Mandi met Jeandré net ná sy geboorte
FOTO: Cilla Bloom Photography

Mandi met Jeandré net ná sy geboorte FOTO: Cilla Bloom Photography

Ons praat met

FOTO’S: Mandi Baard se eersteling

Alles was beplan. Haar tasse vir die hospitaal was lank reeds gepak. Die Kwêla-aanbieder Mandi Baard (née du Plooy) en haar man, Schalk, was slaggereed vir die koms van hul eersteling, maar dinge het vinniger gebeur as wat hulle verwag het. Boonop het Mandi ’n bakteriële infeksie opgedoen ná die noodkeisersnee byna ’n week vóór die beplande datum. Sy deel haar storie en hul pragtige gesinsfoto’s met SARIE.com.

Op pa Schalk se verjaardag het Jeandré Laubscher Baard sy verskyning gemaak – ietwat vroeër en meer dramaties as wat verwag is. Mandi sou weens ’n vorige operasie (gewasse is van haar baarmoeder verwyder) nooit normaal kon kraam nie, daarom is ’n keisersnee beplan. Maar nadat sy meer as ’n week voor die beplande datum ’n draai by die dokter moes maak, het hulle agtergekom haar plasenta het begin verkalk.

Sy is op bedrus geplaas en ná nóg ’n ondersoek is besluit dat haar keisersnee oor ses dae moet plaasvind. Twee dae ná dié besluit het sy egter wakker geword met konstante pyn, wat volgens haar nie kraampyne was nie. Nadat sy vir haar vriendin Michelle Beling (hulle het saam in Egoli gespeel) vertel het hoe sy voel, was sy oortuig dat Mandi in kraam is. Michelle het ná werk by Mandi gaan kuier omdat Schalk die dag ver van die huis gewerk het. Terwyl Michelle daar gekuier het, het Mandi begin bloei. Michelle het haar dadelik hospitaal toe geneem, waar hulle agtergekom het dat Mandi reeds kontraksies het en hulle het haar begin voorberei vir ’n noodkeiser.

“Toe het die skok my getref. Ek het besef daar is geen voorbereiding wat ek kan tref nie. This was it. Ek was in skok, dalk so ’n bietjie histeries, want ek kon nie ophou giggel nie! Maar ek was vreeslik opgewonde, veral omdat dit perfek op Schalk se verjaardag was – die spesiaalste geskenk waarvoor hy ooit kon gevra het!

“Die volgende oomblik het my vriende opgedaag en die aand vervolmaak. Toe hulle my met Jeandré op my bors by die teater uitstoot, het al ons wonderlike vriende en familie ’n tonneltjie gemaak – byna soos by ons troue!”

Die infeksie …

Mandi het twee dae later baie siek gevoel en kon geen kos inhou nie. Ná ’n hele dag met geen verbetering nie, is sy op ’n drup geplaas om te hidreer. Drie dokters – haar ginekoloog, ’n internis en ’n gastroloog – het gesukkel om vas te stel wat fout is.

“Dit was baie traumaties omdat hulle nie geweet het wat fout is nie en ek kon nie dadelik my seuntjie behoorlik geniet nie. Jeandré was deur die dag by my en het in die aand in die kinderkamer gaan slaap. Ek kon ook nie in dié tyd borsvoed nie, en my droom van die ‘perfekte ma’ is effe vernietig.”

Toe hulle uiteindelik vasgestel het dat Mandi ’n bakteriële infeksie opgedoen het en sy die regte medikasie gekry het, het sy die dokters oortuig dat sy gesond genoeg was om huis toe te gaan. “By die huis het dinge inmekaar getuimel, want ek was allermins gesond – gelukkig het ek ’n raakvat-man wat sy rol as Pappa dadelik met flying colours geslaag het. My ma het ook van die Kaap af kom kuier en was vir ons ’n lewensredder. Ná 10 dae sonder vaste kos het dinge begin verbeter en kon ek 100% ’n ma vir my liefste seuntjie wees!”

FOTO: Cilla Boom Photography

FOTO: Cilla Bloom Photography

Wat sien jy as jy in Jeandré se oë kyk?

“Dit maak nie saak hoe moeg en moedeloos ek is nie, as ek in daai diepste blou ogies kyk, smelt my hart en die moeg verdwyn vir ’n oomblik. Dit voel vir my asof Jeandré se ogies ’n diep persoonlike staar het. Met daardie kyk sal elke oorlog kan bedaar en mense sal God se skoonheid en liefde dadelik kan sien.”

FOTO: Cilla Boom Photography

FOTO: Cilla Bloom Photography

Hoe het julle sy naam gekies?

“Om die naam te kies was ’n baie lang proses. Dit was vir ons belangrik dat sy naam ’n besonderse betekenis het. Schalk was nooit 100% oortuig van my keuses nie en ek ook nie oor syne nie! Tot die dag dat ons ‘Jeandré’ gehoor het. Dit was die eerste naam waarvan ons albei gehou het. Ek het die naamsoek-proses dadelik gestop en eers opgesoek wat die naam beteken. Ek het toe gesien Jeandré beteken God is gracious. Ons het dadelik geweet dit is die naam wat God vir hierdie wonderwerk-babatjie uitgekies het!

“Alhoewel ons nie tradisioneel is as dit by familie-name kom nie, het ons my ma se nooiensvan, Laubscher, as Jeandré se tweede naam gekies. Dit is ook die tweede naam van my oudste broer, Johann, wat ook Jeandré se peetpa is. Dit is daarom ekstra spesiaal dat dié twee dieselfde voorletters het.”

Raad vir ander vroue wie se geboorteplan omver gegooi word

Moenie te veel probeer beplan nie, want dinge werk selde só uit. Dan kan dit ’n groot teleurstelling wees pleks van ’n reuse-avontuur. My grootste wenk: As jy tydens swangerskap of as mamma moeg en moedeloos is, veral omdat dinge nie uitwerk soos jy dit beplan het nie, sit terug en onthou watter wonderwerk jy in jou maag of in jou arms  het. En sê dankie vir die grootste geskenk wat jy ooit sal kan kry!”

FOTO: Cilla Boom Photography

“Alhoewel Jeandré ons heeltemal onkant gevang het, was dit eintlik vreeslik opwindend om só verras te word – alles het perfek uitgewerk soos dit moes!” FOTO: Cilla Bloom Photography

Foto's verskaf deur Cilla Boom Photography

Foto’s verskaf deur Cilla Bloom Photography

  • Johlet

    Ag moedertjies! Baie geluk Mandi!
    xxx