Ons praat met

Helena Odendaal in Tokio

Dié 25-jarige Suid-Afrikaner, wat as sake-analis in Japan werk, het op 15 April haar kruisie in Tokio gaan trek vir Suid-Afrika. Marguerite van Wyk het met haar gesels oor die vooraf-stryd om te kon stem en hoe dinge toe op hul stemdag verloop het.

Hoe het jy gevoel dat Suid-Afrikaners aanvanklilk nié in die buiteland sou kon stem nie?
Toe ek Japan toe gekom het, het ek geweet dat Suid-Afrikaners sedert 1994 nie meer vanuit die buiteland kon stem nie. Dit het my gepla, maar ek het nie geweet wat één mens vanuit Japan kon doen om dit te verander nie.

En toe verander dinge verlede jaar, nè?
Groot momentum is op veral die internet geskep deur Suid-Afrikaners wat regoor die wêreld woon en werk om dinge verander. Wat vir my as keerpunt gekom het, was toe ek die Amerikaanse verkiesing vanaf Japan met die expat-gemeenskap dopgehou het. Vir my Amerikaanse vriende was daar geen beperking om deel te kon hê aan hul demokratiese proses nie – een stem in ‘n koevert vanaf enige plek in die wêreld. Hoekom kon Suid-Afrikaners nie dieselfde reg uitoefen nie?

Hoe het jy toe betrokke geraak by die hofsaak om Suid-Afrikaners in die buiteland stemgeregtig te kry?
Teen Desember verlede jaar is ek deur ‘n oud-Matie-vriendin gekontak wat vir ‘n prokureursfirma in New York werk. Sy wou weet of ek wou deelneem aan ‘n hofsaak as eiser om Suid-Afrikaners se reg om in die buiteland te stem te herbevestig. Ek het die geleentheid aangegryp. Vyf maande sou volg van verklarings teken, deurstuur na New York en Suid-Afrika en wag op verskeie hofbevele. Albei regspanne het 24/7 gewerk. Die grootste uitdaging was toe die president op 10 Februarie die verkiesingsdag (22 April) aangekondig het en ons saak toe nog nie deur die Grondwetlike Hof aangehoor is nie. Gelukkig het dit ‘n goeie uitkoms gehad. Op 12 Maart het ons die saak gewen. Ongelukkig is die stryd steeds nie verby nie. Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon, kan nog nie vanuit die buiteland registreer of aan provinsiale verkiesings deelneem nie. Dís ‘n saak waarvoor ons nog steeds in die hof stry.

Hoekom voel jy so sterk daaroor dat Suid-Afrikaners moet kan stem in die buiteland?
Baie mense neem aan dat as jy Suid-Afrika verlaat om vir ‘n tydjie êrens anders te woon en ondervinding op te doen het jy so half moed opgegee. Dit is glad nie waar nie. ‘n Skuif uit Suid-Afrika is nie ‘n skuif téén Suid-Afrika nie, maar vir ondervinding wat jy kan terugbring. Dis hoekom ek dink Suid-Afrikaners oorsee moet gehanteer word soos burgers met dieselfde grondwetlike regte en verantwoordelikhede as wat hulle sou hê as hulle in Suid-Afrika gewoon het.

Hoe het jy gevoel toe jy hoor julle mag stem?
Dit het amper onwerklik gevoel! Ek het nie geweet of alles voor April afgehandel sou word nie. Maar almal het hard gewerk en geregtigheid het geskied. Ons is sedert kleintyd die ideologie ingedril dat elke stem tel en hierdie keer kon myne ook tel!

Die dag toe jy jou kruisie kon trek, wat het deur jou gemoed gegaan?
Ek was baie opgewonde. Ek, my man (Henri Uys), en ‘n vriendin het die oggend na die ambassade in Tokio gegaan om die kruisie te trek. Dit was maklik vir ons om by die ambassade uit te kom, want ons woon in Tokio. Ons vriendin moes egter eers vlieg van Shikoku (ver suid van Tokio), waar sy Engels gee. Die stemmery was goed georganiseer en ons het sowat vyf minute gewag voor ons kan ingaan. Veel makliker as in Suid-Afrika.

Hoe het dinge by die stemlokaal verloop? Was daar baie grappe tussen Suid-Afrikaners en het julle dié stemmery ná die tyd iewers gaan vier?
Daar was twee mense wat voor ons gestem het. Die SA expat-gemeenskap in Tokio is beslis nie so groot soos in Londen of Hongkong nie. Ek het in die drie jaar hier in Japan nog net een ander Suid-Afrikaner leer ken. Dis waarskynlik omdat Japan so ver en vreemd is dat Suid-Afrikaners Europa of Noord-Amerika verkies. Daardie aand het ons drie die naaste ding wat ‘n mens in Japan aan braaivleis kan kry, gaan eet: Yakitori. Dis gebraaide hoender op ‘n stokkie, en daarmee saam Sapporo-bier.

Het jy kontak gehad met jou gesin ná die stemmery en hoe voel hulle oor jou betrokkenheid by die stemproses oorsee?
My ouers was baie trots dat ek kon deel wees van die hofsaak en kon stem. Dis ‘n bietjie vreemd dat hulle eers ‘n week ná my kan stem. Die stem-vibe het Suid-Afrika nog nie heeltemal getref toe ek gestem het nie.

Verlang jy baie na Suid-Afrika en beplan jy om terug te keer?
Ek verlang in die middae wanneer ek vir my ‘n rooibosteetjie by die werk maak en ek wens ek kan lekker klets met my ma, Mariëtte. Ek verlang ook wanneer ek met my broers, Adriaan en Hendrik, Skype en hulle my vertel wat alles op Stellenbosch aangaan of wanneer my pa, Kobus, vertel wat hulle Sondag gebraai het. Ek beplan vir seker om terug te kom en my kinders in Suid-Afrika groot te maak. Die ruimte, natuurskoon en die blootstelling aan mense van verskillende agtergronde en kulture is iets wat jy nie sommer êrens anders in die wêreld kry nie.

Hoe voel jy oor die toekoms van Suid-Afrika?
Ek dink dis blink! Suid-Afrikaners hoef vir geen ander nasie in die wêreld terug te staan nie. Die toekoms hang af van wat ons wil hê dit moet wees. Geduld, medemenslikheid en deursettingsvermoë gaan ons daar kry!

Dink jy genoeg Suid-Afrikaners het die kans gebruik om oorsee te stem?
Ek was nogal teleurgesteld dat net 17 000 Suid-Afrikaners oorsee gestem het. Ek dink die kort kennisgewing, die afstand van stemlokale en dat Suid-Afrikaners nie in die buiteland kon registreer om te gaan stem nie het grootliks bygedra tot dié lae stemsyfer. Ek hoop nie mense kyk na dié getalle en dink dit was nie die moeite werd nie. Die IEC kan baie leer van ander lande wat ook buitelandse stemme toelaat. Kyk byvoorbeeld na Amerika wat mense per pos laat stem. Dit maak dit makliker vir mense wat nie naby groot stede woon nie.