Ons praat met

En die wenner is . . . Miss Beautiful!

En die wenner is . . . Little Miss Skwatta Camp! Nee, dis Miss Gay Disco Queen, Miss Swallows, Mr Six Pack, Mr Dare en Ms Fresher. En nog ’n hele klomp ander titels ook. Dis nou buiten die gewone Mej. Suid-Afrika, Mnr. Suid-Afrika en die Bruid van die Jaar.

Miss Beautiful, deur Tamsen de Beer en Stan Engelbrecht (Day One, R390), is ’n pragtige koffietafelboek vol van dié betiteldes. In haar voorwoord sê voormalige Mej. SA Basetsana Kumalo die boek gaan oor meer as net skoonheid. Dit is eerder ’n eerbetoon aan menslike prestasie, aan deursettingsvermoë, vasberadenheid, selfvertroue, minsaamheid, goedheid, vrygewigheid, dissipline, vryheid van spraak en soms, net soms, asemrowende skoonheid. Phyllis Green het met Tamsen de Beer gesels oor die uitdagings van dié boek.

Dit is jou en Stan Engelbrecht se tweede gesamentlike boek, jy as skrywer en hy as fotograaf. Hoe so?
Stan en ek het soveel pret gehad met ons eerste boek, African Salad, en ons was baie tevrede met die eindproduk. Die sukses van dié eerste boek het daartoe gelei dat ons besluit het om ’n tweede een aan te pak. Ons is drie mense wat betrokke is by Day One, ’n klein onafhanklike uitgewermaatskappy – ek, Stan en Stephan le Roux. Die boek was Stephan se idee en ek en Stan het gekies om weer saam te werk daaraan. Die sinergie tussen ons is goed en my skryfwerk en Stan se foto’s vul mekaar perfek aan.
Ek en Stephan, my partner, het ’n seuntjie en soms kon ek nie van die skoonheidswedstryde bywoon nie. Dan het Stephan maar ingestaan! Ek het op die ou end sowat 80% van die geleenthede bygewoon en ook die opvolg-onderhoude gevoer. Dit was belangrik, want dit is die essensie wat die langer stories in Miss Beautiful laat werk.

Hoe het die konsep vir die boek onstaan?
Die idee het voortgespruit uit ’n kreatiewe gesprek tussen ons drie. Stephan het James Blunt se “You’re Beautiful” gehoor en het besef almal is eintlik op hul eiesoortige manier mooi. Ons het toe begin kyk hoe ons die idee in ’n boek kon verwerk, en ná hewige debatvoering en ’n paar warm argumente het ons besluit dat ons buite-arbiters nodig het om skoonheid te beoordeel – en wie dan anders as die beoordelaars van bestaande skoonheidswedstryde! Toe ons eers begin reis het, van wedstryd na wedstryd, het skoonheid bloot as skoonheid byna sekondêr begin word en het die uitdaging gelê in die vasvang van die mens agter die deelnemers op die verhoog. Ons het eeder begin fokus op hul lewens en die saak wat hulle bevorder deur die wedstryde. Die foto’s reflekteer die magic, vreemdheid en multi-fasette van die hele skoonheidswedstryd-industrie.

Hoekom is skoonheidswedstryde so ’n integrale deel van die samelewing?
Dit is ’n manier waarop mense aandag kan vestig op die saak wat hulle verteenwoordig, soos Mr Reach for a Dream. Ander gemeenskappe gebruik dit as ’n hoogtepunt vir ’n fees, soos The National Potato Festival Queen en The Calvinia Meat Festival Queen. Ek is nie seker wat dit jare gelede vir die gemeenskap beteken het nie, met die ontstaan van skoonheidswedstryde (Mej. Amerika in 1921) – maar ek is seker sommige feministe sal dit ernstig bestudeer en uitsprake kan lewer! Daai dae was daar nie baie platforms vir vroue om op te kompeteer nie en een slimjan het toe skoonheidswedstryde uitgedink as één so ’n platform. Ek dink in ons gemeenskap en in die tyd waarin ons nou lewe, het skoonheidswedstryde ’n nuwe betekenis begin aanneem. Wedstryde gaan nie bloot meer oor hoe mooi iemand is nie, maar ook oor die impak wat ’n skoonheidskoningin op ’n spesifieke gemeenskap of kwessie maak.

Hoe lank het dit julle geneem om die boek te voltooi?
Dit was ’n twee-jaar-reis wat in Desember 2006 by Margate se Somer Strand Karnaval en Mej. Suid-Afrika by Sun City begin het en geëindig het met Stan se fotosessie van die Queen of the Sea, ’n Portugese gemeenskapswedstryd in Kaapstad. Tussenin was ons in Limpopo, KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap, Johannesburg, Pretoria, Kaapstad, die Noord-Kaap en die Vrystaat – letterlik oral. Waar die wenners ook al gewoon het, daar het ons gaan besoek aflê om die onderhoude en foto’s te doen.

Die vreemdste wedstryd?
Mr Gay Sobantu in Pietermaritzburg. Homoseksuele en lesbiërs het meegeding om Mej.- en Mnr.- titels. (Die gay ouens het ge-crossdress vir die Mej.-titel, die lesbiërs het weer soos jong mans aangetrek vir die Mnr.-titel.) Die wedstryd is in ’n spesifieke gemeenskap gehou en was op ’n baie spesifieke groep mense gerig. Dit was heeltemal uniek. En dit was nogal verrassend om soveel “eksperimentele” jongmense, hoofsaaklik Zoeloes, te sien wat bereid was om vir hul baie belangrike saak standpunt in te neem.

Die inspirerendste wedstryd?
Weereens Mr Gay Sobantu – inspirerend, omdat die wedstryd probeer om dit meer aanvaarbaar te maak om gay te wees in ’n baie konserwatiewe en tradisonele deel van die land. Die wenner was die enigste meisie in ’n gesin met agt kinders en moes veg teen Zoeloe-tradisie, haar ouers se Christelike geloofswaardes en seksisme net om uiting te probeer gee aan wie sy is. Sy was ongelooflik, haar girlfriend is voor haar geslaan net omdat hulle in ’n verhouding is. Sy is so inspirerend, want hulle kon nie wie sy is, uit haar uit slaan nie – en glo my, hulle het probeer. Sy was ongelooflik trots op haar oorwinning, ten spyte daarvan dat sy haar amp-serp nooit vir haar ouers sal kan wys nie uit vrees dat sy uit die huis geskop sal word. Stan se foto’s het haar houding perfek vasgevang – uitdagend, selfversekerd en eerlik. Die wedstryd was haar manier om te sê “dit is wie ek is”, eerder as om te probeer voldoen aan die geykte voorvereistes van om maer te wees, goed te lyk in ’n swembroek en liefies vir die beoordelaars te glimlag. Dit het gegaan oor innerlike skoonheid.

Bestel die boek by www.missbeautiful.co.za of doen navraag by orders@dayone.co.za