FOTO Katarzyne Willemse

Het jy gehoor?

Elsabé Daneel kuier in Suidooster

Net soos die suidooster Kaapstad kom skoon waai, so bring Suidooster ook nuwe karakters in om by Ruiterbosch te kom kuier. En een van hulle is die bekroonde aktrise Elsabé Daneel.

Ja, Elsabé gaan ’n tyd lank deel wees van dié kykNET-sepie, wat in die Moederstad vervaardig word. Sy gaan op 21 Maart haar eerste verskyning maak.

Elsabé vertel sy hou van somer, verkies Mozart bo Beethoven, eet graag sjokolade, is op haar gelukkigste in die bosveld, en Judy Davis is haar gunsteling-aktrise. En haar gunsteling- Afrikaanse woord? Ginnegaap.

SARIE.com het gaan inloer by hierdie talentvolle aktrise.

1. Hoe voel dit om weer op ’n sepie-stel te wees en dít in die Kaap?

Dis altyd lekker om in ’n sepie te wees want dit is ’n uitdagende medium om in te werk. Jy moet goed gefokus wees en fyn konsentreer. Stamina is belangrik want dis lang ure en intens, maar dis heerlik! Wat wonderlik is, is dat jy deel is van ’n groot familie. By Suidooster is die omgewing uiters professioneel terwyl dit ook baie koesterend is. Dis regtig ’n span wat nie net vinnig en effektief werk nie, maar boonop omgee vir mekaar. Dis vir my baie opvallend dat hier geen venyn of irritasies is nie en almal span saam ter wille van die eindproduk.

Dan is dit natuurlik ’n heerlikheid dat dit in Kaapstad is – dit voel of ek volsirkel kom. Ek is gebore in die Kaap en ken die stad op die punte van my vingers. Ek verstaan ook al die kulture van die Kaap. As kind het ek saam met my pa in Distrik Ses gekom en hy het my geleer dat die Moslem- en bruin kultuur deel is van die Afrikaanse kultuur. Só het ek onder meer saam met hom Moslem-troues bygewoon en selfs Moslem-maatjies gehad. En nou met Suidooster waar ’n Moslem-gesin ’n sentrale rol speel, is dit of al die kaarte van die hede en verlede saamval.

2. Jy mag nie te veel verklap oor jou karakter nie, maar wat is die grootste uitdaging van die rol?

My karakter, Estelle Fourie, is ’n grensverskuiwer en glad nie stereotipies nie. Sy is Bianca (Simone Biscombe) se aanneemma en Carmen (Desiré Gardner) se ma. Estelle is ’n dapper en eerlike vrou wat getrou is aan haarself. Sy is verknog aan haar kinders, maar gee hulle steeds ruimte om hulself te wees.

FOTO Suidooster

FOTO Suidooster

3. As jy enige karakter in ’n bestaande rolprent kon vertolk, watter een sou dit wees?

Elizabeth die Eerste, of Anne Boleyn! Ek sal verskriklik graag in ’n historiese drama wou wees.

4. As jy in ’n hysbak vassit en drie mense is saam met jou, wie moet dit wees? 

My dogter, Roeline, vir seker, en my twee seuns, Pieter en Xander. En ek hoop daar is plek vir my hond ook!

5. Enige ander opwindende projekte in die pyplyn?

Vir die Suidoosterfees het ek opdrag gekry om ’n baie uitsonderlike produksie te doen, MarimbaMakietie. Dit wys op 28 April om 17:00 die eerste keer. Die tema van die fees is Legendes – so ons vat legendariese musiek van legendariese komponiste en sangers en kombineer dit met legendariese digters. Die kunstenaars is ’n marimba-orkes uit ’n agtergeblewe gemeenskap op Grabouw. Ek en Fatima Dike doen die gedigte in Afrikaans, Engels en Xhosa. Dis ’n fusie tussen musiek, dans en gedigte. Dan bied ek natuurlik slypskole in kommunikasie- en projeksievaardighede aan – onder meer by Maties en korporatief landswyd.

Kyk net hoe mooi lyk Elsabé en haar twee TV-dogters, Desiré Gardner en Simone Biscombe.

A post shared by Elsabe Daneel (@elsabe_daneel) on

Lees nou

Só lyk Trevor Noah se R130 miljoen-woonstel

Alicia Vikander sny lokke af

Nataniël: 30 jaar in die bedryf