Marlice van Vuuren
Ons praat met

Groen: Namibië se Marlice van Vuuren blog – Lightning, ons legendariese luiperd

Marlice en Rudie van Vuuren van N/a’an ku sê en Groen: Namibië-faam is bekend by SARIE-lesers. Nie net kuier bekendes soos die Jolie-Pitts op hul plaas nie, hulle doen ook wonderlike werk om wilde diere soos jagluiperds te rehabiliteer. 

Marlice van Vuuren blog vir SARIE.com:

Nog ’n hartlike N/a’ an ku sê-hallo!

Hier op N/a’ an ku sê het ons ons eie heldin … Lightning! Nie die tipe wat die hemelruim verlig nie, maar ’n luiperd wat beskryf kan word as die Aspoestertjie van die bosveld, net soos in die sprokie.

Lightning 2

Lightning die luiperd

In 2008 het ons ’n luiperd hier op N/a’ an ku sê gekry wat dadelik my hart gesteel het (soos alle diere maar doen)! Die smeking in haar oë, die smagting na die vryheid wat sy verloor het, het ons harte gebreek. Ek wou salf aan haar stukkende siel smeer.

Mettertyd, ná ’n jaar of so, het die vurige, wilde luiperdgeaardheid weer na vore getree. So moeilik soos dit vir my was, het ek geweet om so min moontlik kontak met Lightning te hê sal op die einde van die dag die beste vir haar wees. Dit was die enigste manier om haar eendag weer vry te laat in die natuur, soos dit veronderstel is om te wees.

Daardie dag het in 2009 aangebreek. Op Namibië se Kulala Wilderness-reservaat het Lightning uiteindelik haar sprong na vryheid geneem, toegerus met ’n GPS-nekband. Dié spesiale dag sal vir altyd in my hart bly – ’n uitsonderlike kat, vry gebore, daardie vryheid weggeneem en weer teruggegee!

Ek is seker hierdie videogreep van haar vrylating sal jou hoendervel gee.

Maar “tot siens” word toe gou weer “hallo”, want ons pragtige meisie vind haar pad terug huis toe en vestig haarself op Neuras Wine and Wildlife Estate. Die eiendom is ook nou deel van die N/a’ an ku sê-groep en Lightning lewe daar steeds gelukkig en vry in die pragtige dorre woestynlandskap van die reservaat.

Ons kan met trots sê dat ons spesiale Lightning die luiperd is wat al die langste gemonitor word ter wêreld. Net ’n paar weke gelede het ons haar suksesvol in ’n vanghok gekry om vir haar ’n nuwe nekband aan te sit. Haar eerste nekband was besig om sein te verloor, wat sou veroorsaak dat ons nie meer haar bewegings sou kon volg nie. Dit is nou al die sesde jaar dat ons haar monitor.

Lightning 3

Lightning het haarself bewys as ’n “nie-konflik”-roofdier, wat beteken dat sy wild vang en nie vee nie. En sy het al die lewe geskenk aan ’n hele paar oulike welpies! Jip, die legende van Lightning sal vir altyd voortleef.

Ek wens ons kan meer soos hulle wees, soos die diere wat ek op ’n daaglikse basis red. Maak nie saak hoe tragies hul storie is nie, hoe hartverskeurend hul verlede is nie, hulle gebruik dit nooit as ’n verskoning om van selfbejammering te vergaan nie. Hulle gryp eerder die kans om ’n nuwe begin te maak en te glo in die toekoms. Daar bestaan nie iets soos terugkyk nie.

Ek daag jou uit om dieselfde te doen.

Liefde,

Marlice

Lees ook