hanna_grobler1
Ons praat met

Hanna Grobler – Getroud met rugby

Mense sal haar dalk onthou as Sam van Binnelanders, maar sy is beter bekend as Casper de Vries se assistent in die kykNET-program Doen met ‘n miljoen. Sedert 7 April is Hanna Grobler ook as die rasieleier Kiki in Getroud met rugby op kykNET te sien. Liesl Roodt het vir haar ‘n paar vrae gehad.

Jy het al in musiek-video’s en TV-advertensies verskyn. Maar is die rol in Getroud met rugby jou eerste grote as aktrise?
My eerste rol in die bedryf was ‘n hoofrol in die verhoogproduksie Skroothonde, wat daardie jaar die Aardvark-prys gewen het. Daarna het ek in verskeie verhoogproduksies en TV-reekse gespeel, maar nooit langer as 3 maande nie. Ek glo as jong aktrise moet jy soveel as moontlik verskillende karakters speel en in al die genres werk. My langste kontrak voor Getroud met rugby was Doen met ‘n miljoen. Dit was groot pret en elke episode was ‘n uitdaging, omdat daar nooit ‘n teks was om op staat te maak nie. Getroud met rugby is my eerste groot rol in ‘n dramareeks.

Hoe het jy gevoel toe jy hoor jy het die rol gekry?
Ek was baie opgewonde, dis ‘n ongelooflike eer om saam met Deon Opperman en Cobus Rossouw te werk.

Wat het jy die meeste geniet terwyl jy aan Getroud met rugby gewerk het?
Dit was lekker om ‘n uitdagende karakter te speel en ons akteurs het groot vriende geraak op stel!

Wat was vir jou die grootste uitdaging daarvan?
Die liefdestonele aan die begin . . . ek is eintlik ‘n skaam meisie.

En wat sou jy as jou grootste uitdaging tot dusver in jou lewe beskou?
Dis vir my moeilik in die toneelbedryf, omdat dit ‘n selfbehepte industrie is waar jy jouself heeltyd moet bemark. Terwyl my groot passie eintlik my liefdadigheidsorganisasie, Hanna Charity and Empowerment Foundation, is, waar jy ander altyd eerste moet stel. Ek het dit verlede jaar gestig en dis twee wêrelde wat ek nog probeer balanseer.

Doen jy steeds modelwerk?
Nee, modelwerk was nog nooit ‘n prioriteit in my lewe nie.

Hoe sou jy jouself beskryf?
Gelukkig en ongelooflik dankbaar.

Ek sien op Facebook jou naam is eintlik Hanelia, of is dit net ‘n modelnaam?
Dis my doopnaam, ‘n kombinasie van my liewe ouma se name, Petronella Johanna. Hanna is my verhoognaam en almal wat my ken noem my sommer Hanna.

Watter rol hoop jy om in die toekoms los te slaan?
‘n Lekker lawwe rol in ‘n verhoogproduksie, of ‘n ernstiger karakter op televisie wat nie ‘n blonde poppie of dumb blonde is nie . . . ek sal my hare swart kleur as ek moet.

Besoek kykNET se webblad oor Getroud met rugby.