Ons praat met

Gareth Cliff op verhoog saam met Morgan Freeman en Bill Clinton

Die radio- en televisiepersoonlikheid Gareth Cliff gesels met SARIE.com oor sy rol in die Amerikaanse huldeblyk aan Madiba en oor Idols South Africa.

Sy vlymskerp tong en humorsin het hom al in die moeilikheid laat beland, maar dis juis dít wat hom by baie ’n gunsteling maak. As radiopersoonlikheid met sy eie oggendprogram moes hy die oggend van 5 Desember – toe baie Suid-Afrikaners met die nuus wakker geword het dat oudpresident Nelson Mandela oorlede is – met die luisteraars praat. En die sosiale media het omtrent gegons oor Gareth se pragtige huldeblyke aan dié gerespekteerde man.

“Ek was dié oggend net so emosioneel soos die res van Suid-Afrika. Ons het musiek en dele uit Madiba se toesprake gespeel en oor hom gepraat. Ons het ook van sy familie en vriende gevra om met ons oor hom te gesels.

“Dit was intens. Maar ons het probeer om eerder sy lewe te vier as om hartseer te wees. Ek het wel een of twee keer emosioneel geraak op die lug. Die ding met radio is dat die luisteraars jou stemtoon kan hoor en so weet wat in jou kop en in jou hart aangaan – jy kan dít nie wegsteek nie.”

Gareth is gevra om saam met die Amerikaanse akteur Morgan Freeman seremoniemeester te wees by ’n konsert wat huldeblyke aan Mandela bring. Dié konsert word op 13 Februarie in New York City gehou. Bekendes soos Bill Clinton gaan toesprake lewer en die Soweto Gospel Choir* gaan ook by die geleentheid optree.

Wat was Madiba se rol in jou lewe?

Wel, hy was ’n reus. Dit voel onnodig dat ek oor my emosies moet praat as die res van Suid-Afrika dieselfde voel. Wat ’n wonderlike man wat onder ons geleef het … ons gelei het. Dit is ons verantwoordelikheid om nie sy legende te laat sterf nie.

Die gerugte loop weer dat jy Idols gaan verlaat. Is dit waar?

Ek hoor dié gerug elke jaar!

Jy gaan nou weer na die VSA om seremoniemeester by die Mandela-huldeblyk-konsert te wees. Wat is jou gunsteling-ding van die VSA?

Die tempo waarteen alles gebeur.

Gareth Cliff

Die plakkaat van die konsert waar Gareth saam met Morgran Freeman as seremoniemeester gaan optree

*Die Soweto Gospel Choir tree op 3 Maart op by nog ’n konsert wat huldeblyke aan Madiba bring. Dié konsert word in Londen by Westminster Abbey gehou en Aartsbiskop Desmond Tutu gaan dit ook bywoon.