feb07voorbladartikel1a
Ons praat met

Gareth en sy Kath

Die toneeltjie het romantiese siele laat swymel. Gareth Tjasink, blond en lenig, op die Survivor-eiland in Panama. En derduisende kilometers ver in Suid-Afrika: die vrou van sy hart, Katharine Fisher.

Danksy moderne tegnologie en ’n uitdaging wat Gareth in dié plaaslike werklikheidsreeks gewen het, kon hulle die eerste keer in weke gesels. “Og, hy het so saggies en móói met haar gepraat.” Een van die romantiese siele.

Onse Gareth is inderdaad ’n jintelman. Wat die stoel netjies vir sy Kath uittrek waar ons by die News Café in Sandton ontmoet. Hy is al etlike weke lank terug in Suid-Afrika, maar steeds hou hulle hande vas, vat hulle kort-kort aan mekaar. Skoon oorhoeks met mekaar.

Die lig wat momenteel op Gareth se blonde kop weerkaats, skep die illusie dat ’n stralekrans om sy kop hang. ’n Breë mond, soos ’n kindertekening. Keep in die regterwang. Dag oue stoppelbaard. Drukbaar. En stewig onder sy blad, ragfyn en blond, is Katharine. Geborge in die wete dat ander vroue maar kan begeer. Hulle kan nie vat nie.

“Ek wou só graag met hom praat, ek kon doodgaan,” sê Kath oor haar en Gareth se onverwagse geselsie.

Selfs al weet julle die hele land koekeloer?
“Ek het nie eens daaraan gedink nie. Gewoonlik is ek kamerasku. Ek was in M-Net se ateljee, maar het heeltemal van die kameraspan vergeet. Ek wou net met hom práát. Ons het toe nog maar ’n paar maande uitgegaan. Dit was in daardie eerste, dolverliefde fase . . . ” Gareth: “Dit het nog nie oorgewaai nie. Ons wil stééds die heeltyd bymekaar wees.”

Hy was loslit-sensueel as die gesig van Archers Aqua. Daar was ’n rol in Egoli. Pas is hy as ’n selfooninhoud-diensverskaffer se handelsnaam-ambassadeur aangewys. En hy is een van die mooi manne op vanjaar se Cosmopolitan-kalender. Op ‘n veel ernstiger noot: Hy voltooi binnekort sy internskap as dokter by die Chris Hani-Baragwanath-hospitaal in Soweto. En Gareth sê hy is eerstens dokter. Onbetwisbaar. Die res is . . . net pret.

Hy is ’n Maagd, en ’n tipiese een daarby. Ernstig oor die lewe. Vandat hy kan onthou, was dit moeilik om net te ontspan en pret te hê. Sy pa is in ’n motorongeluk dood toe hy vyf jaar oud was.

“Ek moes vinnig grootword,” sê hy met sy reguit blik. Hy is pynlik op detail ingestel. ’n Perfeksionis wat hoë eise aan homself en ander stel. “Ek soek net die beste.” En hy kyk betekenisvol na Kath. ’n Tikkie spelerige Leeu in dieselfde hutspot verklaar hoekom hy in die kollig blom. (Sy songebleikte maanhaar is ook onbetwisbaar Leeu.)

 

Sy is slimmer as ek, maar ek is altyd reg!

“Hy is lief vir dié soort ding,” sê Kath oor sy flirtasie met die kollig. “Vir my is dit ’n nuutjie. Ek was bang dat dit ons verhouding negatief sal beïnvloed.” Kath is ’n Steenbok, nes die Maagd ’n aarde-teken. Voete stewig op die grond, gedrewe in haar werk. Maar Gareth koester. En Gareth beskerm. Hy probeer haar altyd betrek.

Op glanspartytjies word hy egter soms diekant toe en dan daaikant toe getrek. En voel sý soos ’n muurblom. Deesdae tref hulle ’n kompromie: Hulle neem’n derde persoon saam om haar geselskap te hou. Kath sê die kollig-bedrywighede is vir hom ’n ontsnappingsroete. Sy internskap was moeilik. Dis lang en uitputtende ure en jy word aanmekaar met die donker kant van die lewe gekonfronteer.

“Negatiewe emosies het hom al meer beetgekry. En sy manier om die stres te hanteer is om uit te gaan, pret te hê, dinge te doen en mense te ontmoet. Om die middelpunt van aandag te wees. Nie dat hy doelbewus aandag soek nie . . .”

Dis so half sy natuurlike geboortereg?
“Jaaa . . . Hy geniet dit en dit laat hom ontspan.”

“Dit was ’n uitputtende jaar,” beaam Gareth. “Kath moes kyk hoe ek rondhardloop.” Kath voeg by: “Maar hy maak altyd tyd vir my. Hoe hy dit regkry, weet ek nie. Maar ons sien mekaar baie.” Dis dan ook hul raad aan paartjies in vandag se gejaagde lewe. “As Gareth met sy dol program vir my tyd kan inruim, kan enigeen.” Hulle glo ook aan probleme uitpraat sodra dit opduik. Gareth sê: “Ons baklei nie baie nie. Maar as dit gebeur, hou ons nie op voor ons ’n ding uitgesorteer het nie.” Hy is die soort ou wat meisies huis toe wil neem om aan Ma voor te stel. Kath sê haar ma is waarskynlik meer verlief op hom as sy. “Hy is ’n pragtige mens – en ek bedoel nie net sy voorkoms nie. Hy gee graag en sal nie ’n vlieg seermaak nie.”

Nou wat van die arme berugte pelikaan wat hy onthoof het?
“Dit was ’n uitsondering. Die enigste ander ding wat ek al ooit doodgemaak het, was toe ek per ongeluk ’n tarentaal raakgery het.” Kath gaan onverstoord voort. “Hy behandel my soos ’n prinses. As hy iets sê, bedoel hy dit. Daar is soveel redes dat ek nie eens kan begin om dit op te noem nie.” Gareth het net soveel sterre in sy oë:

“Sy is ongelooflik aantreklik en baie, baie slim. Sy doen haar MA-graad in neuro-sielkunde aan die Universiteit van die Witwatersrand en is lid van die Golden Key International Honour Society, ’n organisasie vir die top-10% akademiese presteerders aan ’n universiteit. Sy is slimmer as ek, maar ek is altyd reg!” Hy het meer common sense, sê Kath lojaal. Sy is glad nie materialisties nie, swymel Gareth verder. Sy elf jaar oue Mazda het al meer as 200 000 km gery. En haar Nissan is ook stokoud. “Ek grap altyd en sê sy het my vir my geld gekies. En dan sê sy: jaaa . . .”

Hulle het mekaar skaars ’n jaar gelede ontmoet. En amper het Gareth die verhouding gesink nog voor dit begin het. Kath sê: “Vertel jóú weergawe en dan vertel ek myne . . .” ’n Vriend van Gareth het hom gebel en gesê hy het ’n gorgeous meisie ontmoet, perfek vir Gareth. “Hy het haar nommer vir my gegee, maar dit het vreemd gevoel om iemand te bel wat ek nog nooit ontmoet het nie.” Hy bel haar toe nie. Maar wel ’n meisie wat saam met hom haar internskap doen en Kath ken. Grappenderwys sê hy toe: “Is Kath hot genoeg om ’n oproep te regverdig?” Hy het nie besef sy en Kath is van hul skooldae af goeie vriendinne nie. En sy vertel vir Kath. Wat glad nie dink dis snaaks nie. Maar hulle beland toe op dieselfde partytjie en ná ’n paar gesprekke besef sy hy is nie die arrogante kêrel wat sy gedink het nie.

“Sy ware persoonlikheid het gou deurgekom.” En Gareth: “Dis so duidelik nie ék nie dat dit eintlik snaaks is – ek is glad nie arrogant nie.”

 

Ons moes die verhouding net laat werk

Hulle was maar vier maande saam toe Survivor oor hul pad kom. Plat op die grond en albei in helende beroepe. Hulle het seker die nadele vir hul verhouding vooraf mooi uitgepluis? Maar die liefde ken nie rede nie. Hulle het kop eerste ingeduik en gehoop op die beste. “Ons móés dit net laat werk,” sê Kath. Gareth het ’n week voor die tyd gehoor hy gaan Panama toe. Hy moes boonop die hele week by die hospitaal werk. Daar was nie tyd om dinge te analiseer nie. Dalk was dit beter, reken Kath. Want hulle is albei geneig om dinge tot satwordens toe uit te rafel. Maar sy wás bekommerd oor hom.

“Hy was glad nie voorberei nie. Terwyl die ander deelnemers oor Panama kon lees, het hy gewerk. Daar was nie tyd om vas te stel hoe om vis te vang en watter kos om te eet nie . . .” Survivor was vir hom “rof ”, maar hy het dit geniet. Hy noem dit ’n “interessante sosiale eksperiment”. En wonder of hy Kath moet aanmoedig om ook te gaan. Nee, Kath deel nie sy geesdrif nie.

“Ek is skamer as Gareth. Ek weet nie of ek sal kan wakker word met kameras in my gesig nie. En ek raak knorrig as ek honger is . . .” En sy sal moet voorberei, gimnasium toe gaan. Hoewel sy op skool in Kaapstad aan sport deelgeneem het, is haar forte die akademie en musiek. Sy speel viool. Gareth het op skool in King William’s Town in die Oos-Kaap in veral waterpolo en swem uitgeblink. Die afgelope paar jaar het hy egter ook maar laat slap lê. As die Archers Aqua-ou in 2005 het hy wel in die gimnasium geboer. Maar dis waarskynlik ’n natuurlike fiksheid wat hom vier uitdagings ná mekaar in Survivor laat kafdraf het.

Is hy ’n metroman wat lief is vir manikure en gesigrome?
“Neee, maar hy is baie in voeling met sy vroulike kant,” sê Kath. “Dalk omdat hy hoofsaaklik saam met sy ma, Elizabeth, en jonger suster, Tarryn, grootgeword het. (Sy ma is weer getroud toe hy so 10 was.) Hy is baie na aan hulle. Maar manikure en rome . . .” “Neee,” beaam Gareth ewe hard. Wie kyk die meeste in die spieël?  Hy: “Jy.”  Sy: “Ek gaan dit betwis.” Hy: “Dit ís so. Ek kyk nooit in die spieël nie.” Sy: “Jy praat mos nou onsin!” Hy: “Neee.”

Oor een ding stem hulle saam. Daar is nog nie troupraatjies nie. Daarvoor is albei veels te ernstig oor hul loopbane. Hy wil in rekonstruktiewe chirurgie spesialiseer, sê Gareth en sprei sy lang vingers. Hy stel veral in gesigsrekonstruksie belang. Sy eerste ervaring daarvan was ’n man wat met ’n loodpyp in die gesig geslaan is en wie se gesig weer met metaalplate aanmekaar geskroef moes word. Kosmetiese chirurgie is nie uitdagend genoeg vir dié survivor nie. Gesigsontrimpelings, tummy tucks . . . dit word op ’n bepaalde manier genoeg. Daarenteen is rekonstruktiewe chirurgie ingewikkeld en interessant. Hoewel hy nie kosmetiese chirurgie heeltemal uitsluit nie. Jy kan baie geld maak. Aan die ander kant: Dis nie hoekom hy in die medisyne studeer het nie.

’n Man verskyn skielik by ons tafel. “Verskoon my. My dogter, Simone, is 12. ’n Moeilike ouderdom. Sy dóód as ek met jou handtekening by die huis kom.” ’n Blos kruip teen Gareth se nek op. “Wat moet ek skryf?” vra hy ’n bietjie buite weste. “Dit was lekker op Survivor,” beveel die pa aan. En Gareth doen dit. In netjiese drukletters.