roeline_daneel_005
Ons praat met

Elsabé Daneel se aktrise-dogter ‘n ‘nerd’ met woema!

As kind het Roeline (27) twee prentjies geteken van wat sy “eendag” wou word: een waar sy voor ‘n swartbord staan en skoolhou, met “Franse rewolusie” (ja, met ‘n w!) daarop geskryf. Op die ander waar sy op ‘n strand loop voor TV-kameras, met ‘n serp om haar nek wat in die wind wapper.

Dis “eendag” . . .

Onlangs was sy te sien as Anika, die dogter van die hoofkarakter, Francois (gespeel deur Deon Lotz), in die rolprent Skoonheid. Dit was haar vuurdoop voor die kamera.

Tans speel sy in die kykNET-sitkom Oupa en Ouma sit op die stoep en binnekort begin hulle aan ‘n tweede reeks skiet.

“In dié sitkom speel ek die rol van Anna, Stanley (Johan Botha) en Debora (Lida Botha) se susterskind wat by hulle woon. ‘n Lekker rol omdat sy die oog van die storm is in die chaos wat Stanley en Debora se lewens is. ‘n Sitkom is ‘n lekker uitdaging omdat die spel iets tussen die teatrale verhoog en die natuurlikheid van ‘n dramareeks is.”

Roeline het die grade B.Drama en Hons.B.Drama albei cum laude aan die Universiteit van Stellenbosch geslaag, asook haar honneursgraad in die joernalistiek.

“Ek is maar bietjie van ‘n nerd . . .”

Sy het eindelose bewondering vir die aktrise Antoinette Kellermann, wat haar dosent op Stellenbosch was. “Sy sal altyd my hero bly. Dit was wonderlik om in 2009 haar dogter te speel in Die blou uur. Ek bewonder die erns, respek en beskeidenheid waarmee die ouer akteurs soos sy en my medespeler Isadora Verwey in Mooi Maria, met hul werk omgaan. Baie jonger akteurs het dikwels meer van ‘n fake it ’til jou make it-benadering, ouer akteurs ken die waarde van werk!”

Nes haar eie ma. Elsabé het ‘n gróót invloed op haar dogter se loopbaankeuse gehad. “Hoewel my ma tydens my grootwordjare meer ‘n TV-aanbieder as aktrise was. Sy het wel cameos in TV-reekse gehad en dit was vreeslik glamorous vir my. Ons het al saam in radio-dramas en in ‘n toneelstuk, Die ryk weduwee, gespeel. Ek bewonder altyd haar toegewydheid. Haar teks waarop sy haar woorde leer, is letterlik ‘n slagveld van verskillende kleure highlighters en post-its!”

Ma en dogter: Elsabé en Roeline Daneel

Roeline bewonder ook haar ma se onblusbare positiwiteit. “Sy is ‘n glas-half-vol-tipe-girl. Ek probeer nog om daardie eienskap aan te leer. Niks is ooit vir haar te erg of te verskriklik nie. Sy het onblusbare energie en sien altyd kans vir alles. Sy het my ook geleer om álle mens interessant te vind, hoe om soos ‘n tierwyfie te baklei vir wat vir jou belangrik is. En hoe om my veters vas te maak.”

Ma en dogter kan ure aaneen gesels. “Ek deel alles met haar. Onlangs, op pad na die Oudtshoorn-kunstefees, het ons tien uur lank daarheen gery en orals gestop en gesels. Ons dien as mekaar se klankborde.”

Roeline droom groot. “Ek wou nog altyd Helena in A Midsummer Night’s Dream van Shakespeare speel. Sy is so ‘n goofball.”

Haar toneel-spyskaart vir die onmiddelikke paar maande is: nóg ‘n rol vir kykNET (waaroor sy nie veel kwytraak nie), en sy hoop om die toneelstuk N vir Neurose verder as de grense van die Wes-Kaap op te voer.

“Weet jy, ander mense dope hulself met allerhande pille en rituele. Ek raak, vreemd genoeg, nie so angstig voor optredes soos baie ander in die bedryf nie. Ek geniet elke oomblik te veel!”

  • Lee-Anne Hosten

    Baie geluk Roeline, nog altyd geweet jy sal eendag die die tv stel haal!!!!!!!!!!!!!!!!!!!
    Jy was al van skool(Bloemhof) dae af ‘n "go getter" en ‘n uitstekende hoofdogter en aktrise.
    STERKTE vir wat jy nog beplan voor-en-toe.

  • Gerda

    Op die skerm van Oupa en Ouma spel hul haar naam Roelien?

  • Gerda

    Jammer, vanaand weer gekyk : haar naam is reg gespel op die program. ‘n Mooi, talentvolle jong vrou vir wie ons hopelik nog baie sal sien op die skerm.