FOTO Leana Clunies-Ross

FOTO Leana Clunies-Ross

Ons praat met

Franja du Plessis: Ek moes uit my dop kruip

Die eerste dag op die stel van As jy sing, die nuwe Afrikaanse fliek waarin Bobby en Karlien van Jaarsveld speel, was vir Franja du Plessis scary. Haar hart het vinnig geklop toe die kamera die eerste keer in haar gesig “gedruk” is. “Ek is maar skaam,” bieg sy teenoor SARIE.com oor haar eerste fliek-ervaring.

Maar dié 19-jarige sangeres het vinnig gemakliker geword. Om voor mense op te tree is nie meer vir haar so vreemd nie, want sy sing nou meer gereeld saam met haar ma, Juanita du Plessis, op die verhoog. Maar toneelspel is heeltemal iets anders.

“André Odendaal (die regisseur) het my op die stel touwys gemaak en die aktrise Hanna Grobler (wat ook in die fliek is) het my baie gehelp.”

“Gelukkig was niemand op die stel werklik intimiderend nie. Ek het baie van die akteurs voor die tyd geken omdat my ouers in die bedryf is. En almal is baie nice mense. Ek het wel so paar keer gedink ‘Sjoe, ek is niemand en ek speel teenoor sulke groot name’.”

FOTO: Leana Clunies-Ross

FOTO Leana Clunies-Ross

As jy sing wemel omtrent van die sterre. Buiten die Van Jaarsvelds is Bok van Blerk, Hanna Grobler, Katlego Maboe, Robbie Wessels en selfs Naas Botha in dié fliek te sien. Die jonger akteurs is almal opkomende sterre soos Leah, Chanell van den Bergh en San-Marié Nel. ­­

En Franja het nie teruggestaan vir een van hulle nie.

“Ek moes vinnig leer om uit my dop te kruip. Dis nogal intimiterend om ewe skielik ’n kamera in jou gesig te hê en te act. Ek moes ook leer om nie om te gee oor wat mense dink nie. Want op die stel kan jy nie regtig omgee nie. Ek moes gemaklik word voor die kameras.”

Eksklusief: Nuwe fliek met Bobby, Karlien, Hanna en …?

Franja vertolk die rol van Marna de Jager wat in die skool se sanggroep Die Bekfluitijies sing. Die groep woon ’n sangkamp by en die volwassenes by dié kamp, asook die kinders, sorg vir groot opwinding.

“Ek vind nogal aanklank by Marna. Sy is skaam, maar kruip uit haar dop as sy sing. Ek is ook teruggetrokke, maar het die afgelope paar jaar begin ontdooi. En ek is baie lief vir musiek, soos Marna.”

Juanita du Plessis Oktober 2013Franja, wat verlede jaar met skool klaargemaak het, werk nou by Juanita Records. Sy wil graag musiek-vervaardiging studeer en sy en haar ouer broer, Ruan, tree gereeld saam op en werk aan ‘n album. Lees meer oor Franja en haar ma, Juanita, in die Oktober-uitgawe van SARIE – nou op die rakke!