Christo Davids

Ons praat met

Errol van 7de Laan: ‘Ek speel uit my gut’

Jy herken hom byna nie, skaars 1,69 m lank. Op die verhoog en op TV word hy dan ’n reus! Sy rol as Errol Pieterse in 7de Laan het van Christo Davids ’n huishoudelike naam gemaak.

Maar hy het al in ’n lang lys ander TV-produksies soos Hagenheim streng privaat en Meeulanders gespeel. Ook in plaaslike flieks soos Forgiveness en A Boy Called Twist en in talle oorsese films waaronder A Species Odyssey (Frans) en The Eastern Bride (’n BBC-fliek).

Wanneer Christo ’n Kaapse koffiewinkel binnekom, verander die vroue se gesigte asof hulle Brad Pitt self sien. ’n Man kom sit aan ons tafel, stop ’n kamerafoon in my hand en beduie: Neem ’n foto van my en “Errol”. Christo draai sy lang wimpers in sy bewonderaars se rigting, luister na elke woord en lag hartlik saam.

Hy sê juis dit gee hom ’n groot kick wanneer ander lag. “Jy ken mos die uitdrukking: Die lewe is bitter genoeg, jy kan nie jou tee ook bitter drink nie.”

Sy jongste triomf is die rol van Adam Pakkies, die tikverslaafde seun wat deur sy ma verwurg word. Dis ’n ware verhaal, en vir dié rol van die seun wat ’n “monster”word in My naam is Ellen Pakkies is hy as beste akteur op vanjaar se KKNK aangewys.

Die verhoogstuk self is ook benoem as beste aanbieding. Christo is nie net akteur nie – hy skryf graag self dramas en sy teks Bullets over Bishop Lavis is ook tydens vanjaar se KKNK opgevoer. Dit
handel oor onskuldige kinders wat in bendegeweld sterf, vertel hy.

Sy spel en sy skryfwerk is al deur die jare bekroon. In 2005 is sy stuk The Final Whistle tydens die
Windhoekfees aangewys as die beste teks. Kinnes vannie Twilight is in 2006 op die Logan-fees in Bloemfontein en die George-fees as beste nuwe teks aangewys.

In Oktober sing hy vir die eerste keer op die verhoog in David Kramer se komiese musiekblyspel Some Like It Vrot.

Christo sê hy is “soort van op die verhoog gebore”. Sy ooms is die regisseur Lloyd Davids en Peter-John Davids, wat baie betrokke was by jeugteater, onder meer as beoordelaar. Goliath Davids is sy bekende akteuroupa vir wie ons in dramas soos Fiela se kind en Soutmansland gesien het. Al sy broers, Lee-Roy, Wesley, Marlin en Goliath, is akteurs. Sy sussie, Jenny- Lee, is nog op skool.

Vinette Ebrahim, wat Errol se aanneem-ma, Charmaine, in 7de Laan en sy ma in My naam is Ellen Pakkies speel, sê Christo is “’n veelsydige, ongelooflik intelligente talent”. Hy laat haar besonder veilig voel op die verhoog.

“Christo is besig om die deure van die bedryf nie net oop te skop nie, maar wawyd oop te hou. Daarby is hy nederig en het hy baie goeie maniere. Wat ’n kombinasie!” sê Vinette. Soos alle nuwe, jong akteurs sou Christo eers in net 20 of 30 episodes van 7de Laan gespeel het, vertel Danie Odendaal, uitvoerende regisseur. Maar nou is honderde al verby.

Danie sê dié akteur se veelsydigheid verstom hom: “Christo was al by soveel verskillende storielyne
betrokke – hartroerende, menslike drama, komedie, ingewikkelde verhoudings en donker spanningsverhale. Maar elke keer kom hy met iets nuuts en vars vorendag.”

Hy is ook besonder hardwerkend en ambisieus, reken Danie: “Saans náopnames, wanneer die meeste ander jong spelers lankal huis toe is, hoor ek hoe hy en ander akteurs repeteer aan hul volgende verhoogstuk. En tog is hy die volgende dag vars en ten volle voorbereid vir 7de Laan. Dis wat ek professionaliteit noem.”

Christo het juis vanoggend by Kunstekaap gerepeteer vir Krismis van Map Jacobs (deur Adam Small). Tydens ons onderhoud eet hy vinnig en jaag daarna na die Universiteit van Kaapstad om sy rol as artistieke regisseur van Cape Heart Teater (gemeenskapsteater) vol te staan.

“Die doel van dié soort teater is om te entertain, te educate en te empower,” sê hy. Vanaand is hy weer Adam Pakkies in die Baxter. Dan is daar nog 7de Laan ook …

Christo glo almal behoort so hard te werk. “Dis hoe ’n groot naam soos Marius Weyers gekom het waar hy is.”

Jy het jou eerste nege jaar in Mitchells Plain en daarna op Heidelberg, Kaap, grootgeword. Som jou kinderjare in een woord op.

Dramaties! Wanneer daar kuiermense was, moes ons kinders vir hulle gedigte soos C. Louis Leipoldt se “Die Slamaaierwinkel”opsê.Ons is so ’n groot gesin ons kan Kanna hy kô hystoe [Adam Small] op ons eie opvoer!

Jou oupa Goliath Davids woon langs jou ouers op Heidelberg. Is dit waar dat jy vir homgedigte moes voordra terwyl jy verlangend gestaar het na ander kinders wat buite sokker speel?
Ja. Jy kan maar sê ek is opgelei deur die Goliath Davids School of Acting. In standerd vyf [graad 7] het ek reeds Fiela se kind gelees en het my oupa my gevra om te verduidelik wat die verskil tussen die fliek en die boek is. In standerd 7 [graad 9] het hy vir my Athol Fugard se plays gegee en dan moes ek sê waaroor dit gaan en die monoloë opvoer. My oupa het my gemaak wie ek vandag is.

Jou akteursloopbaan het op 11 begin toe hy jou saamgesleep het na ’n oudisie vir die TV-reeks Onder engele.
Hy het die oupa gespeel en wou hê ek moes sy kleinkind, Dialtjie, speel. Hulle vra my toe om “Kaalvoet klonkie” [I.D. du Plessis] voor te dra. Teen daardie tyd het ek dit lankal uit my kop geken. Ek het die rol gekry.

En ’n Artes as Beste Akteur.
Ja. Ek was die jongste akteur wat nog daarvoor benoem is.

Jou ma, June, is ’n onderwyskringbestuurder en jou pa, Jefferson, ’n skrynwerker. Wat was die nommer-een-lewensles?
Familie is die belangrikste ding in die lewe. I was raised by a village. My aunties, my uncles…Almal het
insette gelewer.

Wat was jou ouers se reaksie toe jy wou drama swot?
Nee, jy’s gek! Acting is ’n godgegewe talent wat jy klaar het en vir jare al doen. Swot iets anders. Ook
vir sekuriteit.

Toe, in 2008, terwyl jy akteur is, verwerf jy ’n LL.B.-graad aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Jy is ook ’n [nie-praktiserende] advokaat van die onafhanklike balie. Hoekom juis regte?
Ek het gaan dink oor wat ek wou doen toe ek jonger was. Ek het ook inligtingstegnologie of joernalistiek oorweeg. My oupa Goliath het gesê as ’n man ’n lawyer is, is jy ’n actor ook! Maar daai twee vat nie hande nie. Vir die hof hoef jy nie woorde te leer nie. En dis nie heeltemal waar dat jy lieg ook nie!

Jy het nie formele dramaopleiding nie. Hoe beïnvloed dit jou spel?
Ek speel uit my gut uit. There’s more soul, less technique.

Jy het al saammet Marius Weyers gespeel. Jou indrukke?
Ek het nog nooit voorheen so ’n nederige ikoon ontmoet nie. En die respek wat mense vir hom het! Toe hy Tim in 7de Laan gespeel het, het hy reeds die tweede dag almal op stel se name geken – ook die vrou in die kombuis s’n. In die verhoogstuk Adam September en die Nazi-skat waarin ons saam gespeel het, het hy eenkeer ’n fout gemaak – ag, dit was nie eens regtig ’n fout nie – toe vra hý mý om verskoning!

Jy het vier jaar gelede in Shirley, Goodness and Mercy [deur Chris van Wyk] in die Markteater
gespeel, waarvoor jy die Nalediteaterprys gewen het. Dis waar Danie Odendaal jou raakgesien het. Vertel ’n bietjie.

Dit was ’n hoogtepunt. Janice Honeyman was die regisseur. Sy het my verskriklik baie geleer. Ek het die rol gespeel van ’n 25-jarige man wat terugkyk op sy lewe. Ek moes ook vier jaar oud wees! Ja, op die verhoog is alles moontlik. Ek weet nie wat Danie raakgesien het nie.

Jy is 27. Hoe kry jy dit reg omdie matriekleerder Errol te speel?
As jy glo jy is hy sal die kyker dit ook glo. Errol het ’n ander manier van dink, van praat. Oë sê baie.

Was die uitdra van die dwelmboodskap ’n oorweging toe jy die rol van Adam Pakkies aanvaar het?
Vinette en Lizz Meiring, die regisseur, se name het my aangetrek, want ek het in dramas soos Miss Africa South gesien waartoe daardie twee midgets in staat is (en ek sê dit met liefde). Vinette is ’n tour de force. Sy het die vermoë om ander akteurs goed te laat lyk.

Daardie laaste sin in Ellen gee my hoendervel. Dis die manier waarop haar karakter vra: “Hoeveel keer kan ’n mens van vooraf begin?” Die dwelmboodskap is verskriklik belangrik, ja. Dit voel vir my die duiwel is los op aarde. Tik diskrimineer nie teen ras, klas of selfs ouderdom nie. Mense val bewus-onbewustelik in die trap en besef nie die houvas daarvan nie.

Verskeie teatergangers wat aan tik verslaaf was, het ná die toneelstuk gesê die uitbeelding was absoluut realisties. Hoe het jy navorsing gedoen?
Ek het vriende gehad wat in rehab was vir tikverslawing. Tikverslaafdes was ook al op my voorstoep. Ek weet hoe hulle lyk. Die fenomenale Lizz het vir my gesê die jolly seun is dood. Die monster moet oorneem.

Wat was die hartroerendste reaksie wat jy tot dusver gekry het?
’n Seun wat in rehab was vir tikverslawing het vir my gesê: You just saved my life.

Dit lyk asof iets van jou besit neem. Kan jy die ware Adam Pakkies op die verhoog aanvoel?
Ek kan hom nie sien nie, maar ek voel beslis hy’s daar. Hy is nou rustig en baie excited oor die show.

Het jy empatie met die regte Ellen Pakkies ontwikkel?
Ek kan nie dat my werk en die regte lewe met mekaar oorvleuel nie. Wie is ek om te sê sy was reg of verkeerd? Ek was nie self in die situasie nie.

Julle het eers vir haar die stuk alleen opgevoer. Wat was haar reaksie?
Die ervaring was baie nerve-racking en emosioneel. Ná die tyd het ons almal saam gehuil en moes ons mekaar troos.

Is dit moeilik om die hoogs emosionele rol saans by die teater te los?
Dis elke keer ’n erg ontstellende ervaring. Ek moet myself debrief. Ek sit vir vyf minute lank doodstil sodat my liggaam oor die skok kan kom.

Wat doen jy wanneer jy nie werk nie?
Ek lees baie. Veral dramas, boeke oor die teater en acting. Ek skryf ook graag – enigiets wat in my kop kom. Verder doen ek alles wat ’n normale 27-jarige doen. Ek hou ook soms partytjie. Op ’n dag af speel ek en my flat-maat, Maurice Page [Calvin van Isidingo], heeldag die TV-game Xbox.

Waar lê die grootste uitdaging van teks skryf?
Dat die gehoor aanklank by die teks sal vind en daarom hande sal klap.

Wil jy graag die skryfwerk verder neem?
Op die oomblik het ek nog nie sulke planne nie, maar ek sal dit in die toekoms oorweeg om ’n boek te skryf. Waaroor weet ek nog nie.

Enige raad aan jongmense?
Jy moet ’n doel en visie hê. Hou op sê wat jy alles gaan doen en dóén dit ’n slag.