Ons praat met

Erik Holm (Binneland se Rian) oor die inspirerende vrou in sy lewe

Sy is funky en straal lewensvreugde en mensliewendheid uit. Nike Holm lag verskriklik baie en jy verluister jou aan haar gevatte sêgoed.

Haar hare is nou blond, maar laas toe ek haar gesien het, was dit groen. ‘n Fyn tatoeëer-strepie halveer haar ken. Dis iets wat sy self uitgedink het en dit simboliseer sy het ‘n besluit geneem oor hoe sy vorentoe gaan dink en doen.

Omdat ek geneig is tot ekstremisme, wou ek graag ‘n lyn trek in my lewe – ‘n punt van balans, ‘n onveranderlike permanensie, en ek wou dit hê waar ek dit sou kon sien elke keer as ek na myself kyk.”

Nike (33) het die tatoeëer-merk al gekry vóór die duikongeluk drie jaar gelede waarin haar broer, Erik (29), verlam is. Sedertdien help sy hom om sy situasie te oorwin. Erik vertolk al meer as twee jaar die rol van die skatryk sakeman Rian Malherbe in Binneland Sub Judice en was ook draaiboekskrywer vir die Afrikaanse rolprent Liefling, wat in November uitgereik word.

As dit nie vir sy suster se inspirasie en dryfkrag was nie, was hy vandag ‘n “patetiese kwadrupleeg” wat in sy huis weggekruip het omdat hy bang is vir die lewe, beken Erik. “Ek sou my dae voor die rekenaar omgesit en rekenaarspeletjies speel het.”

Nike was op pad om op ‘n seiljag te gaan vaar en saam met die Indiane in Suid-Amerika te gaan leef en van spirituele heling te leer toe Erik se ongeluk gebeur het.

“Ek het my soetkysie, wat reeds gepak was, net daar gegryp en hospitaal toe gegaan om Erik by te staan. Ek het sommer daar ingetrek,” vertel sy.

“Hy was baie depressief. Ek móés hom help.” Maar sy hou nie eintlik daarvan as mense dink sy het haar lewe on hold gesit om Erik te versorg nie.

 

In dié stadium ís hy my doel in die lewe. Sy ongeluk het vir my ‘n raamwerk gegee. Sy gestremdheid het vir my ‘n terrein geskep waar ek nuwe dinge kon ontdek. Ek is mal oor probleemoplossing.” – Nike Holm

 

In dié stadium ís hy my doel in die lewe. Sy ongeluk het vir my ‘n raamwerk gegee. Sy gestremdheid het vir my ‘n terrein geskep waar ek nuwe dinge kon ontdek. Ek is mal oor probleemoplossing.” Erik sê ewe gelate hy het nou sy suster se “nuwe loopbaan” geword. “Dis hoe Nike is. Sy sê self sy is ‘n bietjie van ‘n beheervraat en ek is haar ‘projek’.”

Hul pa, prof. Erik Holm, die bekende entomoloog, sê volgens Erik: As Nike ‘n projek aanpak, kry sy dit reg om die hele gesin saam te sleep. Hul ma, Elsabe, is ‘n spraakterapeut wat tans met outistiese kinders by die Meerhof-skool in Pretoria werk.

Jy kan dit nie help om saam met Nike begeesterd oor goed te raak nie,” vertel Erik. “Party mense sal jou van ‘n idee vertel en dan klink dit vir jou na ‘n nagmerrie, maar as Nike die idee voorstel, klink dit vir jou na die wonderlikste ding op aarde.

Sy vertel my heeltyd van al die wonderlike goed wat ons kan doen. Sy doen dit natuurlik met soveel panache dat ‘n mens later dink dit was eintlik jóú idee.” Nike vertel hoe hul pa, vermoedelik soms met opset, altyd gesorg het dat iets op ‘n uitstappie skeefloop.

“Anders was daar nie ‘n avontuurtjie om te beleef nie! Ja, ons Holms kan ‘n sukkelende situasie in ‘n avontuur omskep. Dit is wat Erik my gegee het. ‘n Nuwe avontuur.” Sy glo Erik se ongeluk het haar ook met ‘n nuwe bril na die lewe leer kyk.

Ek was voorheen maar bietjie van ‘n drifter. Ek het my kuns wat ek beoefen het, maar ek het nooit ‘n fokus gehad nie.” Dis vir haar steeds ongelooflik hoe maklik sy by Erik se omstandighede kon aanpas en van dag een af langs sy hospitaalbed beheer kon oorneem.

“Ek ken Erik so goed, ek kan instinktief sy behoeftes aanvoel.”

Sy was voorheen baie geïnteresseerd in die spirituele sy van heling, maar Erik se verlamming het meegebring dat die liggaam se werking haar begin boei het.

“Dis ongelooflik. Eers kon hy sy hand net een millimeter oplig, en kyk wat doen hy nou!” Teen middel volgende jaar sal Erik, Nike en hul ander suster, Kora Holm (31), se TV-program Quad-Ventures hopelik op TV te sien wees.

Hulle weet nog nie eens op watter kanaal nie, maar hulle skiet al vir ‘n vale.

Nike noem haarself die art director van die program. Kora (sy is eintlik ‘n bioloog) gaan die kamerawerk doen. En Erik is natuurlik die stunt man. Hy gaan onder meer brugswaai, duik, met ‘n vierwielmotorfiets van Johannesburg na Durban ry, valskerm spring, perdry, seil, veldfiets ry en ‘n gevorderde motorbestuurskursus volg.

Hulle beplan om ‘n dokumentêre program van een uur, gevolg deur dertien episodes, aan te bied.

“Ons wil wys wat kwadrupleë alles kan doen en hulle aanmoedig om uit hul huis te kom en aan te gaan met die lewe,” vertel Erik.

Baie mense bevraagteken wat hy nou aanpak. En dit gee sy ma nagmerries, spot hy.

“Maar ek gaan nie hierdie fase van my lewe as ‘n tussentydperk beskou ‘totdat ek dalk eendag weer kan loop nie’. Dis nie ‘n in between nie. Dis my lewe. Dit hang van myself af wat ek daarvan maak.

“It’s difficult as hell, but if anything else, it’s at least interesting!”

Erik vertel hoe moeisaam en stadig die herstelproses was.

“Vir ses maande het alles in my lewe met ‘n slakkegang gebeur, en toe ek daarna die eerste keer in ‘n motor ry, het dit gevoel alles beweeg te vinnig. Ek het sommer begin huil. Alles freak jou uit. Elke trappie lyk hoër as wat dit is.”

Daar is baie vrees by kwadrupleë oor wat hulle kan doen en wat nie en Erik ken dié vrese goed. Dit is sy motivering vir die program.

“Ons Holms is mense wat voluit leef en nie stilsit en wag dat kanse na ons kant toe kom nie. Ek glo dat mense dit in die program sal sien en iets daaruit sal leer.” Nike sê hulle het ‘n vriend wat hulle sommer Super Quad noem.

“Jy moet sien wat kan hy al alles vir homself doen. Hy was so ‘n inspirasie vir Erik. Hy het Erik laat besef wat moontlik is.”

Erik voel sy horisonne is ook nou eindeloos.

“Ek kan nie in hierdie stadium aan iets dink, behalwe loop, wat ek nié sal kan doen nie.” Hy vertel dis soms vreemd vir ander mense dat hy en Nike so na aan mekaar kan wees.

“Maar hier is hierdie wonderlike mens wat die mooiste kunswerke kan skep met ‘n kwas en animasie, en wat kan sing soos ‘n engel. Sy het al hierdie wonderlike talente, en sy pause haar lewe vir my.”

Hy beken dit sit groot druk op hom om homself reg te ruk sodat Nike met haar eie lewe kan aangaan.

“Daarom móét ek perform. Want dis nie asof Nike niks beters het om met haar tyd te doen as om my in my rolstoel rond te stoot nie. Ek mág nie stilsit en myself jammer kry nie.”

Sy suster se toewyding gee hom daardie ekstra boost wat vir hom sê: Jy moet hierdie ding laat werk!

 

“Hy straal so ‘n mooiheid en krag uit. Ek is ongelooflik trots op hom. En ek is so verskriklik lief vir hom!” – Nike Holm

 

Terwyl Erik buite gaan rook, vertel Nike huilend hoe hy op hul eerste uitstappie na ‘n vlooimark nadat hy uit die hospitaal gekom het, vir haar gevra het of sy skaam is vir hom.

“Hoe kan hy so dink? Om hom te versorg is goed vir my geestestoestand. Ek het voor sy ongeluk soms gesukkel met depressie, maar nou het ek nie meer tyd om depressief te raak nie.”

As sy nou neerslagtig raak, kyk sy net na Erik en wat hy alles doen. Hoe dapper hy is.

Hy straal so ‘n mooiheid en krag uit. Ek is ongelooflik trots op hom. En ek is so verskriklik lief vir hom!” Erik kom terug.

“Ha-ha, ek het gehuil en jy het dit gemis!” Huil is die Holms se styl, verduidelik Erik. “Ons beskou nie ‘n verjaardagbyeenkoms as suksesvol as een van ons nie met ‘n speech die trane uit die res van die gesin probeer tap het nie.”

Ja, beken hy, hy huil selfs in animasieflieks vir kinders. Hy is ‘n sucker vir flieks met mooi stories.

“Ek het geleer die lewe gaan regtig nie net oor hierdie negatiewe ding wat met jou gebeur het nie. Ek gryp werklik die lewe met meer geesdrif aan as voorheen.” Nike voel as iets so verskrikliks met iemand na aan jou gebeur, is dit jou oorlewingsdrang wat ‘n positiewe struktuur skep waarin julle kan oorleef.

Dis mos maar deel van hoe ‘n mens jouself beskerm teen emosies. Soms sien ek dit vang Erik. Hy het nog min gehuil ná die ongeluk, maar wanneer hy daaroor huil, huil hy sy hart uit. Dis goed vir hom, want dit help met die dinge waarmee hy in sy kop worstel.”

Erik se doelwit is beslis om mettertyd onafhanklik van Nike te funksioneer sodat hulle elkeen met hul lewe kan aangaan. Hulle weet hulle sal eendag by dié punt kom. Maar hulle is ook seker dat die band wat die afgelope drie jaar tussen hulle gevorm het, ‘n onbreekbare en besondere een is van onbaatsugtige liefde, vasbyt en ‘n nuwe waardering vir die lewe.

  • Elize

    Erik Holm wat ‘n fassinerende man is hy nie! En boonop net so aantreklik, ja nee die Holm’s is nie mense wat gaan le nie!

  • Whilma Liedeman

    Ek het die voorreg gehad om Erik te ontmoet tydens ACSA se disabilty Expo by Gallagher Estate in September, en wat ‘n voorreg. Ek self is ‘n kwadrupleeg, maar Erik het my geinspireer om voluit te lewe. So voluit, dat ek besig is om ‘n paar kwadruplee bymekaar te kry sodat ons ook kan leer skuba.

  • Mariana Nel

    Mooi so, Holm gesin! Dit is ‘n wonderlike voorbeeld van hoe ‘n positiewe houding enige negatiewe situasie kan verander. Met die regte houding,"attitude" kan mens enige struikelblok oorwin.

  • Daleen Terblanche

    God Bless vir omgee mense, selfs ‘n suster wat haar loopbaan laat vaar, dankie Nike dat jy dit gedoen het, Eric gehelp het en ons "normale" mense laat sien wat liefde doen aan gestremdes!!!!!! lekker dag vir almal betrokke, Groete Daleen

  • Alta

    Sjoe, was ek maar ‘n paar jare jonger, hy is absoluut sexy verby. Sal hom enige tyd versorg het. Ek eht die wêreld se respek vir Nike. Eintlik vir hulle albei. Dit is absoluut wonderlik om te sien dat broer en suster so na aan mekaar kan wees. Ek wnes ek en my broers het daardie band gedeel, maar ons sinne is as kinders al gebreek.

    Liefde en sterkte vir julle albei.

  • Antjie F

    Ek ken vir Erik al van universiteitsdae af, en sy uitkyk op alles wat met hom gebeur het is nie vir my ‘n verassing nie: hy was nog altyd ‘n yster, ‘n amazing mens wat ander inspireer net deur sy teenwoordigheid.