www.elizmatheron.co.za

Ons praat met

Elizma Theron gesels oor swangerskap

Die sangeres Elizma Theron gesels met SARIE.com oor haar swangerskap en hoe sy voorberei vir Eli-zé se koms.

Hoe berei hy voor vir Eli-zé se koms?

Ek lees soveel moontlik oor alles en nóg. Ek kry sulke oomblikke waar my keel toetrek as ek wonder oor iets, dan gaan lees ek daaroor en dít maak my rustiger. En ek bid baie – oor en vir haar, én vir my en Nico as ouers. Ek weet Hy sal ons help en lei.

Waaroor is jy bekommerd as Eli-zé eers hier is?

Ek het nou die dag by my ooievaarstee ’n pragtige babadogtertjie gesien wat net 2 weke oud is. En toe besef ek skielik weer hoeveel ongelooflike verantwoordelikheid jy as ouer het. Ek het na haar gekyk en net gewonder hoe jy so ‘n dingetjie groot kry. Ek bid dat sy gesond is – liggaamlik, emosioneel, geestelik en verstandelik.

Dan bekommer ek my verder oor goed wat nog ver in die toekoms is. Ek wil nie hê sy moet seerkry nie, alhoewel ek weet dat dit onvermydelik is. Ek bid dat sy die regte man sal kry, gesonde kinders sal hê, kan doen waarvoor sy lief is en sukses daarin bereik. Daar is ’n miljoen goed waaroor ek niks beheer het nie.

Ek dink wat my die bangste maak, is die liefde wat ek klaar vir haar voel en die feit dat ek eintlik geen beheer het nie … ek kan net bid en vertrou die Here sien my vrese en my drome vir haar. As jy doen wat jy kan, sal die Here doen wat jy nie kan nie.

En wat maak jou die meeste opgewonde?

Wel, in hierdie stadium net om haar te sien en vas te hou en dan later te sien wat haar persoonlikheid gaan wees. Ek is opgewonde om haar te leer ken! Ek sien daarna uit om ’n gesin te wees.

Hoe verskil swangerskap van dit wat jy gedink het dit gaan wees?

FOTO: Facebook

FOTO: Facebook

Ja, dit verskil baie, want jy kan dit met niks vergelyk voor jy self swanger is nie. Ek het sover regtig ’n ongelooflike lekker swangerskap. Ek het verwag om naar te word en baie moeg te wees, maar ek is baie dankbaar dat dít my nooit getref het nie.

Ek moes onlangs my ma bel en vra hoe voel dit om sooibrand te hê, want ek het dit nog nooit gehad nie. Ja, en nou het ek daagliks sooibrand. Dit is nou een van die minder lekker dele.

Ek kan ook nou deesdae myself voel waggel eerder as stap. En ek steun soos ’n ou mens as ek opstaan, maar dan gee sy so ‘n paar skoppe en alles is vergete. Ek het van die begin af vir myself gesê: Swangerskap is ’n wonderwerk en nie ’n siekte nie.

Sal jy volgende keer iets anders doen?

Daar is nie iets wat ek dink ek anders sal doen nie. Ek geniet my swangerskap – die goed én sleg.

Lees volgende week weer op SARIE.com wanneer Elizma praat oor haar swangerskapraad, Nico as pa én die laaste voorbereiding.

Lees nóg oor Elizma en ander SA bekendes se swangerskappe

Elizma se baba-magie in Desember: