FOTO: Phyllis Green

Ons praat met

Elize Cawood: Ek wil SA stories bly vertel

Elize Cawood is ná 40 jaar as aktrise onstuitbaar: resensente het haar geprys vir haar spel in Die Wonderwerker, sy was onlangs in Binneland – en nou kom P.G. du Plessis se Pandjieswinkelstories

Aards. Dis sekerlik die blywendste indruk wat die aktrise Elize Cawood laat. Haar hande is bruin, die handdruk ferm. Sy praat met ’n diep, rustige stem en spreek haar r’e hard uit.
Ek dink nog al die jare aan haar as Pop le Roux. Nou is sy net ’n ryper weergawe van Pop (sy was 30 toe dit geskiet is), wat destyds die land op hol gehad het in wyle regisseur Manie van Rensburg se TV-drama Verspeelde Lente. ’n Onopgesmukte, mooi Afrikaanse vrou met potblou sagte oë en die minimum grimering. Maar dit is waar die ooreenkomste eindig. Pop was ’n plaasmeisie vasgevang in omstandighede. Elize woon al sedert 1979 in Johannesburg. Sy praat wyd – oor ma-wees, liefhê, haar oorwinning oor servikale kanker en toneelspel. Sy het onlangs ’n kort verskyning gemaak as ’n gerehabiliteerde alkoholis, Susanna Meyer, in die sepie Binneland op M-Net. Verlede jaar het sy kritici gaande gehad met haar vertolking van die karakter Maria in regisseur Katinka Heyns se Die Wonderwerker. En binnekort is sy te sien as Han in die toneelskrywer P.G. du Plessis se Pandjieswinkelstories wat in Januarie op kykNET uitgesaai word.

Sy is gek na werk, maar dit is wanneer sy in die grond woel, dit ruik, of plantjies vashou, struike snoei en rose uit haar eie tuin vir die huis pluk dat sy vrede vind, vertel sy. Dit kom al van kleintyd, want albei haar ouers was baie lief vir tuinmaak en het geweet hoe plante met die siel toor. Sy het grootgeword op Bothaville in die Vrystaat. “Ek was ’n plaaskind, ’n closet-boer. My pa het die oulikste tooltjies vir my gemaak – ’n graaf, vurk, pik …” onthou sy. Die naaste wat sy daar, aan die oewers van die Vaalrivier, aan toneelspel gekom het, was voordrag op kunswedstryde. En ballet- en klopdanslesse. Maar sy het altyd geweet daar is iets in haar wat stories wil vertel. Dit was byna natuurlik dat sy in 1969 aan Kovsies vir die vier jaar lange dramagraad sou inskryf.

Altyd maar ’n vrye siel, het sy kleintyd boom geklim, nie juis pop gespeel nie, en bedags saam met haar ouboet, Bromley (’n bekende regisseur van Johannesburg), en pa, Joe, skape kraal toe aangejaag. Die kaalvoet-“klonkies” was hul maatjies, en saans het hulle ma Miem met die groen vingers se regte, egte boerekos geëet. “Ek dink altyd iemand wat ’n blerrie ding kan plant en geduld het om dit te sien groei, het ’n ongelooflike bewustheid van die siklusse van die lewe. Ek en Bromley gesels ook plante en blomme as ons saamkuier. Dis lékker.”

Maar daar waar sy, Wilson (Dunster, haar akteur-man) en hul musikantseun, Luke, in Linden, Johannesburg woon, het sy nie ’n ontwerperstuin nie. “Nié ’n colour-coordinated number nie. Dit is mal en deurmekaar. Dit wat wil groei, groei.” Terwyl sy haar plaatkoekie met spek en stroop eet, val Allie de Graaf, eienaar van Cuppa Café in Melville waar ons gesels, gou in: “Ek luister nie gewoonlik onderhoude af nie, maar weet jy, jý is soos ’n Meryl Streep. Jou spel is altyd eerlik, opreg. Jy speel onselfsugtig.” “Dankie, dit is sekerlik dié grootste kompliment.” Geen valse beskeidenheid nie, maar ook nie opgeblase nie. Sy dink mooi voor sy praat, maar sy is emosioneel vrygewig. ’n Vrou wat geleer het om die op- en die afdraandes van menswees te hanteer en saam met die ritme van die lewe te
beweeg. Sonder geite – veilig geanker in haarself.

Jy het die eerste keer in 2004 ’n draai in ’n sepie gemaak, in M-Net se Villa Rosa. Isidingo het in 2009 gevolg. En in Oktober vanjaar was jy in Binneland. Wat dink jý van die genre?
Ek was heel in die begin in Villa Rosa en dit was moeilik, want almal moes hul voete vind. Ná agttien maande op stel, elke dag, van sewe soggens tot sewe saans, wou ek van my kop af raak. Jy het nie ’n lewe nie. Ek het toe gewaai. In Isidingo was dit veral lekker om saam met my dogter, die aktrise Jenna, te werk. Maar dit is nie ’n grap in daardie SAUK-gebou in Aucklandpark nie. Dit is ’n siek gebou. Vrot! Iemand het my gevra om ’n radiodrama te doen toe ek siek was met servikale kanker in 2006 en my onkoloog het my verbied om daar op te neem. Jou kans om kieme daar op te tel is net te groot – veral as jou immuniteit nie goed is nie.

My karakter in Binneland was uitdagend. Dit is ’n tragedie dat die streeksrade in die middel van die negentigs gevou het. Dít is waar die jong akteurs hul vaardighede ná hul studies geslyp het. Daarna het sepies oorgeneem. Dit slyp vaardighede op ’n ander manier, maar laat baie met die valse indruk dat wanneer jy ’n celeb is, is jy ’n goeie akteur en dan hoef jy niks verder te doen nie. Dit is jammer!

Wat onthou jy van die rol van Pop le Roux in die 1984-TV-reeks Verspeelde Lente?
Dit was ’n universele storie van ’n jong vrou wat vasgevang was in benarde omstandighede in die depressiejare. Haar enigste uitkoms was om met ’n ryk boer, Jan Greyling, te trou, hoewel sy lief was vir die arm Manie Cronjé. Landwyd kon mense identifiseer. Manie van Rensburg was ’n ongelooflike regisseur. Sy beste raad aan my was “eenvoud is die sleutel tot alles” en “moenie truuks probeer nie”. Hy het ook geglo jy moet jou karakters se geskiedenis verstaan. Dit was fisiek ’n uitdagende rol. Ek moes blerrie kaalvoet loop oor Karoo-klippe en die perdry was moeilik. Eers moes ek ’n swanger merrie ry wat nie hou van ’n stang in haar mond nie. Toe kry ek ’n karperd en my voete sleep op die grond. Dis nie soos Hollywood waar perde afgerig word vir movies nie. Maar daar was soveel chemistry tussen die akteurs. Uit dít het onder meer gevolg my eenvrouvertoning Schreiner – A One-woman Play deur Stephen Gray, met Lucille Gillwald as regisseur, en The Road to Mecca, met regie deur Athol Fugard. Dit was goed vir my loopbaan.

Gaan jy en Wilson vanjaar weer die klug Dinner for One opvoer?
Nee, ons lywe kan nie meer nie. Van 2007 tot 2009 het ons die klassieke Dinner for One gedoen. Daarna het ons ’n SA weergawe, Dinner for One, Too, geskryf, waar Wilson Miss Sophie en ek James, die butler, gespeel het. Ek het gedink ons gaan net twee weke repeteer, maar ons het uiteindelik ses weke gerepeteer. Dit was van die moeilikste stukke nog, hoewel dit slegs twintig minute lank is. Jy moet sestien heildronke instel en raak so deurmekaar. Gelukkig is ek en Wilson baie besig. Hy werk nou aan Vlug na Egipte. Niemand weet nog waar of wanneer dit uitgesaai gaan word nie.

Hoe het ma-wees jou geslyp?
Dit maak jou weerloos. Jy is so gelukkig of ongelukkig soos jou gelukkigste (of ongelukkigste) kind. Dit is die wonderlikste ding om ’n ouer te wees, maar nie altyd maklik nie. Die hoogtepunte maak dat jy die laagtepunte vergeet. Hulle hou jou voete op die grond. Ek en Jenna het ’n oop verhouding. Ons is mal en laf saam. Luke is my introvert-seun wat musiek studeer het en nou in ’n restaurant werk, ’n wonderlike siel. As ek nie kinders  gehad het nie, sou ek nie ’n baie nice mens gewees het nie. Vanjaar is Kersfees weer vir ons ’n dag van saamwees met familie en vriende waar ons rustig in die tuin eet en kuier.

Servikale kanker is op Vrydag 13 Oktober 2006 by jou gediagnoseer – hoe het dit jou lewe verander?
Dit was nag, toe dag, en nou is dit verby. Dit was nie maklik nie. Ek het niks makeer nie en toe is ek skielik so siek soos ’n hond van die chemo en bestraling en alles is gat oor kop. Dit het my tot stilstand geruk. Dit was onbeskryflik om te sien wat dit aan my mense gedoen het. En ek het net geweet ek ís omring deur die regte mense … Jy leer jou ware vriende ken. Dit is ’n natuurlike uitsorteerproses. Ek het vreeslik begin lees aan die Dalai Lama se goed. Ek is nie juis analities nie. Maar een dag kort ná my laaste behandeling, toe ek “af ” was, het ek in die tuin gesit en ’n klomp rooibek-kakelaars op die telefoondraad gewaar. Toe ek hul lawwigheid sien, het ek ’n gedig geskryf oor wat ek het: ’n wonderlike man en kinders, lieflike huis, goeie vriende, heerlike werk, bome, plante, derduisende voëls, die son wat skyn, maan en sterre in die lug. Ek’t besef my beker loop oor. Soms slaan die negatiewe my soos ’n vuishou tussen die oë, maar dan moet ek dit hanteer. Soms doen ek dit nie op ’n positiewe manier nie, maar dan moet ek dit steeds hanteer en ek kom altyd daardeur.

Die rolprent-resensent Barry Ronge reken jou spel as Maria in Die Wonderwerker, wat verlede jaar uitgereik is, is van jou beste nog …
Daar is betreklik min geskiedkundige inligting bekend oor Maria. En wat daar is, is bloot oor haar verhouding met Eugène Marais, dat sy vir hom pille gegee het en naar met hom was. En dat sy, anders as ek, fisiek ’n gróót vrou was. Ek en Katinka, wat ’n vrygewige regisseur is en nooit ophou om jou uit jou gemaksone te ruk nie, het vooraf besluit ek gaan baie vryheid kry om haar te vertolk. Dit was lékker. Byna soos ’n Tsjekof-karakter met vele lae, waar die subteks belangriker is as wat jy sê. In Die Wonderwerker was almal verlief op die verkeerde mens, niemand se liefde is beantwoord nie. Katinka het die vermoë om presies duidelik te maak wat sy soek. Sy kan waarskynlik elke karakter beter as die akteurs vertolk. Sy is nooit kwaai nie. Dít sal die kreatiewe proses bloot demp. En sy is so classy. Al haar rolprente is kunsfilms. Wát ’n mentor!

Wat is die belangrikste lewensles wat die toneelbedryf jou geleer het?
Jy weet nooit wat môre gaan gebeur nie. Ek het in Februarie vanjaar gewerk. Maar nie ek of Wilson het in Maart, April of Mei ’n sent verdien nie. Dit skep ongelooflike stres. Maar op ’n manier het ons al die jare oorleef. Jy haal geldelik miskien nooit in nie, maar jy moet leer hoe om dinge soos kunstefeeste te benut. In 1995, toe die streeksrade gevou het, het akteurs se inkomste met sowat 75 persent geval en baie van ons het nie geweet hoe om self werk te skep nie. Die jong generasie akteurs kry dit taamlik goed reg. Daar is geleenthede. Jy moet kyk watter deure gaan oop en ingaan. Die dae toe die werk na jou toe gekom het, is lankal verby.

Hoe berei jy voor vir ’n rol?
Ek werk my dinges af. Ek lees en lees en lees totdat ek presies weet wat in die teks gebeur. Dán eers begin ek my woorde leer. In ’n sepie maak dit nie soseer saak of jy alles
verstaan wat voor of ná jou toneel gebeur nie. ’n Goeie regisseur behoort jou te lei. In historiese reekse doen ek hope navorsing. Ek raak so de wetter in as mense dink hulle moet nét hul woorde leer en goed lyk op die TV-skerm. Jy kán nie goeie werk lewer sonder goeie voorbereiding nie.

Die rolprent-resensent Leon van Nierop wonder hoe jy dit regkry om soomloos te verander van komedie na drama na onderspeelde dramatiese vertolking?
Ek dink eenvoudig nie so daaraan nie – ek benader al my werk eerlik, eenvoudig en met groot toewyding. Ek dink ook dit is ’n bietjie pretensieus om ’n onderskeid te tref tussen toneelspel vir televisie, die verhoog of rolprente.

Katinka Heyns vra waar kry jy jou sin vir humor?
Albei my ouers het baie gelag. Ek onthou nog hoe ons hulle saans hoor lag het in die bed. Ek en Wilson doen dit ook. Ons lag vir presies dieselfde dinge – onheilige goed, ons het
nogal ’n donker sin vir humor. My pa se humor was baie droog en my ma was meer van ’n ekstrovert.

Hoekom werk jou en Wilson se verhouding ná 34 jaar saam?
Ons is albei ’n bietjie mal. Ek het ook ’n ongelooflike bewondering vir die manier waarop hy werk. Ek is nie ’n vreeslike prater nie. Ek luister. Maar oor werk kan ons praat en praat en praat. Ons stem saam oor ouerskap. Hy is goed met dissipline, ek is die softy. Ons is so anders, maar ook so eenders. Ons gesin is baie temperamenteel en geweldig emosioneel. Ná 31 jaar se getroude lewe en 34 jaar saam is hy steeds my beste vriend, my liefde en lover.

Wou jy ooit oorsee gaan werk?
Wilson het al honderd keer die kans gehad en elke keer huis toe gekom. Jenna het ’n twee jaar gap gehad in Londen en ons het gesê bly, studeer daar, maar sy kon nie ’n studievisum kry nie. Toe sy terugkeer na Suid-Afrika, het haar loopbaan vlam gevat. Ek sien myself nét hier, waar ek Suid-Afrikaanse stories kan vertel.