ivan

FOTO Instagram (@ivanzimmermann1)

Het jy gehoor?

En daar trap Ivan Zimmermann al weer!

SARIE het verlede jaar in ons Junie-uitgawe met die akteur Ivan Zimmermann gesels toe hy die Tour d’Afrique-fietstog gedoen het. Nóú is hy weer aan’t trap; al die pad van Beijing na Istanbul. Hy het 15 Mei weggespring en sal teen Oktober vanjaar klaar wees. Lees hier oor die lesse wat hy op sy Afrika-reis geleer het en hoekom hy kies om fietsrytoere aan te pak.

Ivan het op 9 Januarie 2015 in Kaïro weggespring op die moordende 12 000 km lange Tour d’Afrique (dieselfde toer wat Tessa Melck aangepak het) om kos in te samel vir honger mense in Suid-Afrika. Ten tyde van die onderhoud in Maart was hy in Arusha, Tanzanië – met sowat 6 300 km oor.

ivan

FOTO Verskaf

Nuwe horisonne

“Ek het ’n passie vir bergfietsry en ek is op ’n punt in my lewe waar ek al my vrese wil oorwin en my volle potensiaal bereik. Ek dink ek is gebore met ’n rustelose siel en ek het die hoop wat nuwe horisonne my gee, nodig. Ek het al die hele Suid-Afrika platgery met ’n motorfiets. Dit sou lekker wees om Afrika só te verken, maar ’n motorfiets raas en besoedel meer as ’n trapfiets. Fietsry is gesond en skoon en jy voel nader aan die aarde. Toe besluit ek op die Tour d’Afrique. Die laaste twee jaar voor ek weggetrek het, het ek 20 000 km op my bergfiets geoefen. Ek wou goed voorberei en ’n verskil maak. Die aktrise Hanna Grobler, ’n vriendin, het vooraf vir my gesê sy het kos nodig vir haar Hanna Liefdadigheid en Bemagtigingstigting. Ek hoop om vir elke kilometer een blikkie kos (dus 12 000) in te samel vir CAN-aKILO – wat Hanna dan deur haar stigting gaan versprei.

“Ek wou ’n verskil maak aan die aarde”

Wat doen ek?

Ek dink elke dag minstens een keer: ‘Wat de hel doen ek?’ Veral as dit in die veertig grade is en daar is nie ’n kolletjie koelte nie. Of as die wind my tent wegwaai! Ek probeer fokus deur daaraan te dink dat ek ’n verskil maak in ander se lewens. Dit motiveer my ook dat ek sover [terwyl ons gesels] in die derde plek is. Dis ook ’n baie groot voorreg om al die historiese en kulturele hoogtepunte te sien, soos die antieke Egiptiese stad Luxor, bekend as die grootste opelug-museum ter wêreld, en Gondar, ’n Ethiopiese stad met mooi kastele en oorblyfsels van die Italiaanskoloniale besetting. Ek is dankbaar dat ek my alie gelig en opgehou praat het oor iets – en dit net gedoen het. Om deur 10 lande te kan fiets trap en my droom waar te maak het ek my uit my gemaksone gedruk en net nooit moed opgegee nie.

Struikelblokke

Dis ’n dreinerende reis. Die ergste tot dusver was die Soedan. Ek het ses dae lank in 45 °C gery en hitte-uitputting gekry. Maar ek het nie opgehou ry nie, selfs al het ek in ’n stadium van my fiets afgeval. In Kenia het ek een oggend wakker geword met erge verkoue en maaggriep.

Maar dit maak nie saak hoe stadig jy beweeg nie, jy moet net nooit stop nie. Daar is daagliks hope uitdagings: ontwatering, karre, busse en trokke wat roekeloos bestuur. In Malawi is ek in hegtenis geneem omdat ek die land ’n dag te laat verlaat het. My paspoort was vir sewe dae gestempel en ek het dit op die agtste dag verlaat. Hulle het omkoopgeld gevra, wat ek maar betaal het.

Die lys is nog lank: diefstal, kinders in die Soedan en Ethiopië wat nie skool toe gaan nie en bedel, jou met klippe gooi of met stokke bydam. In groot stede is die verkeer so erg, jy word van die pad af gery. Daar is die onvoldoende dieet, en vrees om malaria op te doen (al is jy ingeënt). Maar dis ’n avontuur, jy leer verandering omarm. Ek het ook na my liggaam leer luister en roetine het my vriend geword. Jy moet seker maak al die klein dingetjies is uitgesorteer sodat jy die fietstoer kan geniet. Jy moet reg pak, genoeg probeer eet en slaap, dieselfde tyd elke oggend opstaan. Nou wil ek Kaapstad net lewend bereik. Intussen droom ek daarvan om in Junie 2016 van Sjanghai in China na Istanboel in Turkye fiets te ry.”

Sy nuwe avontuur

Jy kan Ivan volg op Instagram, Twitter en Periscope. Hier onder is die kaart van sy nuwe toer- al die pad van Beijing tot Istanbul.

Hy het gister hierdie foto op Instagram gelaai:

Hellooo Mongolia!#leadersneverquit #beijing2istanbul

A photo posted by Ivan Zimmermann (@ivanzimmermann1) on

FOTO’S: Rolanda en Jozua se Turkse wittebrood

Ivan se Top-3 lesse?

1. Verwag die onverwagte

2. Wees altyd bewus van die skoonheid om jou

3. Om suksesvol te wees moet jy volgens jou eie ritme werk

Lees ook

Afrika op jou bord

Nege jaar per fiets om die wêreld!