46_footloose_pre_publicity_pics_apr_2009
Ons praat met

Footloose se danser ‘ry op golwe’

High School Musical se Carmen Pretorius vat skaars grond. Sedert sy M-Net se werklikheidsreeks High School Musical Spotlight South Africa 2008 gewen en die rol as Gabriella Montez in dié verhoogproduksie losgeslaan het, ry sy “op golwe van vreugde”. Dié 19-jarige Gautenger is binnekort te sien in Footloose, the Musical*, in die vroulike hoofrol as Ariel Moore, die priester se dogter. Sy gesels met Mercy Morkel oor haar loopbaan wat op 7 begin het.

Openingsaand … High School Musical. Hoe’t jy gevoel?

Ek het vir 6 maande HSM gelééf en ingeasem. En toe, die gewag vir die gordyn om oop te gaan! Ek was intens bewus van ervare akteurs, resensente, regisseurs, familie en die mense wat vir my gestem het, aan die ander kant van die gordyn. Daar was ’n mengsel van emosies agter die skerms. Ek het ’n gesonde hoeveelheid druk (lag) ervaar en wóú my beste lewer.

Hoe hou jy jou emosies in toom?

Ek tree sedert my sewende jaar op voor gehore, insluitende produksies van my alma mater, Hoërskool Northcliff in Johannesburg. Ek het tegnieke gevind om druk te hanteer en die fladdering in die maag te beheer. Ek is baie gefokus en kan oorweldigende emosies eenkant skuif wanneer ek werk. Ek is ’n positiewe denker en glo alles sal oukei wees. En dit werk áltyd.

Footloose, the Musical het lekker skop, met uitstekende danstegnieke. Of is sang jou sterk punt?

Sang is my groot liefde, hoewel ek eintlik eers gedans het, nl. meer ballet, moderne en klopdanse. Ek het op 13 begin hip-hop. Op 14 het ek uitsluitlik op my sangloopbaan begin konsentreer. Ek kan egter nie wag om in Footloose te dans nie. Carlo McFarlane* (manlike hoofspeler) se talent inspireer my en ek glo ek sal baie van hom kan leer.

Wat is die verskille of ooreenkomste tussen jou en jou Footloose-karakter?

Ek en Ariel is albei onafhanklike siele, spontaan (soms bietjie roekeloos) en ons wil nie onderdruk word nie. Ons is albei jonk en vind ons pad deur die lewe. Maar anders as Ariel, het ek nog nie ’n gesinslid aan die dood afgestaan nie.

Verloop alles altyd glad op die verhoog?

O nee, beslis nie! Ek dink fratsongelukke spook by alle verhoogkunstenaars. Ek onthou in HSM het ’n hoofdanser se skoen tydens ’n dansroetine uitgeval! Sy moes maar voortgaan. Ek het in my loopbaan drie keer van die verhoog afgeval, my romp het op ’n keer tot by my knieë gesak en ek het al ontelbare klankprobleme ondervind. Maar the show must go on!

Jy’t ook ’n draai in Japan en Amerika gemaak. Vir ’n vakansie?

Ek het op 16 as lid van ’n SA groep tienermusikante in Japan in ’n show eenheid en vrede deur middel van musiek bevorder. Ons het gedans en liedjies gesing van The Black Eyed Peas (Amerikaanse hip-hopgroep), Michael Jackson en wyle Miriam Makeba. Ons het in groot konsertsale soos Kani-hoken Hall in Tokio opgetree, asook reg langs die rivier in Hiroshima, met die herdenking van die verskriklike kernbom-aanval van 1945. ’n Jaar later het ek in die sang- en toneelkategorie aan die Wêreldkampioenskapsbyeenkoms vir die Uitvoerende Kunste in Los Angeles deelgeneem. Ek het drie goue en twee silwermedaljes huis toe gebring.

Hoe het jy jou skoolwerk in jou besige program ingepas?

Ek het in Julie 2008 my matriekjaar gestaak om aan HSM deel te neem. In Maart vanjaar het ek my matriekeksamen afgelê, en met ’n B-gemiddelde en drie onderskeidings geslaag. As die tyd my toelaat, wil ek graag musiekteater studeer.

 

*Footloose, the Musical word van 10 Julie tot 23 Augustus 2009 in Joburg Theatre (voorheen bekend as Johannesburg Civic Theatre) opgevoer. Kaartjies is by Computicket beskikbaar.

 

*Carlo McFarlane speel Ren McCormack, dieselfde rol wat Kevin Bacon in dié 1984-fliek gespeel het en sy loopbaan ’n geweldige hupstoot gegee het. McFarlane het in 2004 die Naledi Theatre-toekenning ontvang vir beste nuweling as Tyrone in Fame, the Musical. Sy deurbraak het gekom in e.tv se Backstage, as Shaun. Hy’t ook in die kyk-NET-sepie Villa Rosa en in die gewilde TV-reeks Muvhango gespeel.