Ons praat met

Groot eer vir Riana Nel om ter ere van Madiba te sing

Die hele land is in rep en roer oor die groot sportdag wat môre, 17 Augustus, op die FNB-stadion in Soweto ter ere van Madiba gehou word. En Riana Nel gaan alles ‘afskop’…

 

Alhoewel ons amper `n maand gelede reeds Madiba se verjaarsdag gevier het, bring Suid-Afrikaners steeds op `n daaglikse basis hulde aan dié merkwaardige ikoon – veral omdat hy al vir meer as 2 maande in die hospitaal aansterk.

Môre se verrigtinge is ook een van die talle huldeblyke aan Madiba.

Bafana-Bafana speel om 13:30 teen Burkino Faso en die Springbokke pak die Argentyne om 17:00 op dieselfde veld. 

Riana Nel sal net voor die afskop van die rugby die volkslied sing. “Dit is seker die grootste eer wat iemand ooit kan kry! Dis my trots en ja, mens is nervous hoor,” het Riana gesê.

Ek kan nie wag om `n nasie saam met my te hoor sing nie. Dit raak nie beter as dit nie! Ek kan nie glo ek is die gelukkige meisie wat gekies is nie!

Van die ander huldeblyke vir Madiba:

Coenie de Villiers

Elvis Blue en Coenie

Elvis Blue en Coenie de Villiers het ‘n paar jaar gelede ‘n spesiale weergawe van die oorspronklike Nkosi Sikelel’ iAfrika opgeneem. Op die vooraand van Madiba se verjaardag, het hulle dié lied spesiaal aan hom op Kwêla op Kyknet (DSTV-kanaal 144) opgedra. Dit was ook die heel eerste keer dat Coenie, wat die program aanbied, self in die Kwêla-ateljee gesing het. Voorheen het hy net ander musikante begelei.

Kyk die video van dié pragtige lied hier

Ballet

Die talentvolle en gravitasie-ontwykende St. Petersburg-balletgeselskap het in Julie hul debuut-optrede van die bekende Swanemeer in die Teatro in Montecasino aan Madiba opgedra.

Die stigter van dié geselskap, Konstantin Tachkin, het gesê die vertoning word aan “die vader van Suid-Afrika se demokrasie” opgedra. Volgens hom is dit altyd vir dié geselskap ‘n eer om in Suid-Afrika op te tree.

Dít is wat SARIE op Madiba se verjaarsdag gedoen het