FOTO: Verskaf

FOTO: Verskaf

Ons praat met

Elizma Theron gesels oor vrede, vergifnis – en haar gewig

EK HOOP

om nog eendag die kruin van my loopbaan te bereik en om met my nuwe CD, wat volgende jaar uitgereik word, nog ’n trappie hoër te klim. Dit het nog nie ’n naam nie.

dat ’n onlangse lewenskrisis my nog nader aan God sal laat groei en my sal help om op te staan as ek dink ek het nie die krag om dit te doen nie.

die lewensvreugde en vrede wat my al weke vul, hou aan, want ek kan nie ophou lag nie.

om nog as mens te groei, ’n beter mens te word wat eerder vir ander ’n seëning sal wees as om net te kla.

om nie te vra hoekom dinge gebeur nie, want jy kry altyd later eers die antwoorde.

om te leer uit elke situasie en om die vermoë te behou om te besluit wat goed is vir my.

my drome van ’n gelukkige huwelik en kinders wag in die verre toekoms op my. Ek wil my loopbaan dan al gevestig hê sodat my gesin my prioriteit is. Ek wil ’n sielsmaat en anker hê, en ’n gelukkige huwelik, soos my ouers s’n, wat vir ewig hou. Ek glo die Here ken my hart en sal die regte mens op my pad stuur.


EK IS BANG

vir die onbekende, maar dit het my nie afgeskrik toe ek van Kuruman gekom het om in die musiekbedryf te werk nie. Dit was vreemd om in Jakhalsdans voor die kameras te wees, maar deur die onbekende te betree het ek nuwe deure oopgemaak.

ek kan dalk nie voortbou op my sukses nie. In die begin van jou loopbaan het jy niks om te verloor nie, maar as jy eers ’n bietjie sukses bereik het, word die dwarslat ál hoër.

ek stel my bewonderaars teleur en daarom sorg ek dat my beeld skoon bly. Dis hoekom ek ontsteld was toe die media beweer het ek is te maer en het anoreksie, want ek wil ’n voorbeeld stel vir my aanhangers en hul dogters deur gesond te wees.

om my private lewe openbare besit te maak omdat soveel ander glansmense al hul vingers verbrand het.

WAT EK NOU WEET

Nadat ek ’n paar jaar gelede gekaap is en ek en my sussie ’n paar weke gelede by ’n kruising in Pretoria-Oos deur ’n gewapende man beroof is, weet ek God is altyd by my en beskerm my.

Jy kan dit nie bekostig om mense altyd te probeer tevrede stel nie. Jy hoef jou nie te laat oordonder en bombardeer nie. Jy kan jou man staan sonder om onbeskof te wees. Ek is sensitief, maar sal my nie laat oortuig om iets te doen waaraan ek nie glo nie. Ek wil ’n God pleaser en nie ’n people pleaser wees nie.

Ná ses jaar weet ek die vermaakbedryf is hard. Jy moet wérk om bo uit te kom. Groepsdruk het my nog nooit beïnvloed nie en ek weet om na die regte mense te luister, maar nie na almal nie. Ek luister na my hart.

Eers het ek dit nie goed hanteer nie, maar nou kan ek kritiek van my laat afrol. Dit was vir my sleg as iemand nie van my hou nie, maar nou kan ek onderskei tussen kritiek waaraan ek my moet steur of nie.

Elke krisis maak jou sterker en leer jou lewensvaardighede.

Ek het al as model oorsee geleer jou loopbaan is wat jy doen en nie wie jy is nie. Ek hoef my nie oor te gee aan die groepsdruk van die vermaakbedryf om suksesvol te wees nie. Ek het destyds vir God gevra Hy moet my nie suksesvol laat wees as dit my negatief gaan verander nie. En dit het nie.

Om jouself die hele tyd te meet aan ander se sukses sal jou mal maak. Ek kan my net aan myself meet.

Vriende en familie hou jou geanker. My vriende is my familie in die stad omdat my gesin so ver van my is. Vriende dra jou as jy ’n krisis beleef. Hulle droog jou trane af sonder om te sê: “Ek het jou mos gesê.” Party lag saam met jou, sommige is sielsgenote en ander huil saam of gee logiese raad. Ek weet ook dat ek van my kant vir hulle ’n seën moet wees. Ek gee baie van myself.

Dis oukei om te glo aan mense. Nie almal stel jou teleur nie. Ek steur my ook nie aan mense wat nie van my hou nie. Ek bly hoflik en vriendelik, want ek weet dit stel vir hulle ’n voorbeeld.

Ek sou nie deur moeilike tye gekom het sonder my geloof nie. Dit dra my. Ek sal nie my geloof vergeet as dit met my goed gaan nie.

Dis vir my maklik om te vergewe, maar nie om te vergeet nie.

As die media onwaarhede oor my skryf, kan ek dit nie verander nie. Dis soos ’n kussing vere wat in die wind uitgeskud word. Ek weet wie en wat ek is. Dis ál wat saak maak.

  • Charmaine Matthasen

    Dat sou ‘n jong juffer vir ‘n sestig plusser vandag ‘n les geleer het!
    Ons hoef nie almal te please nie net vir GOD…..
    Om tevergeet is om te vergewe….
    Onthou ook God se stiltes is sy antwoorde….

  • milly du plessis

    milly du plessis Doen jou bes God sal die res doen

  • Liesel Grobler

    Jakhalsdans is een van my gunsteling films. Ek staam met Elizma dat sy nie haar privaat lewe aan almal hoef te verkondig nie. Jy is baie volwasse Elizma en ek glo jy gaan nog baie hoë hoogtes bereik!

  • riana

    Elizma jy is pragtig en solank jy weet dat jou lewe aan die Here behoort hoef jy net op te kyk na Hom en nie na mense en wat hulle se te steur nie, sterkte

  • Nadia

    Jakhalsdans is so nice en jyt ongelooflike acting vermoe. Jy moet defintief dink aan nog flieks jy sal goed wees daarmee. Hierdie woorde is pragtig en so inspirerend. Hou vas aan God en waarin jy glo! Jyt onlangs my ma vorige huis ingetrek ek kan nie glo n celeb het hom gekoop nie, dis so cool… hoop jy bly baie lekker!!!