Leigh sou nooit saam met ’n vreemdeling in ’n kar klim nie. Dit het hom laat vermoed haar ontvoerder was ’n medestudent.

Dit was ook vir Piet vreemd dat Leigh se kar steeds op die universiteit se parkeerterrein was. Dit het hom verder laat vermoed die moordenaar was iemand wat sy geken het, wat haar daar weggedwing het. Volgens ’n ooggetuie het Leigh alleen oor die parkeerterrein gestap; hy moes haar dus by haar kar gekry het.

Piet verskuif toe sy fokus na die studente, en spesifiek Leigh se klasmaats.

“Rob was al een wat direk met die ontvoerder gepraat het. Hy het my vertel toe Leigh se ontvoerder daardie aand op hom geskree het toe hy per ongeluk verby die aflaaipunt gery het,
het hy gehoor die ontvoerder se aksent is dié van ’n Indiërman.

“Die ontvoerder het vir Rob iets gesê soos: ‘Can’t you fucking understand what’s going on, can’t you fucking read or understand me? ’Toe hy sy humeur verloor, het die ontvoerder ook sy skanse laat sak – en toe hoor Rob sy werklike stem.”

Piet fynkam toe Bond-Universiteit se studentelys vir Indiërname. En daar, tussen die 300 studente, spring die naam Donovan Moodley uit. Die 24-jarige Moodley was boonop heelwat ouer as die ander studente en hy en Leigh het dieselfde vakke geloop, so sy moes hom geken het.

Moodley het in Januarie by die universiteit ingeskryf,maar in April stilweg padgegee. Hy het wel klas
geloop,maar leë toets- en eksamenskrifte ingehandig – sonder om ’n enkele vraag te beantwoord. ’n Maand ná Leigh se ontvoering het hy die universiteitsowerheid laat weet hy kom nie weer terug nie.

“Toe ek dit hoor, besef ek: hier moet jy diep grou, Piet, jy gaan regkom hierso.”

Hy is reguit polisierekenaars toe om Moodley se profiel te trek. “Daai rekenaar wys alles: Jou huwelikstatus, eiendom, of jy al ooit aangekla is van ’n kriminele oortreding, in besit is van ’n vuurwapen.”

Die nasionale vuurwapenregister het getoon dat Moodley ’n 9 mm- Tauruspistool besit het, dieselfde kaliber wapen waarmee Leigh doodgeskiet is.

Soos altyd as hy ’n saak moet uitpluis, gaan sit Piet daardie aand weer by sy gewone dink- en drinkplek in sy tuin. Hy onthou vandag nog presies hoe hy daar gesit het, Amstel in die een hand, sigaret in die ander.

“En ek dink: hoor hier, die ontvoerder moes die ding fyn beplan het; dúidelik het hy dit fyn beplan; sulke afpersingsake wórd fyn beplan. Hy moes iewers naby die ontvoeringsplek gewees het. Dalk het hy by ’n plek ingeboek; hy moes tog iéwers bly. Môre-oggend ry ek na die naaste hotel
aan die universiteit om te hoor of ’n Moodley daar geslaap het.”

Piet het daardie nag nie ’n oog toegemaak nie.Douvoordag is hy na die Formule 1-hotel in Bramley Park, Sandton, waar hy die hotelregister gefynkam het. En daar staan die naam: Donovan Moodley.

“Wragtig met sy ID-nommer én sy kar se registrasienommer.Hy het op 6 Julie ingeboek en betaal vir twee nagte, toe boek hy uit, en kom later weer terug en betaal vir die 8ste en 9de. Ná middernag die 9de – Leigh se ontvoeringsdag – was hy weer terug in die hotel.”

Hy glimlag vir my. “Weet jy, ek het daai aand net so ’n gevoel gekry. Niemand glo dit nie. Almal dink ek het iewers inligting gekry. Nee.” Ná hy toestemming gekry het om Moodley se bankbesonderhede te bekom, het Piet gesien Moodley het vir sy verblyf in die Formule 1 met ’n
kredietkaart betaal.

“Ek kon ook uit die bankstate vasstel Moodley het binne 18 dae ná Leigh se ontvoering drie groot bedrae in sy kredietkaart- en spaarrekening inbetaal: R17 000 op 15 Julie, R15 000 op 27 Julie en weer R7 000 op dieselfde dag.” Piet het gehoor Moodley was met sy Ducati 748-motorfiets in ’n ongeluk.

Die herstelkoste was R38 800. Op 28 Julie het Moodley vir die Ducatihandelaar gesê hy kan nie die volle bedrag betaal nie. Sy woorde was: “Sorry,a deal went wrong, I can’t afford that.”Omdat Moodley ’n gereelde klant was, het hulle ingestem om hom R16 000 korting op die oorspronklike
kwotasie te gee.

Ses dae nadat die losprys betaal is, het Moodley ontwerperskoene vir R850 in Sandton gekoop, R200 aan kitskos uitgegee, R207 in ’n kettingwinkel bestee, vir R171 in ’n familierestaurant geëet, R300 se gesondheidsprodukte gekoop en R757 by ’n motorhandelaar uitgegee.

Minder as ’n maand ná die moord is Moodley, sy meisie, Yeshika Singh, en nog ’n paartjie vir ’n naweek Durban toe waar hulle in die Holiday Inn Garden Court gebly het. Hy het ’n seiljag gehuur en vir Yeshika op die oop see gevra om met hom te trou.

“Die verloofring van R2 969 is sekerlik ook uit die losprysgeld betaal. Van die R50 000 afpersgeld kon ek net R1 500 nie verklaar nie.Dit was dalk kontantgeld vir brandstof.”

Hy bly ’n oomblik stil. “Daar is iets wat ek nog nooit vir iemand gesê het nie…Ek het geweet hulle het ongeïdentifiseerde vingerafdrukke op ’n lottokaartjie in Leigh se kar gekry, asook op bruin kleefband wat op die toneel gekry is waar Leigh gevind is.

“Ek trek toe stilweg Moodley se vingerafdrukke uit die vuurwapendatabasis en vergelyk dit met dié op die lottokaartjie en kleefband.”

Piet gee ’n tevrede laggie.

“Dit wás Moodley. Toe het ek hom. Maar ek het eers doodstil gebly. Twee weke lank het niemand geweet ek het klaar Leigh se moordenaar geïdentifiseer nie.”

Piet wou eers tyd hê om stilweg ander leidrade op te volg en meer oor Moodley uit te vind.Waarvoor hy eintlik aan die snuffel was, was of Moodley enige medepligtiges gehad het.’

Piet vertel meer hieroor in die boek en sê ook: “Ek dink dit was ’n georganiseerde ontvoering, hierdie. Meer mense was betrokke. Ek glo daar was vyf van hulle.” Hy is ook doodseker Leigh is nie doodgemaak waar sy gekry is nie.

Hy vermoed sy is op ’n kleinhoewe in Walkerville doodgeskiet. Nog ’n vermiste bewysstuk was die vierde koeëlpunt – die een wat regdeur Leigh se liggaam is. Piet vermoed die koeëlpunt moes iewers vasgeslaan het. “As ons dié koeëlpunt kry, het ons ’n deurbraak. Dan weet ons waar sy geskiet is, en moontlik waar haar liggaam verkoel is. Dis waarvoor ek steeds duim vashou, ek is eerlik met jou.”

‘Ons ry weg van Walkerville af. Op die hoofweg glip die Hoëveld by ons verby. Dan draai Piet weg Alberton toe; hy wil my gou gaan wys waar Donovan Moodley se ouerhuis is. Tien minute later is ons in Brackenhurst.

Net hier, op die hoek, het hulle hom gevang, wys Piet by die kruising met Klipriviersbergweg. “Ons het hom van sy huis af gevolg; hy was op pad gimnasium toe.”Hy grinnik. “Nou’s hy in ’n ander soort gimnasium, en hy doen ander soort oefeninge …” En nét hier het Piet uit die kar gespring, dienspistool in die hand, Moodley se deur oopgepluk en hom beveel: “Get out!”

“Is jy Donovan Moodley?”

“Yes…what’s wrong?”

En toe, terwyl hy Piet benoud in die oë kyk, sê Moodley die woorde wat groot hoofopskrifte gehaal het: “What took you so long? I was expecting you.”

Moodley het begin bewe, onthou Piet. “Totaal senuagtig. Hy’t gestaan en ruk tot op sy voete terwyl ons vir hom voet- en handboeie aangesit het.’

Hoe het Piet Byl dit reggekry om Leigh se moordenaar binne drie weke te vang en 150 polisiemanne kon dit nie in dubbel die tyd regkry nie?

‘Piet soek die regte woorde voor hy antwoord. “Dit het gehelp dat ek die saak op die ou manier, met gewone speurwerk, van voor af begin ondersoek het. Ek het my van elke detail vergewis, soos om terug te gaan na die toneel toe. Ek dink die polisie het meer staatgemaak op inligting wat hulle van buite af gekry het, eerder as om eie inligting te gaan soek.’

Piet het ook Leigh se motorsleutels, wat Moodley saam met haar ander goed gaan verbrand het, self gaan uittoets. Haar Toyota Tazz was in ’n motorlokaal om verkoop te word. Hy kon die kar oopsluit, aanskakel, en selfs die ratslot oopsluit.

‘Tevrede sê hy: “Só sluit jy ’n moordsaak af.Met aandag aan elke kleinste stukkie detail. Jy maak 110 persent seker die saak is waterdig.”

Terug by Piet se huis gaan haal hy Leigh se fotodossier in die motorhuis. Elize (sy verloofde) kom sluit aan by die stoeptafel. Ja-nee, sy kén daardie laatnag se getob van Piet as hy ’n saak ondersoek, lag sy, en daai Pietding van elke klein stukkie detail.

“Ek het hom al gesien wanneer hy rêrig skaars ’n oog toemaak … Hy raak só gespanne.Dan loop hy op en af, en ek dink dis waar die beplanning inkom. Hy sal buite in die tuin rondstap en ’n beginpunt in sy ondersoek kry. Hy sê altyd hy soek eers die motief. As hy
die motief het, dan weet hy waar om te
begin krap.”

Sy lag. “Kom ek stel dit so: hy’s snags woelig. Ek dink dis oor al die jare wat hy sulke laat nagte gewerk het. Ek sorg altyd dat daar Mariebeskuitjies is, want hy knibbel graag laatnag.”

Ons glimlag saam vir die beeld van ’n superspeurder van reeksmoordenaars wat graag in die middernagure sy tande in ’n Mariebeskuitjie slaan.

“Om saam met Piet Byleveld te bly, het sy voordele,” gaan sy voort.“Dit beteken jy kry soms koffie in die bed, halfvier in die oggend. Met koekies en als.”Dan’s Piet lus vir geselskap, en sy moet maar met ’n glimlag wakker word en saamgesels.

“Kyk, gewoontetjies, die hét hy.’

Die saak is binne twee dae afgehandel nadat Moodley skuldig gepleit het. Piet is spyt daar was nie ’n volledige verhoor nie. Onder kruisverhoor kon hulle dalk antwoorde gekry het op al die raaisels. Hy is ook “amper honderd persent” oortuig dit was nie die eerste keer dat Moodley iemand ontvoer het vir ’n losprys nie. Dit sal verklaar hoekom hy so ’n uitspattige lewenstyl kon handhaaf. En kort ná hy as student ingeskryf het, is R92 000 in sy bankrekening inbetaal. “Dis ’n hengse klomp geld vir ’n werklose student.”

‘’n Ruk ná Moodley se vonnis het Piet hom in die gevangenis gaan konfronteer. “Ek het vir hom gaan sê hy kan nou maar daarmee uitkom: wie was sy medepligtiges? Hy’t so kwaad geword, ek het gedink hy gaan my aanrand.

“Ek wil wéét wie was ook betrokke, waar die lyk gehou is. Ek verpes dit as iemand vir my lieg. Ek kan dit nie vat nie. Moenie my probeer bluf nie. Ek gaan hom kry, ek sál by die waarheid uitkom.

Bykomende bron in die boek: The Star se artikelreeks oor Leigh Matthews.

Donovan Moodley is lewenslank tronk toe gestuur vir die moord op Leigh Matthews. Hy het onlangs vir ’n herverhoor gevra om te bewys wie die eintlike moordenaars is. Hy beweer nou hy het uit vrees om sy lewe sewe jaar lank die waarheid weggesteek en dat drie dwelmhandelaars, ene Frank, Allie en Jemba, hom gedwing het om Leigh te ontvoer.

Dít was ná hul poging om ’n Franse student genaamd Gasper te ontvoer, misluk het. Jemba het Leigh doodgeskiet, al het Moodley hulle gesmeek om dit nie te doen nie, sê hy nou.

Bron: Nuus24

* Hanlie Retief was voorheen by SARIE en is tans die bekroonde skrywer van die Rapport-rubriek Hanlie Retief praat met.

  • Janell Koch

    Ek het die grootste respek vir Piet Byleveld. Dit is my grootste droom om hom eendag te kan ontmoet. Hoe sê hulle dit is op my bucket list. As meer speurders en polisie manne (vroue) maar soos hy kan wees… Hanlie baie dankie vir die boek, dit is defnitief op my kersfees wenslysie en ek weet dis die soort boek wat jy oor en oor sal lees.

  • ybzmrbzbigw

    NgRZr1 gepjphioaxpq, [url=http://obkdgarcrnsn.com/]obkdgarcrnsn[/url], [link=http://ilgdpuwrxzvt.com/]ilgdpuwrxzvt[/link], http://zdvljxzlwopk.com/

  • Rachel Rudolph

    Waar kan mens die boek koop ek wil dit baie graag lees nadat my swaer my van dit vertel het

  • Lindy Walker

    Ek lees op die oomblik die boek en moet net sê dat ek Piet Byleveld salueer vir dit wat hy vir ons land beteken. Dit is ‘n man op wie ‘n mens uiters trots kan wees vir al sy dedikasie regdeur die jare. Baie dankie vir hierdie ingrypende boek. Ek is ‘n 24 jarige vrou en ek kyk op na mnr.Byleveld asof hy my pa kon wees.