FOTO: M-Net

Ons praat met

Fanie Cronjé deel sy ervarings as Survivor-‘deelnemer’

Survivor: Hier kom ’n ding!

Toe hy saam met ander joernaliste Survivor gaan speel het op ’n geheime eiland in die Suid-Chinese See, het Fanie Cronjé gou geleer: dit wat jy insit, is wat jy uitkry …

Daar’s 12 van ons op die O.R. Tambo-lughawe, Johannesburg. Almal mediamense. Party ou kennisse, ander nuwes, maar ons het almal een ding gemeen benewens ons geheime eilandbestem- ming: ons is ingeënt teen cholera, geelkoors en ’n siekte wat jy kan kry as ’n rot jou byt …

Die spankapteins, Binneland-akteur en vorige Survivor SA-wenner Hykie Berg, en Vanessa Marawa, model en radiopersoonlikheid en wenner van die eerste Survivor, is ook in die vertreksaal, op pad na die eiland waar ons vir drie dae Survivor sou speel. (Dis enkele dae voor die regte deelnemers aan die gewilde M-Net-werklikheidsreeks daar sou aankom.)

Die Survivor-eiland is ’n lang deurnag-vlug tot op Singa- poer, ’n verdere lang busrit (en meer as een doeanepos), plus ’n rit per veerboot ver.

Op die veerboot kan jy nie help dat ’n groot onsekerheid jou bekruip oor wat voorlê nie, veral toe ’n storm begin broei. Die eiland lê op die horison, met ’n donker wolk wat agter hom groei soos ’n dreigende Oosterse draak. Almal raak stil. Ek kan nie anders as om te begin analiseer wie is swakker of sterker as ek nie. Dan gaan ons aan wal.

Die volgende oggend ná ontbyt vertrek ons per boot van- af ’n nabygeleë kaai. Net met die klere aan ons lyf. Ons word afgelaai op ’n vlot in die see. Daar’s ’n paar oorlewingsgoed om uit te kies. ’n Pot. Hout. ’n Paar kokosneute en ’n bondel lang bamboes. Iemand skree: “Aksie!” Ons spring in die water en begin swem strand toe. Die games het begin …

DAG 1

Ons spring weg

Dis stil onder die water. Byna salig, so tussen die borrels. En dan met die opkomslag hoor jy dit, die chaos van water wat spat en mense wat skree: “Swem! Swem!”

Ek en Hykie hou tussen ons ’n bondel bamboes vas. (Dit dryf en ons sal daarmee kan kamp maak.) Ek het net die swembroek en hemp aan my lyf – nie eens ’n sweetpakbroek nie, wat nog te sê tandepasta of deodorant … dis nie oorlewingsgoed nie. My arms brand. Maar my pose sal ek hou. Al is die strand baie verder as wat dit lyk. Ek sal wraggies nie lyk asof ek nie kan swem nie. Ek kom derde op die strand aan. Daar word ons in twee spanne van ses elk verdeel. Ek is in Vanessa se span.

My eerste uitdaging

Dis tyd vir die eerste uit- daging. Een teen een. Dis ek teen Hykie. Ons word met
’n stuk tou rug teen rug geharnas. Ons moet albei ’n sak wat ’n paar treë verder begrawe is, uit die sand trek. Elkeen in die teenoorgestelde rigting. Met dieselfde doelwit: ’n sakkie rys.

Hykie is ’n sterk man, fisiek en emosioneel. Ek het geweet hier kom ’n ding.

Ná ’n tweestryd – trek, loslaat, neerval, opstaan, weer probeer – wat voel soos ’n ewigheid, kom die besluit uitein- delik: gelykop. Want nie ek of Hykie wil ingee of oorgee nie. Die ander sê dit was nogal epies. Ek dink self so. En
ek weet ook nie hoekom almal so verbaas was oor my krag nie. Ek het dalk nie ’n sixpack nie, maar ek is beslis nie ’n papbroek nie. Ek doen immers al jare Biodanza en ook so ’n bietjie joga.

Ná nog ’n paar uitdagings van ander spanlede is ons daar weg na die strand wat ons huis sou word. Met ’n seil, ’n pot, ’n mes en ’n vuurklip (flint) om vuur te maak.

Kamp opslaan …

Eers moet ons kyk waar om die seil te lê. Dit kan nie in die koelte kom nie, want die goggas vreet jou op. Dit kan nie te naby die water wees nie, want die gety kom later in. Deur die vuur tussen ons en die bosse te maak, kan ons ten minste daai onsigbare gediertes weghou. Nou moet ons hout kry. Dis ’n lang nag wat voorlê.

Toe ons begin kamp opslaan, begin die werklikheid in- sink. Mense is moeg, emosioneel, honger … En toe iemand boonop vorendag kom met die versteekte immuniteitsbeeld- jie begin party warm om die kraag raak. Met die beeldjie in die sak kan jy nie uitgestem word nie. Hier beskuldig een persoon iemand van knoeiery, en daar een van “luiheid”. Vergete is die nuutgevonde vriendskapsbande.

Ek besluit die beste is om te gaan swem. En om te lag. Wat kan ons nou maak? Teen sononder eet ons elkeen ’n happie rys uit ’n skulp. Die vuur brand darem. Maar ons hoor heeltyd ’n gekraak en geritsel. Hoe laat ek aan die slaap geraak het, weet ek nie. Ons lê ingeryg langs mekaar en met iemand anders se lyf as jou kombers, met net die seil tussen jou en die sand. Heelwat later, toe die donderweer blits, het ons wakker geword en onder die seil ingekruip.

Ons huis op die strand FOTO: M-Net

Ons huis op die strand FOTO: M-Net

 

DAG 2

Ek skrik wakker wan- neer iemand op my bulder. Ons moet gereed maak vir nog ’n uitdaging op ’n ander strand. Die stryd begin
van voor.

Vir die volgende uitda-
ging word elke span in twee
verdeel. Ná my skitterende fisieke prestasie van dag een word ek ingespan vir alles wat krag verg. Hier gaan dit nie oor my goeie breinkrag nie. Die res het van gister af besluit dit word geïgnoreer. Hardloop, spring en swem is wat ek moet doen.

Ek is dus in die groep wat die see inswem om bokse van ’n stellasie af te haal en aan ’n tou te haak. Jy word dan met jou boks deur die res van jou span terugkatrol land toe. Ek het vinniger geswem as wat hulle kon katrol en is gou terug op vaste aarde. Sodra al die bokse op land is, moet jy ’n reuse-legkaart bou wat dan opgehys en gehang word. Ons wen elkeen ’n halwe appel.

Dis die middel van die dag en nog ’n uitdaging wag. Dis warm en jy moet ’n bal op twee stokke balanseer terwyl jy deur ’n hindernisbaan van ’n paar meter klim.

Benewens die dag se ander uitdagings is daar die erge emosionele struikelblok: die groot wag dat iets moet gebeur. Jy voel onseker. Hoe laat dit is, weet jy nie. Jy is moeg, jy is honger. En jy bly nat. Of van swem of van sweet. Daar is nêrens om te sit nie. Orals brand die son neer. Jy bly uit die bos en die koelte behoort aan die miere. Later breek daar ’n storm los. Nou is jy nie net nat nie, maar koud ook.

Stres keil jou op. En heeltyd is daar ’n kamera in jou gesig.

Uitstem-tyd

Iemand moes uitgestem word. Teen skemertyd kom hulle ons haal. Ons stap na ’n mooi stel met ’n seerower-tema. Dis soos ’n verlore stad, versteek op die eiland. Groot ateljeeligte staan tussen bome en bosse. Vure brand. Dis showtime.

Maar dis glad nie lekker nie, want een van ons gaan uit- gestem word. En so bekruip die onsekerheid jou.

Ek is sterk, en dit maak my ’n groot bedreiging. Vroeër toe die res van die spanlede begin knoei en konkel het, het ’n klompie van ons sommer gaan swem.

By die “tribal council” moes ek boonop hoor hoe ek iemand anders uit die slaap gehou het, want ek het die hele tyd gesels. Dis waar. Ek het heerlik gekuier.

Ons span het verloor en ons moes ’n spanlid uitstem. Arme Dima. Sy het loshande verloor. Ek het self ook maar vir haar gestem, want fisiek kon sy nie die mas opkom nie.

DAG 3

Dis als verby …

Nou stuur hulle ons huis toe. As jy gedink het Survivor is ’n oëver- blindery, dink weer. As die kameras ophou rol, hou die oorlewingstryd aan. Daar is nie kospakkies en komberse nie. Ja, daar is altyd ’n dokter, maar net vir noodgevalle. As jy gly op ’n rots en jouself sny, moet jy maar bloei. Ek sit met die merk op my been.

Survivor het my geleer: as iets maklik lyk, is dit nie noodwendig maklik nie. Dit lyk maklik, juis omdat die een wat dit doen, dit so goed doen.

Daar op die eiland is jy rou en gestroop van hoe jou wêreld jou maak. Weg van die sekuriteit van jou mense wat jou veilig hou; jou warm bed; jou mooi huis; jou lekker kos. En dit wat jy aangeleer het wat nooit regtig jy was nie. Nou is dit jy, jouself en Moeder Natuur. Sy sal besluit of jy warm of koud, honger of versadig is. Hoe jy jou wêreld benader, is presies wat jy gaan terugkry. Dit wat jy insit, is wat jy sal uitkry. En die groot beloning is dat my gestroopte self, soos ek regtig is, die heel beste ek is.

ONS BEDANK …

Singapore Airlines, wat die mediagroep vervoer het en
wat daagliks vlieg van O.R. Tambo na die Changai-lughawe, SIngapoer. Suid-Afrikaners kan ook die lugdiens kies vir vlugte na 60 bestemmings in 30 lande. Die Changai-lughawe is bekend vir inkopies en vermaak. Buiten die filmvertonings, handelsnaam-winkels en speletjies-arkades is daar ook pragtige tuine. Besoek www.singaporeair.com

Survivor SA: Champions begin 19 Januarie om 17:30 op M-Net. Dit word ook die volgende Saterdag herhaal op M-Net Series Zone.