Ons praat met

Glitterati se nuwe glans-vrou

Sy’t pas onder die haarstiliste en grimeerkunstenaars uitgeskuif toe SARIE haar in die hande kry – want op Maandag 23 Maart was Yvonne van den Bergh ‘n besige vrou. Dit was tyd vir die eerste opnames vir die nuwe reeks van kykNET se Glitterati, met Yvonne as die nuwe aanbieder. Sy’t net voor die eerste opnames met Hester Carstens gesels.

 

Hoe voel dit daar op jou eerste dag in die ateljee?

Nee, lekker, ons is nou net klaar met hare en make-up en wardrobe, ons gaan nou skiet tot so sesuur vanaand.

 

Hoe voel dit om nou so alleen voor die kameras te wees?

Ek’s ‘n bietjie senuweeagtig, want ek het nog nie voorheen alleen aangebied nie, dis ‘n ander storie as toneelspeel, maar ek sien uit! Net bietjie senuweeagtig!

 

Kan jy verklap na watter onderhoud jy die meeste uitsien?

Ons neem vanaand my onderhoud met Marc Lottering op, ek sien baie uit daarna.* Ek is opgewonde daaroor omdat hy ‘n komediant is – ek wil hom graag vra hoe kry hy sy hare so! En ons sal ook gesels oor sy nuwe show en sy 40ste verjaardag.**

 

Jou droom-kandidate om op Glitterati te hê?

As die stof eers ‘n bietjie gaan lê het: Amor Vittone en Natasha Sutherland. Ek sal niks leliks vra nie, ek sal net ter wille van ander vrouens wil hoor hoe hanteer ‘n mens dit as jou man selfs net móóntlik in so iets betrokke was.

 

Jy is self ‘n celeb. Hoe voel jy oor sulke skindernuus-programme?

Ek verstaan die obsessie met celebs, ons is almal maar nuuskierig, maar dit hoef nie lelik te wees nie. Van watse kos hou jy, op wie’s jy nou verlief – daar’s niks leliks dááraan nie, ‘n mens hoef nie te vra oor hul drankprobleme of sulke goed nie. ‘n Mens kan nuuskierig wees sonder om trashy te wees.

 

Wat kan kykers van die nuwe reeks van Glitterati verwag?

Dit gaan wees asof jy in die celeb se sitkamer sit, en hopelik sal ek die vrae vra wat jy self sou wou vra.

* Hierdie episode is op 4 April te sien.

** Marc Lottering is tans op die planke in sy nuutste, Naughty Forty, by die Old Mutual Theatre on the Square, in Sandton, Johannesburg, tot 28 Maart. Skakel 011 883 8606 vir meer inligting of besoek www.marclottering.com