jan08praatmet1a
Ons praat met

Marc Lottering: Grapjas sonder geheime

Dis nege-uur Sondagoggend en die komediant Marc Lottering bestel sy eerste Bloody Mary. Hy moes tot laat die vorige aand ’n groep vername mense vermaak en hy’s uitgeput en het ’n kwaai babelas, kla hy. Hy’s nie skaam om te erken hy kuier soms hard nie. Hy hét al die gevolge gedra met ’n klag van dronkbestuur agter sy naam, maar hy meen hy werk ook hard en daarom moet hy soms ontlaai.

Maar dis nie vir hom lekker om sy skandes op koerantplakkate uitgebasuin te sien nie. Daarom doen hy ook van tyd tot tyd selfondersoek. Dan maak hy ’n nuwe voorneme, soos om nooit weer partytjie te hou nie en om “squeaky clean, soos Carike Keuzenkamp” te wees. Maar dan swig hy weer. Nog iets waaroor hy op dié Sondagoggend eerlik wil praat, is sy seksualiteit.

In die Oktober-uitgawe van die dekortydskrif Visi is ’n artikel oor sy huis in Seepunt – die huis wat hy met sy lewensmaat, Anwar McKay, deel. Dit was die eerste keer dat hy openlik erken het hy is gay. Vanoggend wil hy uitpraat oor die emosies wat hy al die jare in die closet moes ervaar. Dit kan ’n baie eensame plek wees, vertel hy.

Dis moeilik as jou lewe een groot leuen is; dit het ’n impak op alles. Hy het dit nog altyd as ’n private kwessie beskou, maar onlangs het hy die behoefte begin voel om openlik te kan praat oor wie en wat hy is en oor wat ander mense dink hy is. Hy’s moeg om ’n leuen te leef oor hy ’n pastoor se seun is.

Hy en Anwar is nou al tien jaar saam. Anwar ken sy hartklop en sy foute. Hulle is gelukkig. Daar het hy dit nou gesê, sê hy verlig: Almal wag nou al jare lank dat hy dit reguit moet sê. Marc se nuwe openheid oor hul verhouding plaas druk op Anwar. “Ek was tien jaar op die agtergrond. Nou is ek op die voorgrond as die lewensmaat.” Hy meen Marc is eintlik baie soos sy pastoor-pa, Sandy. (Marc se pa en sy ma, Iris, is in 2006 en begin 2007 – slegs enkele maande uit mekaar – oorlede). “Hy’s ook ’n leier en hy bring op sy eie manier ’n boodskap na mense. Hy konfronteer hulle met hul foute en laat hulle nadink.

“Sy pa se uitkyk op Marc se werk het verander toe hy by ’n vertoning gesien het watter uitwerking sy seun op mense het. Voor dit het hy waarskynlik nie besef watter rol komedie as vorm van terapie en openbare kommentaar speel nie. Ek dink hy was tevrede met Marc,” sê Anwar.

Dié seun van die Kaapse Vlakte het sy loopbaan in 1997 met ’n eenmanvertoning, After the Beep, begin en daarna kon gehore nie genoeg van hom kry nie. Hy sorg elke jaar vir ’n nuwe vertoning, en sy DVD’s From the Cape Flats with Love en Big Stakes and Slap Chips is gewilde geskenke vir Suid-Afrikaners in die buiteland. Marc het op 4 Desember 40 geword en beskou dit as ’n belangrike fase in sy lewe. Hy het vriende uitgesny wat nie deel van sy lewe hoef te wees nie. En hy koester mense na aan hom.

Hy besef ook dat ’n mens jou met geliefdes, vriende en bewonderaars kan omring, maar eintlik stap jy die pad alleen. Hy’t vrede gemaak met baie dinge. Dis nie meer vir hom belangrik om in of uit te wees nie. Hy’t nie meer ’n obsessie om altyd reg te wees nie. Maar veral wil hy hê ander moet hom sien soos hy is. “Soos Steve Hofmeyr sê: ‘Dis hoe dit is,’” sê hy en sluk sy Bloody Mary weg.

Verwag mense altyd van jou om ’n grapjas te wees?
Ja, al is jy op jou nugter maag in ’n kafee in Seepunt om gou vetvrye melk te koop. Dis die loopbaankeuse wat ek gemaak het. Ek kon ’n kassier by ’n till geword het, maar ek het dié pad gekies. As jy by jou deur uitgaan, is jy aan diens. As jy in ’n slegte bui is, moet jy liewers nie uitgaan nie. Jou gehoor besit jou. Jy is die grapjas in hulle sitkamer en dit is wat hulle van jou verwag as hulle jou êrens raakloop. Gelukkig is dit in my aard om altyd iets snaaks te sê, al is dit nie eens doelbewus nie.

Is jy altyd vrolik?
Ek raak ook soms neerslagtig, veral oor slegte nuus in die koerante en korrupsie in die regering.

Gunstelinge

BOEK: A Million Little Pieces van James Frey. Dit is ’n boek oor ’n man se oorwinning oor dwelmmiddels en dit ruk ’n mens.

MUSIEK: Enigiets met mooi lirieke

FLIEK: The Lion King

AKTEUR: Rupert Everett, Nicolas Cage, John Travolta en Samuel L. Jackson

AKTRISE: Meryl Streep

ROLMODEL: Oprah en soms baie gewone mense wat my lewe aanraak.

DRANKIE: Bloody Mary . . . natuurlik! Maar ook droë witwyn.

KOS: Thai

PLEK: ’n Stil strand in Zanzibar waar niemand my ken nie.

OOMBLIK: Die tyd saam met my pa by sy sterfbed.

Is dit vir jou sleg as mense jou oral herken?
Ek het onlangs by ’n geselligheid ’n man by ’n ander tafel herken, maar was te vasgevang in ’n gesprek om hom behoorlik te groet. Ek het net my wenkbrou in erkenning van sy teenwoordigheid gelig, maar hy het my geïgnoreer. Ek het sleg gevoel en hom later gaan groet, maar hy het nie geweet wie ek is nie.  “Maar ek ken jou, ek weet ek ken jou baie goed, maar ek kan nie onthou van waar nie,” het ek hom reggehelp. “Jy dink net jy ken my, want ek speel ’n rol in 7de Laan,” was sy antwoord. Ek het so dom gevoel, maar ek het iets daaruit geleer: Mense dink hulle ken jou, want jy’s die gesig op TV.

Wat is die boodskap wat jou werk wil oordra?
Aan die begin van my loopbaan wou ek hê mense moet ons bruinmense beter verstaan, dat ons nie is soos hulle dink ons is nie. Baie van ons het nog onse eie voortande en baie van ons woon darem in freestanding houses. My werk het voorheen gegaan oor die viering om ’n trotse bruinman te wees. Maar my loopbaan het aanbeweeg. Nou is my storie almal se storie. Ek spot oor universele issues waarmee elkeen in die gehoor kan identifiseer. Die boodskap wat ek nou wil oordra, is een van hoop.

Dra jy nog bagasie van die apartheidsjare?
Ons is nie juis getraumatiseer daardeur nie. My pa het dinge anders benader. As ons gekla het hulle wil ons nie by die swembad toelaat nie, het hy gesê: “Maar dan bou ons ons eie swembad. Wat is julle volgende probleem?”

Wat beskou jy as ’n voorreg?
Dat ek behoorlik van my pa kon afskeid neem voor hy in 2006 aan kanker gesterf het. Ons het geweet hy sterf en elkeen van ons kon ’n stil tyd saam met hom deurbring. Dit was ’n mooi ervaring. Hy het my gevra of hy ’n goeie pa was en ek kon met eerlikheid vir hom sê:  “Pa, jy’t ’n goeie job gedoen.” Daar was totale vrede en liefde in daardie oomblikke.

Het jy nog nie jou seksualiteit met jou familie bespreek nie?
Beslis nie met my ouers toe hulle nog geleef het nie. Ook nie met my ouer broer, Tony, nie. Hy sal die eerste keer in dié artikel van my emosies lees. Ek weet nie of hy dit vermoed het nie. Indien wel, het hy die onderwerp nog altyd vermy. Ek weet nie eens of hy dit nou met my sal bespreek nie. Hy en sy gesin is baie na aan my en ek wil hulle nie seermaak nie. Ek is vrot met konfrontasie – ek vermy dit altyd.

Wanneer het jy begin besef jy is anders?
Ek was so sewentien jaar oud. Ek het altyd ewe goed met seuns en meisies oor die weg gekom, maar ek het iets begin voel. Jy hoop die gevoel gaan weg. Maar dit het nie.

Het jy al ’n ernstige verhouding met ’n vrou gehad?
Ek het ’n verhouding van vyf jaar gehad en was verloof. Sy het nie toe geweet ek is gay nie, maar sy weet nou. Dis vreeslik om te dink jy het soveel tyd van iemand se lewe met ’n leuen gemors.

Wat doen jy in jou alleentyd?
Ek is mal oor my alleentyd. Ek kyk graag flieks of TV. Ek hou van reekse soos Dallas waarin die werklikheid ’n glans-lagie kry. Dis vir my ontsnapping. Vir my werk moet ek die koerante en die harde werklikheid verslind. Ek moet mense fyn dophou. Dis nie altyd ontspanne materiaal nie. Jy wil wegkom daarvan.

Is jy ’n baie sosiale mens?
Ek sosialiseer op Facebook en ek kommunikeer per e-pos. Ek hou nogal baie van dinner parties. In Kaapstad gaan laai ek my potte by die Indiese restaurant Maharajah af en gaan haal dit vol kos. Ek lieg lekker vir my gaste en hulle is dan vreeslik beïndruk met my kamstige “kookvernuf ”. Soms is dit lekker om net met ’n bottel wyn saam met ’n paar intieme vriende te kuier.

Wie is die Marc wat vriende ken?
Een van my beste vriende, Eugéné Benade, ’n advokaat, kom nooit na my vertonings kyk nie. Dis nie deel van ons vriendskap nie. Ons het ’n vaste afspraak vir middagete Vrydae. Dan is ons net Marc en Eugéné. Een van my beste vriendinne is Diana Wehmeyer. Sy sal ’n mens deur dik en dun bystaan. Ons praat soms lang tye nie met mekaar nie oor ons besig is, maar ons weet die ander een is altyd daar. Sy ken al my weak spots, my bad spots, maar nie my G-spots nie! Vriende is mense vir wie ek nie hoef te lieg nie, met wie ek kan kommunikeer deur net vir mekaar te kyk.

Steur jy jou aan kritici?
Voorheen het ek my aan kritici, gerugte en skinderstories oor my gesteur, maar ek het gegroei as mens. Onverdraagsaamheid het my eens gepla, maar nou weet ek ons kan nie almal dieselfde menings hê nie. My vertoning Hallelujah! (daarin is pastoor Brandon die alter ego van Lottering wat op sy eie manier vir die gehoor preek) het baie mense kwaad gemaak, maar ek het in die kerk grootgeword en ek kritiseer nie die kerk nie. Ek verpes wel skynheiligheid. Die vertoning was so gewild dat die speelvak verleng is.

Kritiseer jy jouself?
Ek kyk nooit na myself op TV nie. Dit voel te veel soos ’n out of body experience. Dit was darem nie lekker toe my TV reeks What’s Bothering Marc Lottering in 2002 weens lae kykertalle ná net vier episodes onttrek is nie. Agterna het ek besef my kop en ego het te groot geword. Ek het gedink ek kon daarmee wegkom om die tekste die aand voor die opname te skryf. Ek het dit voorheen reggekry, maar dié keer het dit geflop. Ek moes hard werk om weer my selfvertroue terug te kry. Nou het ek ’n nuwe blessing. Ek het myself vernuwe met harde werk. Mense verwag meer van jou. Jy kan nie net die gewone vir hulle bied nie, hulle wil verras en vermaak word.

Wou jy van kleins af komediant word?
Ek het op skool nie ’n idee gehad wat ek wou doen nie. Ek was altyd ’n bietjie van ’n alleen ou, nooit op “dieselfde bladsy” as my skoolmaats nie. Ek wou nie gewone goed soos ander kinders word nie, ek het heeltyd geweet daar moet iets anders in die lewe wees.  Akademies was ek nie ’n toppresteerder nie, maar ek kon goeie opstelle skryf. Ek was baie anders as my broer: Hy was die praise and worship-leier in my pa se kerk, maar ek was die wilde een.

Jy werk baie hard, bederf jy jouself soms?
Ek het vir my ’n swart BMW met ’n afslaankap gekoop. Ek hou van goeie restaurante en mooi klere. Ek bederf my broer se kinders en dit laat my goed voel.

Is jy soms spyt oor goed?
Ek stel myself soms teleur, maar ek is spyt oor niks wat ek in my lewe gedoen het nie. Soms drink ek te veel en ek dra die gevolge, maar ek werk hard en ek leef voluit. (Marc het in 2004 ’n ongeluk in Seepunt, Kaapstad, gemaak weens dronkbestuur. Hy het daarna uit sy eie na ’n sielkundige gegaan vir berading en moes ook ’n boete van R3 000 betaal. Hy het sy negatiewe ervaring in ’n eenmanvertoning, Crash, omgeskep, waarin hy mense teen dronkbestuur gewaarsku het. Pamflette van die veldtog Kom Veilig Daar is in die gehoor versprei.)

Wat is jou drome?
Ek leef my droom. Ek wil nog baie reis. Maar my grootste wens is om goeie stories te skryf en om dit met eerlikheid oor te dra.

Waarna wil jy eendag terugkyk?
Ek wil ’n mens sien wat sonder geheime geleef het.