FOTO: Phyllis Green

Ons praat met

Elma Smit deel van groot verandering by 5FM

Die radiostasie 5FM se program word binnekort aangepas en die radio- en TV-aanbieder Elma Smit speel ’n groot rol in die stasie se nuwe planne.

Sedert Gareth Cliff, wat die stasie se ontbytprogram aangebied het, verlede week sy uittrede by 5FM bekend gemaak het, het die stasie groot veranderinge begin aanbring. Een van dié veranderinge is ’n nuwe aanbieder vir die stasie se middagprogram, die Drive Show. Roger Goode, wat tans vanaf seweuur in die aand op 5FM is, begin vanaf 5 Mei om in dié tydgleuf aan te bied. En Elma Smit tree op as sy vervaardiger.

“Die vervaardiger is soos die argitek en die DJ soos die bouer van ’n gebou,” verduidelik Elma. Sy sê hoewel alles maklik en natuurlik oor die radio klink, verg dit gewoonlik baie beplanning.

“Ek genereer die idees waarop die inhoud geskoei is, ek bespreek gaste en soek alewig na vars, nuwe klanke, planne en wilde streke om die program so interessant en vermaaklik as moontlik te maak.”

Elma deel haar foto-album

Sy praat met SARIE.com oor die uitdagings en verantwoordelikhede van haar nuutste posisie. Én hoe ’n Afrikaanse meisie by ’n Engelse radiostasie oorleef …

Waarna sien jy die meeste uit van dié uitdaging?

Ek’s nog altyd ’n geweldige groot aanhanger van Roger se program op 5FM en lag lekker vir al sy streke op radio. Hy’s volgens my een van die beste, snaaksste en interessantste aanbieders op Suid-Afrikaanse radio. Om saam met hom aan ’n program in een van die grootste tydgleuwe op 5FM te kan werk, is ’n droom van my wat waar word. Ek het vir my elfde verjaardag ‘n radio gekry en luister sedertdien nog altyd na 5FM as ’n ywerige luisteraar en later ook as ’n lid van die span – eers agter die skerms, en die laaste paar jaar ook op die lug.

Elma by (van links) Vic Naidoo, Thomas Msengana & Thato Moeng FOTO: Instagram (@elmakapelma)

Elma by (van links) Vic Naidoo, Thomas Msengana & Thato Moeng.
FOTO: Instagram (@elmakapelma)

Vyf goed wat jy nie van Elma geweet het nie

Die kans om met luisteraars te praat, mense te vermaak, te lag tot die trane loop en lekker musiek te speel, is onverbeterlik. Om dit ‘werk’ te kan noem voel steeds soms half onwerklik, aangesien ek op skool en universiteit as vrywillger by gemeenskap- en kampusradiostasies gewerk het – verniet! Ek geniet radio as ’n medium geweldig baie, want dis so onmiddellik, dis baie persoonlik (ek praat vanweë die aard van die medium baie meer oor wat in my eie lewe gebeur op 5FM as wat ek ooit op Dagbreek of Boots & All sal) en die trant waarna ons streef by 5FM laat dit voel asof elke middag Vrydagmiddag is!

En die moeilikste deel daarvan?

Om selektief te wees, want sodra die span in ’n vertrek bymekaar kom, borrel die mal idees en ons moet onsself herinner dat ons nie heeldag op die lug is nie, maar net vir ’n paar ure.

Watter bydrae wil jy tot die program maak?

Die lekker ding van by 5FM werk, is dat hoewel ek die enigste Afrikaanse meisie op die lug is, ek nogtans die geleentheid kry om my unieke agtergrond, perspektief en sin vir humor na die geselskap te bring. As Suid-Afrikaners is daar so baie wat ons uit mekaar se verskillende kulture kan leer en daardeur ’n ryker (en snaakser!) ervaring vir ons luisteraars kan skep – dis ’n baie ryk en genuanseerde gesprek.

Hoe verskil jou ‘radiostem’ van jou alledaagse stem?

Ek het regtig nie ‘n radiostem nie. Ek dink veral by ’n persoonlikheidsgebaseerde stasie soos 5FM is dit belangriker wat jy sê, as die stem waarin jy dit sê.

Is dit moeilik om as Afrikaanssprekende in Engels te werk?

Dis vir my lekker om in Engels te werk, ek kry die geleentheid om met jong nie-Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners te gesels – en dis allermins ’n eenrigting-gesprek. Ek’s nogal bewus van die feit dat ek dalk die enigste Afrikaanse meisie is aan wie se idees, opinies en sin vir humor die luisteraar dalk vandag blootgestel word, en ek neem die verantwoordelikheid ernstig op om ’n verteenwoordiger vir 5FM maar ook vir Afrikaanse mense te wees waarop hulle trots kan wees, met wie hulle kan identifiseer of wat hulle ten minste sal vermaak.

Hoe het jy geleer om in Engels op jou voete te dink?

Ek is mos met ’n Engelsman getroud, so dis gelukkig tweede natuur! Dit beteken egter nie dat ek nie ’n Afrikaanse aksent het nie. En ek hou daarvan dat ek Afrikaans klink, want dis wie ek is. Dis deel van my identiteit.

Sedert ek Johannesburg toe verhuis het, het ek ook baie meer anderstalige vriende gemaak en ek geniet dit om in hierdie kosmopolitiese stad met soveel uiteenlopende vriende en kollegas en hul onderskeie kulture kennis te maak. Ek het baie geborge grootgeword en dan loop ’n mens soms die risiko om onbewustelik ‘n eng lewensuitkyk te hê.

Wat sal jou keuse wees as jy tussen radio en televisie moet kies?

Ek hoop regtig dat ek nooit tussen TV en radio sal hoef te kies nie. Dis nogal baie anders, veral met die groot verskil tussen platforms soos kykNET, 5FM en SuperSport. Dis juis dié verskeidenheid wat my op my tone hou, en ook wat my werk vir my opwindend maak.