Ons praat met

Goue Gerhard Zandberg: Spoedvraat van formaat

Daar’s sowat 2,5 sekondes tussen Gerhard Zandberg en Olimpiese roem. Hy het immers al dié soort sukses geproe toe hy verlede jaar in Melbourne, Australië, by die Wêreldkampioenskapsbyeenkoms die 50 m-rugslag gewen het. Kyk jy hom so, lyk dit byna onmoontlik dat so ’n jong “reus” – wat oor die 2 m in sy sokkies staan en 105 kg weeg – daardie 50 m in 22,18 sekondes kon aflê.

Sy wêreldtitel het heeltemal onverwags gekom, want hy het hom eintlik vir die vryslag voorberei. Hy het daardie dag in Melbourne nie baie lekker gevoel nie, maar hom tog vir die 50 m-rugslag ingeskryf. En toe hy die kant van die swembad raak en pandemonium losbars, het hy geweet . . . sukses proe nóg soeter as jy dit nie verwag nie.

Verlede jaar is hy ook deur Swem SA aangewys as Swemmer, Swemvonds én Swempersoonlikheid van die Jaar. Reeds as tjokker het hy sy pa se besproeiingsdam op Brits in die Noordwes-provinsie maklik ’n paar keer ná mekaar deurgeswem. Sy swemjuffrou het tóé al voorspel hy het groot talent. Maar talent is nie ál wat van Suid-Afrika se swemkaptein ’n wenner maak nie.

Sy geheim is: Hy weet wat hy wil hê en hoe om dit te bereik. Hy het fisiek en emosioneel hard gewerk aan sy sukses. Dié dat hy doodkalm kan wees voor die skoot klap. Hy weet mos hy’t alles ín hom om eerste te wees.

Jy lewer motiveringspraatjies?
Net op aanvraag en verkieslik voor jong mense. Ek kan beter met jonger mense identifiseer.

Het jy dan self ’n inspirerende verhaal?
Nadat ek gematrikuleer het, wou ek met my swemloopbaan voortgaan en self my pad vorentoe finansier. My ouers het my gehelp om ’n bakkie te koop en ek het sonder ’n helper tonne bourommel per dag weggery. Ek kon dit net drie dae per week doen sodat ek die res kon oefen. Ek het baie hard gewerk om genoeg geld bymekaar te maak om in Arizona, Amerika, te gaan swem en studeer. Ek het ’n beurs gekry, maar die vliegkaartjie was buitensporig duur. Ek was nog nooit spyt oor die harde werk nie en leer dié soort motivering nou vir die jong swemmers in my swemskool. Jy moet hard werk vir jou drome.

Hoe dissiplineer jy jouself?
Swem is ’n tydsame en eensame sport waarin jy nooit die toppunt sal bereik sonder ongelooflike toewyding nie. Jou doelwitte kan tot twee jaar ver wees en jy kan 600 swemsessies insit om dit te bereik. Dit kan maklik jou motivering ontspoor, maar my afrigter gee my korttermyn-mylpale wat bereikbaar is sodat dit nie my moed breek nie.

Hoe berei jy jou emosioneel voor op die Spele?
Ek weet hoe uitputtend emosionele spanning kan wees. Ek probeer so gefokus moontlik bly op my doelwitte. Jou denke het ’n groot impak op jou prestasies. As jy te veel druk op jouself plaas, benadeel dit jou. Ek is nie ’n voorstander van oormatige positiewe denke nie. Die gevaar is dat jy negatiewe denke net ’n positiewe vetlagie kan gee. Ek probeer my emosies so neutraal moontlik hou en met my normale dinge aangaan so lank as wat ek kan. Ek sorg dat ek vertroue in my vermoë het.

Wanneer is jou groot datum?
Ek swem op 9 Augustus in die eerste uitdunne van die 100 m-rugslag (daar is nie ’n Olimpiese item vir die 50 m-rugslag nie).

Wat doen jy voor jy wegspring?
Dit verskil van swemmer tot swemmer. Ek verkies om nie op te warm nie. Ek trek ’n uur voor die tyd tot vyf lae klere aan en neem gereeld slukkies water en koffie. As ek begin sweet, weet ek my liggaam is gereed. Dan trek ek my swembroek aan en sorg dat ek warm bly tot ek agter die blokke gaan staan. Ek sit eenkant en luister na lekker ritmiese musiek op my oorfone terwyl die ander opwarm. Baie swemmers vind my gedrag vreemd en senutergend. Hulle weet dan nie wat om te verwag nie!

Jy is 25. Kry jy kans om net jonk te wees?
Verseker, ja! My vriende kuier graag by plekke soos Menlyn Square en ek is nie ’n drip nie. Dis vir my belangrik om ’n gesonde balans te handhaaf.

Het jy ’n vaste meisie?
Ongelukkig nie. Omdat ek so baie weg is, plaas dit net te veel druk op my verhoudings.

Jy is lief vir motorfietse en motors?
Ek het twee motorfietse en twee motors. Ek het in 2005 baie hard geval met my padfiets. ’n Waaghalsige toertjie teen 120 km/h het lelik skeefgeloop en my enigste buffer was ’n kortbroek en T-hemp. Dit was onverantwoordelik en ek gaan nie bieg waar dit gebeur het nie. Ek het niks gebreek nie, maar al my nerwe afgeval. Ek het nou ’n veldfiets en ’n kleiner padfiets vir die stad.  Ek is mal oor my Renault Mégane RS. Hy is een van net 1 500 van dié spesifieke model wat wêreldwyd gemaak is nadat Renault in 2005 die Formule 1-Wêreldkampioenskap gewen het. My ander liefde is my Land Rover Defender.

Mal oor spoed?
Net so toegewyd soos ek aan my sport is, so onverantwoordelik is ek oor spoed. Ek het baie spoedboetes, want ek geniet spoed en doen dit voluit.

Nog ’n groot liefde?
Die Bosveld. Maar ek het nog nie planne om ’n Bosveldplaas te koop nie. Ek probeer eers belê in bates wat inkomste genereer sodat ek eendag op ’n plaas kan bly en nie hoef te werk nie.

Is daar genoeg geld in swem om te oorleef?
Ongelukkig nie in Suid-Afrika nie. In Australië kan swemmers byna ’n normale bestaan handhaaf met die ondersteuning van hul borge. Jy word net genooi om in Europa teen vergoeding deel te neem as jy die héél beste is. Die tweede plek tel nie. Die feit dat ek laasjaar die wêreldkampioen was, het ’n verskil gemaak. Organiseerders in Europa betaal my nou ’n appearance fee om te gaan deelneem, en wanneer ek wen, betaal hulle in euros.

Het jy ook ander sakebelange?
Die swemskool het met ’n groepie huisvroue begin en nou het ek al nege groepe swemmers per week. Ek het ook in Januarie vanjaar ’n gastehuis in Waterkloof begin. Dit het vyfster-status net-net gemis. My ma, Aloma, en suster, Anke, bestuur dit vir my.

Nog sake-drome?
Ek wil eendag ’n unieke restaurant oopmaak met ’n persoonlike atmosfeer. Ek het ’n passie vir kosmaak.

Studeer jy ook?
Ek het besluit om nie te gaan studeer nie omdat ek so lank as moontlik wil swem. Dit sou te veel druk op my plaas. Toe ek in 2005 met ’n swem- en studiebeurs na Arizona was, het ek meganiese ingenieurswese gestudeer. Ná 10 maande wou ek my studies los om voluit te swem. Ek kan altyd later verder studeer.

Wie inspireer jou?
Mense soos Natalie du Toit. Kort ná die ongeluk waarin sy haar been verloor het, het ek haar by ’n byeenkoms gesien. Sy het nie afgekyk of haar lip op die grond gesleep nie. Sy het aangegaan en sukses behaal. Sy het ál die kwaliteite wat ’n mens moet hê om ’n wenner te wees.

Het jý daardie kwaliteite?
Ek sou graag so wil dink. Dis ’n uitdaging om te alle tye só gefokus te bly. Emosies speel ’n geweldige rol en dis dán wanneer jy ’n honger na oorwinning moet wys.

Gerhard se gunstelinge

FLIEK: Iron Man

AKTEUR: Bruce Willis

AKTRISE: Meg Ryan

BOEK: The Alchemist

PASSIE: Motorfietse, ritte in die veld, swem, resies jaag
PLEK: Op ’n motorfiets . . . sonder ’n selfoon. Ek antwoord my foon selde.
GOUE OOMBLIK: In 2000 toe ek op 17 op CNN verskyn het nadat ek byna die Olimpiese kampioen, Lenny Kruyzelburg, geklop het. Én verlede jaar toe ek wêreldkampioen in die 50 m-rugslag geword het.
KOS: Ma se boerekos
DRANKIE: Enkelmout-whisky met lemmetjie en sodawater.

Hoe motiveer jy jouself?
In dié stadium van my loopbaan motiveer prestasies my om professioneel te swem. Dis my werk. Hoe vinniger ek swem, hoe groter die beloning. Dis in my eie belang om prakties te beplan en ’n neseier te verseker met die wengeld. In Europa kan top-presteerders tot €10 000 (sowat R125 000) op ’n slag wen.

Hoe hanteer jy teleurstellings?
Ek het my verlede jaar voorberei vir die vryslag by die Olimpiese Spele, maar weens verskeie redes kon ek nie kwalifiseer nie. Dit was ’n groot terugslag. Ek moes die kans vat om in die 100 m-rugslag te kwalifiseer en het dit gelukkig reggekry. Dis moeilik as jy op één ding fokus en ’n kurwebal dwing jou in ’n ander koers. Maar dís wanneer jy as ’n mens en atleet groei.

Uit die aard van jul sport moet julle as spanlede ook met mekaar meeding. Soos wanneer jy en Ryk Neethling die vryslag swem?
Al is ons spanlede, is ’n mens heeltyd bewus van die mededingende dinamika tussen ons. Ons deel nie ’n kamer met ’n ander swemmer nie, want daardie vegtersinstink van die mededinging met mekaar maak dit moeilik.

Hoe gaan jy die span dan as spanleier saamsnoer?
Elke spanlid het sy eie idees en persoonlikheid. Swem is ’n individualistiese sport en spanwerk is soms moeilik. Jy moet elke individu in ag neem wanneer besluite geneem word. Soms is almal nie gelukkig nie, maar wat vir die span werk, is belangrik.

Hoe lank is die raklewe van ’n swemmer?
Dit hang af hoe goed jy jou lyf oppas. Die swemmers van die Oos-Europese lande swem 120 km per week, en ek nie meer as 40 km nie. Hul lywe hou nie langer as 10 jaar in ’n professionele loopbaan nie. As jy goed eet en sorg dat jy genoeg rus, kan jy swem tot diep in jou dertigs.

Hoeveel ure oefen jy per dag?
Drie ure as ek vir ’n byeenkoms oefen. In swemterme is dit nie baie nie. Ek doen ook aërobiese oefeninge buite die water, soos fietsry, om my liggaam voor te berei.

Was swem nog altyd vir jou lekker?
Ja, maar nie méér as vir enige jong seun nie. My ouers het ons gereeld see toe geneem en ons het altyd ’n skiboot in die familie gehad. Water was altyd deel van my lewe.

Het jou ouers ’n invloed op jou sukses gehad?
My ouers was die grootste, maar ook die gesonde dryfkrag agter my. Sonder hulle sou ek nie gewees het waar ek nou is nie. Hulle moes my op skool elke oggend vyfuur by die swem aflaai en dan weer voor skool gaan haal. Ná skool moes ek weer by ’n oefensessie afgelaai word.

Hoe leer jy kinders swem by jou swem-akademie?
Die ouers mag nie by wees nie. Ek het my metode op my suster se kinders getoets. Haar dogtertjie, Meaghan (6), het binne ’n halfuur op haar rug geleer swem. As jy ’n kind met opblaasvlerkies leer swem, vertraag jy net die proses.

Wanneer het jy besluit om professioneel te swem?
Ek was op skool ’n goeie atleet en rugbyspeler. En in gr. 8 in Afrikaans Seuns Hoër in Pretoria het ek ’n sportbeurs by Crawford College gekry. Ek moes in ’n stadium tussen swem en rugby kies. Ek en my pa, ook Gerhard, het gaan sit en ’n lys van voor- en nadele opgestel. Die gevaar van beserings het ’n belangrike rol gespeel. Dis hoekom swem gewen het.

Was Arizona ’n teleurstelling?
Dit was ’n wonderlike ervaring, maar my vlieër het nie daar gevlieg nie. Die universiteite daar het die ongelooflikste geriewe om te oefen, maar jy oefen in groepe van tot veertig uitstekende swemmers. In Suid-Afrika kan ek individuele afrigting kry, wat vir my werk. En ek is ’n tipiese Afrikaner. Ek het my mense baie gemis! Toe ek die tweede keer by die huis kom kuier, het ek besluit dis hier waar ek wil wees.

Wat is jou droom nou?
Die Spele. Dit was my langtermyn-doelwit. Ek voel nou op my fisieke top-punt.

En daarna?
Ek gaan drie maande in die Bosveld rus. Ek wil ontlaai en besluite oor my toekoms neem, onder meer of ek myself nog vier jaar wil toewy aan swem. Indien wel, sal ek dinge soos trou en huiskoop vir ’n rukkie uitstel.

Wil jy in Suid-Afrika bly?
Sou ek emigreer, neem ek al my omstandighede saam. Jy skep jou eie geluk. Ek is ’n ware Afrikaner. Daar is baie ongelooflike plekke oor die waters, maar geen plek soos Afrika nie.