FOTO: Twitter

Ons praat met

Gerrie Pretorius oor reis: Dis die beste antidepressant

Die sanger Gerrie Pretorius het in die eerste seisoen van Leef jou reis op kykNET kykers na van die wêreld se kosbaarste plekke geneem. En dié week is hy terug …

Gerrie gesels met SARIE.com oor sy liefde vir reis, die waarde daarvan, sy gunsteling-herinneringe en sy toekoms in die musiekbedryf. Hy vertel ons ook meer oor die tweede seisoen van Leef jou reis wat Vrydag op kykNET begin wys.

Wat is die lekkerste deel van Leef jou reis?  

Om waarlik ’n alternatiewe reiservaring te hê en dit met die kyker te kan deel. Ek raak gou verveeld met die gewone en gaan soek juis die ongewone op.

Watter twee oomblikke tot dusver staan vir jou uit?

Paaseiland in Chili is een van die mees afgeleë plekke ter wêreld. Dis die tuiste van die misterieuse Moai-beelde en die Rapa Nui-stam. Hier het ’n plaaslike gesin van kunstenaars my ontvang en my sekerlik een van die mees unieke kulturele ervarings van ’n leeftyd gegee. Dit was byna spiritueel.

Om saam met die Masai-mense van Kenia te kon woon, was ook ’n ervaring wat my altyd sal bybly.

Gerrie in Kenia. Dit was een van sy hoogtepunte in die nuwe seisoen FOTO: Twitter

Gerrie in Kenia. Dit was een van sy hoogtepunte in die nuwe seisoen.
FOTO: Twitter

Wat maak dit vir jou spesiaal?

Dis aards en onopgesmuk en boonop ’n ongelooflike avontuur. Ek sal nou seker eendag vrek arm doodgaan, maar ek het stories om te vertel!

Watter plekke besoek jy in die nuwe seisoen?

Ons het gaan tango in Buenos Aires en ek het saam met hul cowboys op ’n plaas met beeste gaan werk. In Chili het ons in die droogste woestyn ter wêreld ’n aktiewe vulkaan gaan uitklim. In Griekeland het ons gaan kyk hoekom breek hulle nie meer borde op partytjies nie en het ook by die sanger Demis Roussos aan huis gaan kuier.

Daar was die oorsprong van pizza in Italië en ’n epiese tog deur Afrika onder die moeilikste 4×4-omstandighede denkbaar. Gorillas in Uganda en ’n kameel-safari in die Sahara-woestyn.

Vanjaar wys ons ook vir kykers die mooiste wit Kersfees in Europa!

Wat beteken reis vir jou?

Ek het werklik besef dat die lewe kort is en dat ek min tyd het om die meeste daaruit te haal. Reis is die beste verjongingskuur en die beste antidepressant. Ek probeer daardie boodskap vestig dat ons moet reis om ons horisonne te verbreed en so ook ons eie land dalk ’n bietjie meer te waardeer.

In New York  FOTO: Twitter

In New York.
FOTO: Twitter

Wat maak ’n nuwe bestemming vir jou interessant?

Die weerbaarheid van die onbekende en om te moet ontdek. Jy kry dit nie deur in ’n 5-ster-hotel rond te hang nie, maar deur tussen die plaaslike mense by hul watergate te kuier en hul stories te hoor. Dit is die beste reisgids denkbaar en dit is wat ek geniet.

Wat is vir jou die lekkerste deel van TV-aanbieding?

Ek dink die feit dat ek bloot myself is, maak dit lekker. Ek kan my persoonlikheid vrye teuels gee en mense waardeer dit. Baie mense wat dalk nie van my musiek hou nie, is mal oor Leef jou reis en word dus ook nuwe vriende.

En die moeilikste?

Dat ek heeltyd moet probeer netjies wees. Om op die pad te “leef” en 5 400 km in 10 dae te ry, kamp op te slaan en dan netjies te lyk, sukkel maar. Gelukkig help ’n hoed baie!

Gerrie en die hond, Biscuit, in die Switserse Alpe FOTO: Twitter

Gerrie en die hond Biscuit in die Switserse Alpe.
FOTO: Twitter

Wat is jou gunsteling-vakansieplek?

Daar is twee. Vir die bos-ervaring sal jy my gereeld by Motopi in die sentraal-Kalahari in Botswana kry. Dit is ’n wildernis-gebied waar jy selfonderhoudend moet kan wees. Saans brul die leeus om jou. Dis magies.

Turkye is ook wonderlik omdat dit so gevul is met kultuur. Boonop is dit baie meer bekostigbaar as Europa.

Wat beplan jy vorentoe vir jou musiekloopbaan?

Ons toer tans landwyd met my “radio”-vertoning getiteld Onthou die goue oues. Dis musiek waarmee ons grootgeword het en ons het dit gaan afstof en her-opgeneem. Dis ’n nostalgiese terugblik op die Suid-Afrikaanse treffersparade van ouds en ’n lekker saamsing-kuier.

*Leef jou reis se tweede seisoen wys vanaf dié week elke Vrydag om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).