Ons praat met

Helenè Bester praat vir die eerste keer

Sy was nog onder verdowing toe haar perfekte babadogtertjie in haar arms neergelê word. Haar ligte gelaat en hoë voorkoppie was haar pa s’n. En haar lang voetjies het sy seker van háár gekry, glimlag die sangeres Helenè Bester. Dis nie ’n glimlag gevul met blydskap nie, maar met ongeloof, ontnugtering en diepe seer.

Dit het gelyk asof klein Anina net vreedsaam slaap, toegedraai in ’n kombersie en met ’n mussie op haar kop. Maar dit was ’n lyfie ontneem van lewe. “Al wat ek onthou, is dat sy vir my swaar was. En ek was ontsteld omdat die kombersie oud gelyk het.” Helenè se onderlip bewe soos sy die trane probeer keer, maar vergeefs. Dan vee sy dit weg uit haar groen oë.

Dit is eers later, toe sy na foto’s van Anina gekyk het, dat sy haar hoë voorkop en spitskennetjie opgemerk het. “Jy kan nie glo iemand kan so volmaak wees nie.” Ná Anina se stilgeboorte vroeg in November op sowat agt maande, wou Helenè haar nie sien nie. Maar die susters by die hospitaal het gesê dis nodig om afsluiting te kry. “Hulle het gesê dis sielkundig baie goed om jou baba vas te hou, want as jy weer nugter is en die lewe begin aanpak, gaan jy sleg voel omdat jy haar nie gesien het nie.”

Dis ook goed om foto’s te neem, vertel Helenè, want ná die tyd wil ma’s onthou hoe hul baba gelyk het. “Jy dink dit sal vreemd lyk, maar sy het net gelyk soos ’n dogtertjie wat slaap.”

Lees dié volledige, roerende onderhoud met Helenè Bester in die Maart-uitgawe van SARIE – Nóú op die rak.