heinz1
Ons praat met

Heinz Winckler: 10 jaar ná sy ‘Idols’-wen. Hy deel sy herinneringe

Heinz Winckler het ‘n vól 10 jaar gehad sedert hy die eerste Suid-Afrikaner geword het om die Idols-kroon te dra. Daar was al meer as 20 treffers, verkope van meer as 150 000 CD’s, ‘n goue én platinum album, ‘n liedjie op ‘n Disney-klankbaan, die hoofrol in een van Amerika se gewildste musiekblyspele, 3 SAMA-benoemings, ‘n paar plaaslike sepierolle en natuurlik 2 pragtige seuns.

Hy vier dié dekade saam met sy aanhangers deur sy “10 Jaar van Treffers”-vertonings by die Alberton Boma en die Atterbury-Teater in Pretoria. Hy gaan geliefde treffers soos Once In A Lifetime, Ek kan weer in liefde glo, Next Stop Happiness, Jakarandakoningin, Can’t Lose With You, 1001 Soene, Drowning Me, Dis daai 20 minute en Chasing Shadows sing.

SARIE.com het met hom gesels:

1. Kan jy nog die gevoel onthou toe jou naam as wenner van Idols 1 aangekondig word?
Ja, ek was heeltemal oorweldig, maar vir seker opgewonde en ekstaties! Ek kon in my geestesoog daardie vinnige geel karretjie sien jaag!

2. Was daar ‘n stadium in die reeks wat jy amper seker was dat jy Idols sou wen?
Ek het na die einde se kant toe taamlik selfvertroue gehad dat dit sal goed gaan, maar nooit gedink dis ‘n definitiewe wen nie. En op die laaste dag het iemand van die produksie vir my kom sê Brandon se stemme het in daardie laaste week baie geklim, en dit het my nog meer ontsenu.

3. Is daar ‘n interessante staaltjie oor iets wat destyds agter die skerms gebeur het?
In ‘n stadium het die pers baie negatief geraak en kontroversie gesoek waar daar nie was nie. Een van die goed wat gebeur het, maar wat nooit uitgekom het nie, is dat ‘n joernalis van ‘n Sondagkoerant my met een van die ander deelnemers verwar het en my ouers gebel het om te vra oor my buite-egtelike kind in die Paarl… Uiteraard was my ouers baie ontsteld, en dit het my ook vies gemaak omdat hulle nou met my familie gemors het, maar ons kon dit darem opklaar en die joernalis het om verskoning gevra.

4. En toe kom jy 4de in die World Idol in 2003. Wat staan vir jou uit van daardie kompetisie? Het jy en Kelly Clarkson, die 2002-wenner van American Idol, kontak gehou?
Dit was ‘n groot belewenis wat my altyd sal bybly. Ek was in my lewe nog nie so op my senuwees soos daardie aand nie! Wat uitstaan is dat ek beter as Will Young, die wenner van die Britse Pop Idol-reeks, gedoen het! Ek het nie regtig tot so ’n mate met Kelly kontak gemaak dat ons kontak sou behou nie. Sy was maar min saam met die res van ons. Will ook. Maar ek het lekker tyd saam met die ouens van Australië, België en Nederland spandeer.

5. Dit lyk of die mans beter vaar ná hul wen as die vroue. Hoekom dink jy is dit so?
Dis moeilik om te beantwoord. Ek dink daar is baie faktore wat ‘n rol speel. Die grootste een is hoe honger en passievol jy is om ‘n loopbaan in sang na te jaag, ongeag wat oor jou pad kom.

6. Watter raad het jy vir die deelnemers van die huidige reeks?
Liedjiekeuse, gesonde selfvertroue, om op wen gefokus te wees en ‘n sangloopbaan te vestig, is die belangrikste dinge om reg te kry. Die res is net window dressing.

7. Hoe het dit gebeur dat jy die rol in die Amerikaanse musiekblyspel, Rent, losgeslaan het
‘n Agent van Los Angeles het my op World Idol gesien en gekontak. Hy’t aangebied om vir my oudisies te bespreek as ek ooit in die VSA kan kom. Ek het toe so ’n jaar later daar uitgekom en vir ‘n paar oudisies gegaan. Die een het gelei tot ‘n oudisie vir Rent, wat ek eers ‘n paar maande later kon doen.

Dit het goed gegaan, ek het my CD vir die regisseur gegee, maar in daardie stadium het niks daarvan gekom nie. Presies twee jaar later het die agent my gekontak om te sê die regisseur onthou my en wil my in ‘n hoofrol hê vir die Noord-Amerikaanse en Japanese toer van Rent! Ek was uit die veld geslaan! Ons het toe lank onderhandel en uiteindelik het ek en my vrou, Aletté-Johanni, sak en pak die 9 maande lange avontuur aangedurf.

8. Sal jy dit ooit oorweeg om oorsee te gaan om jou sangloopbaan uit te brei?
Absoluut. Dit is my groot droom!

9. Hoe balanseer jy jou gesinslewe en jou sangloopbaan?
Baie versigtig… Dis maar ‘n tydsbestuur-uitdaging, maar solank ek onthou my vrou en kinders kom voor my werk, glo ek dinge sal in ‘n gesonde balans bly.

10. Om Idols te wen, is ‘n groot droom vir talle. Wat is nóg op jou bucket list?
Om internasionaal sukses te behaal met my eie musiek en om met ‘n groot band ‘n wêreldtoer te doen.

Heinz Winckler se Dekade

VIER ‘N DEKADE VAN TREFFERS SAAM MET HEINZ. BESPREEK SO:

DATUM: 22 Junie 2012
TYD: 20:00
PLEK: Alberton Boma-Teater
KAARTJIES: 011 869 1555

DATUM: 6 JULIE 2012
TYD: 20:00
PLEK: ATTERBURY-TEATER, PRETORIA
KAARTJIES: COMPUTICKET


  • Karin

    Baie geluk! Goeie rolmodel! Nog 10 jaar!