FOTO: Phyllis Green

Ons praat met

Elma Smit praat oor BeeldTV PLUS wys haar foto-album

Sedert Oscar Pistorius op 3 Maart in die hof verskyn het op aanklagte van moord, is Elma Smit ook elke weekdag in gesprek met regskenners op BeeldTV.

Elma, wat ook ’n aanbieder by kykNET se Dagbreek en op SuperSport is, is die ideale TV-persoonlikheid om dié YouTube-program van die dagblad Beeld aan te bied. Nie net het sy ’n honneursgraad in joernalistiek aan die Universiteit van die Witwatersrand verwerf nie, sy het ook ’n regskwalifikasie aan Maties verwerf.

“Dit voel vir my asof ek uiteindelik my joernalistieke honneurs en my regsgraad prakties kan toepas,” sê sy oor dié ervaring. Op BeeldTV is Elma nie bang om “dom” vrae vir regskenners te vra nie, juis omdat sy oor joernalistieke vaardighede én regskennis beskik.

“Ek weet die ingewikkelde woorde wat die kenners gebruik, kan eintlik in maklike woorde gesê word. Dit maak dit vir my maklik om vrae te vra sonder om die punt te mis,” sê sy. Vir Elma is dit belangrik om “leke-vrae” te vra sodat sy kan verseker dat die saak toeganklik is vir haar gehoor, wat nie noodwendig dieselfde kennis van die reg het nie. Daarom probeer sy om die hofverrigtinge volledig te volg voordat sy drieuur in die middag na Beeld se kantore in Auckland Park gaan.

“Dan praat ek en die tegniese span oor die invalshoek vir die aand se program, die gaste, die belangrike gesprekspunte … dis ’n groot samewerkingsproses!”

Sy verduidelik dat daar by Dagbreek ’n span inhoudsvervaardigers is wat gewoonlik by dié skeppende proses betrokke is, terwyl sy bloot die grondwerk doen.

“Maar nou dra ek ook die vervaardigershoed en dis ongelooflik lekker. Dis baie uitdagend en belonend, veral as al die harde werk uitwerk,” sê sy, en voeg by dat sy nou ekstra waardering vir die Dagbreek-span het.

Juis omdat Elma, wat by BeeldTV meer insae het in die inhoud van die program as by Dagbreek, nou so baie op die Oscar-saak fokus, probeer sy om af en toe ook te ontsnap.

“Dis vir my lekker om te ontsnap na SuperSport of 5fm en ‘n bietjie oor rugby te gesels,” sê sy.

BeeldTV word nog tot Donderdag elke aand om 18:00 op YouTube uitgesaai. Van volgende week af word dit egter ’n weeklikse program wat Woensdagaande om 18:00 regstreeks uitgesaai word. Kyk dit hier.

Van toe tot nou: Elma se foto-album

Op gradedag by my vriendinne Azille Coetzeen en Catrina Aldrich

Op gradedag saam met my vriendinne Azille Coetzeen en Catrina Aldrich.

Ek en Richard (haar man) op ons troudag, 19 Maart 2011

Ek en Richard op ons troudag, 19 Maart 2011.

Ek speel graag golf

Ek speel graag gholf.