Ons praat met

François Bloemhof gesels oor die roman ‘Pad na jou hart’

Die bekroonde Afrikaanse skrywer François Bloemhof se nuwe boek Pad na jou hart is nóú op die rakke. En al jeuk sy vingers meestal vir speurverhale en rillers, het hy nie geskroom toe dié projek sy pad kruis nie. SARIE.com het met hom oor dié nuwe boek gesels.

Wat het jou geïnspireer om die skrywer vir die Pad na jou hart-boek te wees?

Soms het ek niks meer inspirasie nodig as om net ’n goeie idee te hoor nie. Verder het Ivan Botha reeds ’n paar jaar gelede opgetree in ’n toneelstuk wat ek geskryf het, Hel op Hemel-en-Aarde. Ons het kontak behou en ek het geweet hy is professioneel, net soos wat Donnalee Roberts is. ’n Mens raak deesdae nie by ’n projek betrokke voor jy seker is jou medewerkers het die professionalisme om dit deur te voer nie. Verder gebeur dit so min dat ’n Afrikaanse boek ’n rolprent “vergesel” dat ek gevoel het dis nodig om dit te skryf. Maar les bes (of ek moet eerder sê eerstens) is dit ’n lekker storie!

Jy skryf nie gewoonlik dié tipe boeke nie. Was dit vir jou ’n groot aanpassing om ’n liefdesverhaal te skryf?

Nie te veel nie. Ek het al ’n klomp liefdesverhale vir tydskrifte geskryf. Dié een was natuurlik net veel langer! Ek was ook twee jaar lank verhaleredakteur by SARIE en die meeste stories wat ek ingekry het om te oorweeg, was liefdesverhale. Ek het ’n aanvoeling vir daardie soort storie ontwikkel en stel boonop belang in mense, en dus ook in karakters. Hierdie keer bevind my roman-karakters hulle bloot, anders as gewoonlik, in ’n liefdesverhaal.

Die draaiboek van die film was reeds geskryf toe jy met die roman begin het. Hoe het dit jou skryfproses beïnvloed?

Ek moes die beheervraat in my doodslaan … Dit is nie karakters wat ek geskep het nie, maar ek moes nog steeds in hulle glo. Ek kon hulle nie neem in rigtings wat ek self kies nie, want daardie paaie (na die hart!) was reeds gebaan. Die dialoog en gebeure was vasgelê, maar ek het die vryheid gehad om vir die karakters gedagtes en motiverings te gee. Ek moes nogtans inval by ander mense se visie en dit was ’n goeie oefening in dissipline.

Sal jy dit oorweeg om in die toekoms nog ’n liefdesverhaal of twee te skryf?

Dan sal ek die publiek regtig verwar. Dit is die enigste rede hoekom ek dalk nie sal nie. Maar ek sê nog nie nee nie, want ’n goeie storie is ’n goeie storie. Ek glo buitendien nie daaraan dat ’n skrywer net in een genre moet skryf nie, al maak dit op ’n kommersiële vlak sin om jouself so in te perk. Ek wil nie my eie handelsmerk wees nie, dit sal vir my baie sinies voorkom. As ’n goeie storie van énige soort by my aanklop, sal ek dit nie summier wegwys net omdat dit nie inpas by my sakeplan nie. Ek het nie ’n sakeplan nie!

Lyk die beelde van jou karakters in die boek vir jou soos dié van die fliek?

Ja … want ek het gesorg dat dit so lyk. Nadat ek klaar geskryf het, het ek gekyk na die eerste rowwe snit van die fliek om seker te maak die omgewing word beskryf soos wat dit regtig lyk, te kyk wat gebeur in die agtergrond terwyl iemand praat, dalk te verwys na die klere wat ’n sekere persoon dra, ensovoorts. Maar die doel was nie om die rolprent slaafs na te volg nie. Net soos wat die regisseur sekere elemente in die draaiboek kon interpreteer en aanpas, kon ek ook. (Kyk hier na die lokprent van Pad na jou hart.)

Die boek word nou voor die fliek bekendgestel. Sou jy aanhangers aanraai om eers die boek te lees of liewer die fliek te gaan kyk en dan die boek te lees?

Mense kan maar self besluit. Wanneer ’n boek en fliek saamval, lees ek wel altyd eers die boek, maar ek is ’n woordmens. Moet ook nooit ’n skrywer vertrou wat vir jou skree “Koop die boek! Koop die boek!” nie …

Wie is jou gunstelingkarakter in Pad na jou hart? Hoekom?

Die manlike hoofkarakter, Basson van Rensburg. Hy is ’n interessante skepping met verskillende lae. Die fliek is nie net ’n liefdesverhaal nie, dit is ook ’n avontuurfilm, ’n padprent – en ’n karakterstudie. Basson anker dit, maar belangrik genoeg, dit gebeur deur sy reaksie op die vroulike hoofkarakter, Amory. Selfs wanneer Amory nie “optree” nie, het sy ’n effek op die gebeure. Sonder sterk hoofkarakters is geen storie interessant nie. Dit kan maklik gebeur dat ’n karakter in ’n liefdesverhaal voel soos duisende ander, maar hier het ek twee gekry waarmee ek iets kon doen.

Pad na jou hart

*Die Pad na jou hart-boekbekendstelling vind 27 November by Wordsworth Books by Willowbridge naby Tygervallei in die Kaap plaas. Gautengers kan dié bekendstelling op 4 Desember by Exclusive Books in Menlopark bywoon.