Ons praat met

Ashley Callie: Gee my die kospotte van SA

Jy moet opkyk as sy instap. Met grasie, lang nek. Sy lyk eerder of sy op ’n loopplank tuis hoort as in ’n sepie. Ashley Callie is nie sommer enige sepiester nie. Sy het haarself deur haar lewe goed voorberei vir haar Saftabekroonde spel as Lee Heines in Isidingo. (Suid-Afrikaanse  rolprent-en-televisietoekennings.) Sy is vantevore raak gesien: Sy is al meer as een keer vir SABC1 se eie Duku Duku-toekennings benoem as beste akteur in ’n sepie.

Ashley is ’n Johannesburgse produk – en “baie gelukkig daaroor”. Sy het in die stad grootgeword, daar skoolgegaan en het daarna ’n honneursgraad in drama aan Wits met lof behaal. Sy is ’n uithalerkok en besit en bestuur haar eie restaurant saam met ’n vennoot – die La Vista Social Club in Melville, Johannesburg. En sy kan sing ook … Dit vind ’n mens sommer met die intrapslag uit.

“Ek is gek na musiek – veral lounge. Daardie ou musiek wat toentertyd in rokerige klubs gespeel is, die musiek van Cole Porter, Ella Fitzgerald en George Gershwin …

Dis sexy musiek, en diep aan lewenservaring. Net plein mooi. Ek sing, ja, dis tog nie so vreemd vir verhoogkunstenaars om ook te kan sing nie?” ( Ja, dink maar aan Illse Roos wat ons oorrompel het met haar goeie, sensuele stem in die Chris Barnard-produksie Blou Kamer by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en Aardklop.) “Maar ten spyte van my liefde vir sing het ek nog nie die moed bymekaargeskraap om self op die verhoog te klim en dit voor ’n gehoor te doen nie.

Om te sing is heeltemal anders as om ’n karakter in ’n dramaproduksie of ’n sepie te vertolk. Daar kan jy in iemand anders se vel klim – dikwels ’n fiktiewe mens – en dis gewoonlik nie jouself wat jy aanbied nie. As jy sing, is dit net jy. En die mense wat direk na jou luister.”

Isidingo – waarin sy al sedert 2002 speel – word beskou as een van die beste sepies op SA TV. Ashley het destyds die rol van die berekende Lee Heines oorgeneem by Sylvaine Strike. Oor hardnekkige gerugte dat Ashley stelselmatig voorberei word om die rol van die superbitsige Cherel de Villiers van Horizon Deep by Michelle Botes oor te neem, rep nie een van die twee ’n woord nie. “Lee is heeltemal ’n ander karakter as Cherel, en dit sal eenvoudig vir haar onmoontlik wees om Cherel te vervang. Die twee karakters is twee algeheel afsonderlike entiteite, en onvergelykbaar,” meen Ashley.

Michelle skroom egter nie om haar hoë dunk van Ashley te deel nie. “Ashley is een van daardie skaars spesie aktrises wat werklik enige karakterrol met gemak sal kan vertolk, op die verhoog, in ’n sepie of in ’n dramareeks. Sy het ’n diepte wat baie verder gaan as haar uiterlike skoonheid. Benewens die duidelike skoling en afronding wat sy wys, het sy nog iets wat van haar ’n skerp aktrise maak. Instink.”

GUNSTELINGE

KOS: Skulpvis. Hoe eenvoudiger, hoe beter
DRANK: Sjampanje. En mojito’s – jy moet myne proe!
MUSIEK: Klassiek. Old school. Harde rock.Goeie plaaslike musiek
BOEK: The Tibetan Book of Living and Dying
FLIEK: Spring, Summer, Fall, Winter … and Spring deur Kim Ki-duk. En ja, dis so lank as wat dit klink.
REGISSEUR: Ang Lee en die Coen-broers
AKTEURS: Kate Winslet en Cate Blanchett. Don Cheadle. Verhoog: Amra-FayeWright (Chicago, SA)
TV-PROGRAM: BBC Food-kanaal. Amazing Race. Spongebob Squarepants!
PLEK: La Vista Social Club – daar kan ek werklik ontspan.
GESEGDE: “Everything we need, is right here”

Wat dink jy het aan jou die voorsprong gegee bo ander akteurs met die toekenning van die Safta-prys?
Ek dink nie dis soseer dat ek ’n voorsprong het nie. Elkeen het die vermoë om enigiets te doen wat hulle wil. In werklikheid kom dit maar altyd op dieselfde goed neer – harde werk, toewyding, wilskrag, en om voortdurend te probeer om beter te wees as wat jy dink jy is.

Dink jy akteurs moet beter voorberei – nie net vir ’n toneel op die stel nie, maar deur iets soos lewenservaring en formele studies?
Ek kan net namens myself praat: Ek het die volle vierjaar-dramakursus gedoen, en in die proses is ek blootgestel aan teaterreuse soos Sarah Robberts, Malcolm Perky en Fred Hageman. So iets is onvervangbaar. ’n Mens kan die invloed wat hulle oordra, nie elders kry nie. Dis belangrik om te benadruk dat mense wat nie opleiding gehad het nie, natuurlik grootse akteurs kan word. Net so kan mense met opleiding onsuksesvol wees. Ek sê maar net dat dit vir mý goed was. Dit maak ’n mens bowenal nederig, en ek dink nederigheid is een van die voorvereistes om goeie verhoog- of televisiewerk te kan lewer. Jou eie ego durf nie in die pad kom nie.

Om toneel te speel is ’n vaardigheid. Ek dink dis opsigtelik as iemand dit slegs probeer wing, met ander woorde, voorgee. En dit geld alle aspekte van die lewe. Sommiges kom tog weg daarmee, maar dan is daar dikwels ’n tekort aan diepte, asook uithouvermoë. Natuurlik leer ’n mens die grootste lesse deur ondervinding, so in ’n mate veronderstel dit dat jy die ingesteldheid moet hê om te wíl leer. En dit kan ’n mens in elke situasie doen. Leer.

Is daar genoeg geleenthede vir SA akteurs?
Die geleenthede in ons land is ongelukkig net nie altyd so volop nie, en gevolglik beland die meeste akteurs in sepies. Wat voorbereiding vir ’n toneel op ’n stel betref: Hoe meer kere ’n mens deur die hele teks lees – en nie net jou eie dele en die dele rondom jou woorde nie – hoe beter sal jy ’n rol vertolk. En hoe groter is jou insig in jou karakter se agtergrond.

Wat maak van iemand ’n goeie akteur?
’n Goeie akteur is een wat hom- of haarself geheel en al aan die oomblik kan oorgee. En as jy ’n fout maak, leer jy eenvoudig daaruit. Ek het al gesien hoe ’n taamlik eenvoudige draaiboek tot iets omgetower word deur ’n regisseur wat sy akteurs uitdaag om veel meer te doen as net hul woorde betyds en reg opsê. Dit gebeur veral in rolprente waar buitelandse regisseurs ingeroep word om met bekendes te werk. The Constant Gardener van die Suid-Amerikaner Fernando Meirelles is ’n goeie voorbeeld – waar hy vir Ralph Fiennes, en veral Rachel Weisz, na plekke lei wat jou moet raak. Hy is bekend vir sy debuutrolprent, City of God.

Of Ang Lee, die Taiwanse regisseur van Brokeback Mountain. Ek geniet sy werk terdeë. Ek het nie Brokeback Mountain gesien nie, maar die gehaltespel wat hy uit Heath Ledger en Jake Gyllenhaal getoor het, is bekend. Dis natuurlik omdat hulle buite hul gemaksones moes beweeg. En dít oortuig. Daardie akteurs sal nooit weer net “opdaag” vir ’n toneel nie.

Het jy voorspellings vir vanjaar se Oscars?
Ek het ongelukkig nog nie al die benoemde flieks gesien nie – wel Blood Diamond. En Leonardo DiCaprio en Djimon Hounsou is albei uitstekend. Die fliek self is ook. Ek dink wel die rolprentbedryf het die afgelope paar jaar skitterende, maatskaplikverantwoordelike werk gelewer.

Wat het jou jaar in Londen jou geleer?
Om vas te byt! Om op myself staat te maak. Om myself te geniet. En dat ek lief is vir Suid-Afrika. Ek was daar meestal betrokke in die kosbedryf, het werklik gedink dis my toekoms en dat ek agter die potte gaan beland. Maar met my terugkeer was daar oudisies vir Isidingo en ek het die rol gekry. Ek kon dit nie glo nie! Ek onthou nog hoe ek in my sitkamer TV gekyk het – en daar was ek, skielik op die stel saam met groot name soos Michelle Botes. Ek het geweldige respek vir haar. En Isidingo is ’n wonderlike omgewing om in te werk.

Wat wag anderkant Isidingo vir jou?
Isidingo, en die rol wat ek daarin speel, hou my nie terug nie. Ek geniet dit werklik, ek vind dit stimulerend en uitdagend. Ek het al oorweeg om ander paaie te ondersoek, en het dit gedoen, en sal aanhou om dit te doen.

Ek het iewers gelees dat jou gunsteling-aanhaling iets is wat jou pa gesê het?
Ja, dit is: “We’re dancing, we’re dancing!” Hy het dit altyd gesê as ons saam in die see geswem het. Ek was baie jonk (en bietjie bang) en hy was hierdie toring van krag teen die groot, angswekkende oseaan. Dit is nou nog een van die mooiste goed wat ek onthou. Dit herinner my ook dat ’n mens ’n keuse het in elke situasie, hoe jy dit beskou, hoe jy daarop reageer. Dis veral op ons in Suid-Afrika van toepassing. Ons dink dalk ons verdrink, maar dalk is dit ’n groot dans op pad na ’n volgende werklikheid. Dis moeilik, ek weet, baie moeilik. Maar moontlik.

Hoe sien jy jou veertigerjare?
Ek geniet dit werklik om ouer te word. Ek wil nooit, ooit weer 22 wees nie. My tienerjare het hulself in my twintigs afgespeel! Maar om baie eerlik te wees, ek dink nie daaraan nie. Ek dink nie eintlik oor ouderdom nie. Dit gaan vir my meer daaroor om in die hede te leef, om gelukkig te wees met wie ek nou is.

Benewens die restaurant en jou werk op stel, wat doen jy?
Ek het nie regtig iets soos vrye tyd nie, want elke oomblik wat ek beskikbaar het, vul ek weer met iets anders! Ek lees verskriklik baie, veral boeke oor geestelike groei, boeke wat ’n mens iets leer. Ek is ook gek na Johannesburg se parke, en gaan stap gereeld daar rond. Ek probeer ook by flieks uitkom, maar dan dink ek soms: Nou gaan ek drie uur lank in ’n donker saal saam met ander mense sit, terwyl ek dalk iewers anders iets kon gedóén het. Maar voordat ek my oë kan uitvee, word ek gewoonlik meegesleur deur ’n rolprent en kan ek nie wag om nóg een te sien nie.

Ek en “skerms” kom oor die algemeen nie goed oor die weg nie, of dit nou televisie-, fliek- of rekenaarskerms is. Hoewel, daar is niks wat die belewenis van ’n werklik goeie fliek kan ewenaar nie. En ek luister musiek, het in die verlede gereeld na die Bassline gegaan vir verhoogoptredes. Dis waar ek Matthew van der Want ontdek het. Ek sien hom en sy familie gereeld in winkels naby my huis, en loop hom alewig storm en smeek hom vir nog ’n vertoning.

Musiek moet ’n “siel” hê. Dit moet iets in jou beweeg. Hy het dit. Ons in Suid-Afrika glo soms mos iets moet eers ’n internasionale stempel van goedkeuring kry voordat ons self daarin glo. Kyk nou maar na Freshlyground. Gelukkig het hulle al gehore oortuig vóór die MTV-toekenning, maar nou word hulle ook baie meer dikwels oor die radio gehoor. Ek wens dat veral ons radiostasies meer sal glo in ons plaaslike talent, in alle soorte musiek. Plaaslik dink ek die musiek van Wickhead en Lark is ongelooflik. Met siel. Dis musiek wat inspireer.

Vertel meer van jou restaurant?
Wel, my passie ís kos. Ek is verslaaf aan BBC Food. My restaurant in Melville is ’n kombinasie van Kubaanse en ander klassieke elemente – die dekor sou my ouma trots gehad het! Dis eerder tydloos as byderwets. Ek en my vennoot wou iets skep wat anders is as al die ander restaurante – wat deesdae omtrent almal dieselfde spyskaart het. Ek glo in stadige kos, wat met vindingrykheid en nuanse berei word. Ek wil kan proe wat ek eet.

Het julle verhoogmusiek in jou restaurant?
Ja, maar meestal die stadiger goed. Musiek met atmosfeer. Musiek soos wat die Michael Bubles van die lewe sing. Emmanuel Castis (voorheen haar mede-akteur in Isidingo) sing gereeld daar.

Het jy jou eie lewens-idioom? ’n Sogenaamde motto?
Jy is wat jy dink.

Is daar enigiets anders wat jy graag sou wou doen?
Ek sou graag ’n konstruksie-ingenieur wou wees! Maar ’n mens moet versigtig wees waarvoor jy wens.

Is jy ’n lid van Mensa?
Mighty Energetic Nubiles of South Africa? Of die ander een?

Jy het iewers gesê jy sal daarvan hou om ’n strokiesheld te speel. Wie?
Beslis Tintin (Kuifie)! Om al daardie plekke te sien …

Sal jy graag in rolprente wil speel?
Ek gaan beslis nog! Ek sal verkieslik iets in ’n ernstige drama wil speel. Ek is gek na drama. Op film en op die verhoog. Komedie gryp my om die een of ander rede nie aan nie, tensy dit werklik iets nuuts uitlig oor die lewe.

***
Sy kan nie wag dat Il Divo in Maart SA toe kom nie. Sy kan nie wag om oor naweke by haar restaurant uit te kom nie. Ashley Callie kan nie wag dat die res van haar lewe aanbreek nie … En sy loop dit met lang treë tegemoet.