FOTO: Sandra en Marius in Kringloop van die liefde in 1968.

FOTO: Sandra en Marius in Kringloop van die liefde in 1968.

Ons praat met

FOTO’S: Marius Weyers en Sandra Prinsloo deur die jare + WEN kaartjies

Ná byna 20 jaar is Marius Weyers en Sandra Prinsloo vir die eerste keer weer saam op die verhoog. En soos ’n ou danspaar val hulle dadelik in by mekaar se ritme, wat hulle so goed ken …

Die hele wêreld het in 1980 verlief geraak op Sandra Prinsloo as die lieflike skooljuffrou Kate Thompson en Marius Weyers as die onbeholpe bioloog Andrew Steyn in Jamie Uys se gewilde (en immergroen) rolprent The Gods Must Be Crazy.

Maar vir Suid-Afrikaners was hierdie twee akteurs toe reeds jare lank ’n hele generasie (en meer) se goue verhoogpaar. Onvergeetlik as Tiemie en Jakes in Siener in die suburbs. Jong verliefdes in Die laaste van die takhare. Al singend in Ampie op die diekens. Daar was ook ander flieks en TV- en verhoogproduksies, tot die laaste saamwerk in Hamlet in 1986. Nou, ná byna twee dekades, span die twee groot name weer saam.

Sandra Prinsloo Marius Weyers April 2014

In Maart tydens die Woordfees op Stellenbosch was hulle in Wie’s bang vir Virginia Woolf? te sien, en in April by die KKNK speel hulle ook in Vir ewig en altyd. Dié tweemanstuk, swaar dog humoristies, gaan oor ’n man en sy terminaal siek vrou wat genadedood oorweeg. Dis moeilik om enigiemand anders as dié twee akteurs, wat mekaar so goed ken, in die rolle in te dink. Die vertaling en regie is die werk van die bekroonde regisseur/vervaardiger Hennie van Greunen van Wordsmith’s Theatre Factory.

Die vonk tussen die twee was al die jare onmiskenbaar op die skerm en die verhoog, en dis steeds daar, al bly dit net professioneel. Hulle gesels oor hul jare lange reis …

Sandra vertel

“Ek en Marius soek al jare lank ’n nuwe stuk om saam in te speel, maar ons kon net nie die regte een kry nie. Ons het kontak behou deur die jare en gereeld gesê ons wil weer saamwerk. Toe ek dus in 2012 met die toneelstuk Sewing Machine na die Edinburg-fees is en And No More Shall We Part daar sien, het ek sommer dadelik geweet dís die een.

Dis ’n moeilike stuk wat groot filosofiese vrae vra. As net pyn en angs vir jou voorlê, wonder ’n mens wat jy sal doen en dink. Dis ’n hartverskeurende storie – sy het reeds die reis met haar gevoelens afgelê oor haar besluit om genadedood te ondersoek, en nou moet hy dit saam met haar doen. Ek kan verstaan dat iemand só sal voel, maar die mens se natuur is tog om te wil oorleef, al is die hoop hoe skraal. Dus behels genadedood ’n lang proses, wat berading insluit, en die meeste mense voer dit op die ou end nie deur nie.

Sandra Prinsloo Marius Weyers April 2014

Die stuk het my aangegryp, maar ek het nie gehou van hoe dit daar gedoen is nie – dit was koud en onpersoonlik. Ek het geweet ek en Marius kan dit anders maak. Dis wonderlik opwindend om weer saam te werk.

Ons was in baie romantiese rolle, want daar is ’n vonk tussen ons op die verhoog. ’n Mens weet nie wat dit veroorsaak nie, jy kan mos nie ’n vonk verduidelik nie. Maar ek dink dit het te doen met ’n absolute vertroue – ons weet altyd wat die ander een gaan doen. Ek het dit waarlik besef die dag toe hy my in Siener in die suburbs in een toneel met ’n ketting moes ‘slaan’. Dit sou my angsbevange gemaak het as iemand anders as Marius daardie toneel moes doen, maar ek het geweet hy sal nét naby genoeg slaan maar nét ver genoeg dat ek nie seerkry nie. En hy het ook.

Ek bewonder Marius se toneelspel. Hy’s tegnies goed, maar hy leef homself ook in sy rolle in. Daar’s niks foefies nie. En ons glo in ’n spanpoging – nie een van ons wil die kollig steel nie, maar eerder die produksie vir die span ’n sukses maak.

Agter die skerms is hy stil, en hy hou nooit op werk nie – lank nadat ons ander al begin rondskerts ná ’n dag se werk, is hy steeds aan die gang. Ons sal soms, as die druk ’n bietjie erg raak, omgekrap raak met mekaar en ek dink ek het my een enkele keer in al die jare wat ons saamgewerk het vir hom vererg, maar wanneer die finale produksie klaar is, sal ons altyd weer ’n glas wyn kan drink en lag oor alles.

Een van my gunsteling-tye was toe ons saam aan Die vasvat van ’n feeks gewerk het. Dit was ’n baie fisiek uitdagende produksie, maar almal was vrolik en ons het heeltyd gelag. As ’n mens so lekker saamwerk, vlieg die tyd sommer.

Ons was altyd na aan mekaar, so ek kan eintlik verstaan hoekom mense gedink het ons is saam – boonop dink mense mos jy is jou karakter in die regte lewe! Ons het dit maar afgelag en aangegaan, soos altyd.”

Sandra Prinsloo Marius Weyers April 2014

Marius vertel

“Ná Hamlet in 1986 het ons albei iets nuuts gesoek om saam te doen, maar niks wou werk nie. Toe Sandra die Engelse weergawe van Vir ewig en altyd in Edinburg sien, het sy laat weet dís die een en ek het dadelik saamgestem.

Die stuk het by ons albei geresoneer. Dis snaaks, soos seer situasies soms is, maar dit laat ’n ou ook dieper dink. Ons albei voel jy moet die vryheid hê om só ’n besluit te kan neem as siekte ondraaglik raak, die keuse om te sê: ‘Tot hier en nie verder nie.’ Dis dus nie ’n maklike stuk nie – jy moet fyn ingestel wees op mekaar en die ander akteur kan vertrou. En dít het beteken dis perfek vir ons.

Ons het soveel jaar saam gewerk dat dit soos fietsry begin word het – jy ken mekaar se ritme en jy vergeet dit nie weer nie, selfs ná 20 jaar. Om saam toneel te speel is soos ’n dans. Soms struikel ’n mens oor die ander een se voete, maar as jy mekaar se ritme verstaan, gebeur dit nie. Ek en Sandra is só.

Ons is lief vir mekaar, maar dit was nog nooit romanties nie. Ek onthou wel ’n publisiteitspersoon het ons eenkeer gevra om te maak asof ons ’n verhouding het omdat gehore dit so graag wil hê. Ons het natuurlik geweier – daarvoor het ons heeltemal te veel respek vir mekaar!

Maar ons het van vroeg af saam begin werk in jong romantiese hoofrolle. Ons eerste was Die laaste van die takhare. Ek het haar nog haar eerste verhoogsoen gegee! Sy was beeldskoon en so onskuldig – sy’t my nog gevra of ’n mens dan regtig soen as jy op die verhoog soen.

Sandra Prinsloo Marius Weyers April 2014

Ons het só saam geleer toneelspeel, met ’n hegte groep  ander akteurs wat tot ses verhoogstukke per jaar gedoen het. Daar was nog nie TV nie en rolprente was skaars.

Ons deurbraak was met Kringloop van die liefde. Daarna het ons ook saam leer sing in produksies soos Ampie op die diekens. Ek onthou nog Sandra het ’n wiegeliedjie daarin gesing waaroor die regisseur haar aanhoudend uitgetrap het. Sy’t so diep begin sing dat ek nie kon inval nie. So ’n regte basstem, kan jy glo!

The Gods Must Be Crazy was weer harde werk. Daar is een toneel waar die Land Rover in ’n rivier vassit, dan tel ek vir Sandra op en struikel. Dit was nie toeval nie – ons het daardie toneel oor en oor en oor gedoen, tot ons stokflou was. Later die dag, toe ek so struikel en dan moet spring om die Landy se smoorklep te trek, het ek my rib beseer, en moes dit wéér oordoen. Toe ons dit uiteindelik regkry, het ek daardie aand vertrek om aan ’n ander produksie te werk, en toe maak hulle arme Sandra dit nóg ’n klomp keer doen met ’n ander akteur!

Maar sy’s taai. In Siener in die suburbs moes ek haar soveel keer gryp dat sy vol bloukolle was, maar sy’t nooit gekla nie. Sy’s ook baie eg op die skerm en gee nie voor nie.

Sandra Prinsloo Marius Weyers April 2014

Dis snaaks om nou terug te kyk – hoe dinge verander het. Ek was so ’n regte benoude-boude jong akteur, dit was my droom om my loopbaan te laat werk, my alles. Sy nie. Sy’t hope talent, maar sy het gesê sy sal dit so vir ’n jaar probeer en dan kyk wat sy verder wil doen. Nou werk sy haar dood en ek doen minder.

Dis een groot plesier om weer saam met Sandra te werk. Jy besef nie hoe vinnig tyd verbygaan nie. Mense is intussen van ons weggevat, en dit tref jou dat jy elke dag en elke nuwe geleentheid moet geniet: Ons waardeer mekaar nou veral.”

Sandra Prinsloo Marius Weyers April 2014

WEN een van 5 dubbelkaartjies na Vir Ewig en Altyd met Marius en Sandra

Waar? Bellville Burgersentrum in Voortrekkerweg
Wanneer? 
13, 16, 21, 23, 24 Mei om 19:45 en twee middagvertonings op 18 en 25 Mei om 16:00. Bespreek by Computicket.

Vul die inskryfvorm hieronder in om in aanmerking te kom.

WEN een van 5 dubbelkaartjies na Vir Ewig & Altyd