Ons praat met

Enkelloper Annie Malan: “My lewe is vol verrassings en opwindend”

“Toe my maatjies kleintyd gedroom het van trourokkies, het ek besigheidspakkies met bypassende visnetkouse vir myself gevisualiseer. My lewe is vol verrassings en opwindend. Ek was ’n beoordelaar van die werklikheidsreeks Die Sanger op kykNET, ek het al nege jaar lank my eie nasionale bemarkingsmaatskappy met veertien takke en ek het by die New York Film Academy ingeskryf vir ’n aanlyn-kursus as draaiboekskrywer.

Maar ek het ook meer vrye tyd as die meeste lede van my gesin, juis omdat ek enkellopend is. Ek het volkome beheer van die afstandbeheer, hope klerekasruimte en kan laat slaap as ek nie ’n besige oggend het nie. Ek het die enigste sê oor my geldsake. As ek ’n bydrae tot liefdadigheid wil maak, hoef ek dit aan niemand te verduidelik nie. Ek is ’n beskermvrou van heelparty organisasies soos die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) en die Abraham Kriel-kinderhuis.

Ek voel net so geliefd soos enige ‘mamma’ of getroude vrou in my binnekring. Natuurlik raak ek soms alleen, maar ek voel nooit eensaam nie. Ek was al eensaam binne-in ’n verhouding en in ’n saal vol mense!

Vir elke eensame oomblik kan ek jou ’n getroude mens wys wat smag na ’n bietjie stilte.

Alleenwees is geweldig gesond en neurochirurge sê as jy twintig minute per dag stilte het, dan verbind die neurone in jou brein weer en jy raak slimmer. Ek is verslaaf aan stilte . . .

Ek het baie mansvriende, ontvang gereeld blomme en het allerlei interessante ete-afsprake. Daar is natuurlik áltyd die opwinding en afwagting dat daar nog iemand gaan kom wat my lewe vir altyd gaan verander. My ouers, Jeanette, ’n huisvrou, en Hendrik, ’n prokureur, van Pretoria, is 42 jaar getroud. Ek glo aan die huwelik.

My broers, Dawie en Hendrik van Pretoria, is ook albei gelukkig getroud. Ek is mal daaroor dat mense aan my voorgestel word – aanhoudend. Soms dink ek nie aan myself as enkellopend nie, maar aan iemand met hopeloos te veel opsies.”

  • Rickey

    Dit is so waar wat Annie sê ek is al 15 jaar enkel en sal dit vir niks veruil nie. Dit is waar mens voel soms alleen maar dan klim jy in jou kar en gaan kuier. Die lewe is net soveel rustiger en kalm.
    My sus en broer het albei ‘n maat, maar ek besef elke keer hoe gelukkig ek is om myself te wees en my eie ding te doen. Ek is al 47 en ek bly eerder alleen as saam iemand wat jou heeldag net pla.

  • Hannetjie Nell

    Ek moët saamstem, die lewe van n enkellopende, soos ek ook was tot op ouderdom 35, is minder gekompliseerd en in daai sin makliker. Jy kan soveel meer doen en beleef omdat jy net jouself het om in ag te neem. Maar geen van my vorige ryk verskeidenheid van lewenservaring, kon by my dieselfde karakter en selfloosheid kweek soos n wederhelf en kinders nie. Ek het geleer om van myself te gee …..en aan te hou gee……en dit het my op n ander manier kom ryk maak….. En hoewel ek nou, op 40, nog n Lang pad het om te stap, is ek dankbaar vir die ruim tyd van enkel wees Wat ek kon he. Maar nou nog meer vir d 4 gesinslede wat die Here aan my kom gee het om onvoorwaardelik lief te he, want ware lewensvervulling kom wanneer n mens diep uit jouself gee…..dis nie altyd maklik nie, maar n vreugdevolle proses met ewigheidswaarde.

  • Judy

    Ek verruil my BESIGE 7jarige seuntjie wat aanhou kekkel vir geen stilte in die wereld nie. Jy sal daai allesoorhersende liefde nooit verstaan as jy nooit self ‘n mamma was met daai lekker armpies om jou nek nie dan maak kasruimte, min slaap en die afstandbeheer glad nie saak nie.