sr1010helene01
Ons praat met

Aktrise Heléne Lombard: “Gewig afskud is nie vir sissies nie!”

 

EK HOOP

om soveel lande, kulture en tale te verken as wat ek in een leeftyd kan indruk. Die meeste goed op my bucket-lysie behels verre lande saam met my gesin en ‘n fisieke aktiwiteit soos ski, fietsry, seil, klim …

om die half-Ysterman te voltooi voor ek te oud word. Ek hou van die adrenalien. Ek het laas jaar so hard geoefen daarvoor, maar nooit by die byeenkoms uitgekom nie!

om eendag my eie produksiemaatskappy te hê. Ek wil ook karakters speel wat my laat groei of waarmee ek kan pret hê, soos Margot in Die ongelooflike Avonture van Hanna Hoekom. Sy is so over the top, maar die enigste karakter wat eintlik groei beleef.

om betrokke te wees by projekte waar ek leer en werk saam met mense wat my inspireer. Die ervaring beteken soveel – dis nie net die rol wat my lok nie.

dat my kinders – Lucien (6), Marcel (4) en Ronin (2) – gesond en veilig sal wees. Ek droom dat hulle gelukkige mensies sal wees met ‘n humorsin soos hul pa, Craig (Hallowes), en ‘n passie vir die lewe en die mensdom.

dat die gevoel van saamstaan en trots wat ons tydens die Wêreldbeker beleef het, sal voortduur en dat ons ons verskille kan oorbrug deur verdraagsaamheid.

Ek sou graag ‘n dogtertjie wou hê, maar ek is so gelukkig oor my drie seuntjies, en my ouma sê altyd: “My kind, jy’t net twee hande en drie kinders!”

EK IS BANG

omdat die wêreld se klimaat so vinnig verander en die mensdom dit afmaak as onbenullig. Ons moet ons omgewing respekteer, want dit onderhou ons.

wanneer ek in die see swem, want ek dink heeltyd daar is haaie onder my! In ‘n resies laat dit my gelukkig vinniger swem.

omdat daar so baie ouerlose kindertjies in ons land is – en die getalle groei by die dag.

Vir Hanna Hoekom moes ek hierdie belaglike, stywe, glimmende lycra-lyfkouse dra – dít was beslis buite my gemaksone, maar ek moes oë toeknyp, diep asemhaal en just go with it.

WAT EK NOU WEET

Toe ek jonger was, het ek gedink die toneelbedryf gaan oor hoe hard jy werk, hoe professioneel jy is en hoe goed jy is – toe leer ek op die harde manier die belangrikste is hoe jy mense behandel, respekteer en of jy met mense oor die weg kan kom. Ek dink in enige bedryf is jou menseverhoudings die belangrikste.

Die lekkerste van aktrise-wees is om my verbeelding vrye teuels te gee. Ek is eintlik in my kop nog ‘n kind wat dress-up speel.

Ma-wees het my baie geduld geleer, iets wat ek nie van nature het nie. Ek het geleer om te chill. Ek waardeer die tyd saam met my kinders en die klein dingetjies. Al daai gejaag na groot dinge beteken eintlik nie vir my meer veel nie.

Die grootste wanopvatting wat mense van my het, is dat ek altyd vol selfvertroue is.

Gewig afskud is nie vir sissies nie. Dit verg ‘n bitter stryd met jouself, volharding, en dan as jy net ‘n rukkie nie konsentreer nie, stapel die kilo’s weer op. Ek het ‘n doel voor oë gehad en my oog op die bal gehou vir ‘n jaar en ‘n half, maar nou weer ‘n bietjie gewig aangesit. So is die lewe, soos ‘n wipplank – op en af.

My ouers het my geleer jy kan enigiets bereik as jy regtig wil. My man het my voete onder my uitgeslaan toe hy heeltyd vir my Shakespeare aangehaal het. Later het ek agtergekom dié skelm is heeltemal te slim vir sy eie beswil. Hy is ‘n ewige student, mal oor skryf en ook baie kreatief. Hy is ‘n baie ondersteunende man en ‘n fantastiese pa.

‘n Ma van seuns moet energiek wees en dis vir my lekker om saam met my drie stouterds kind te wees. Ek dink eintlik is ek ook ‘n “opvoedkundige” ma – my ma was ‘n onderwyseres en ek sien hoe skemer dit nou by my deur.

Die hele werk-ma-vrouwees-balanskwessie bly ‘n uitdaging. Daar is altyd een aspek wat aan die korste end trek, maar ek dink elke ma beleef dit. Ons kelder onsself altyd met skuldgevoelens.

7de Laan en Sandra Stutterheim was ‘n wonderlike tyd in my lewe en ek koester dit, maar nou is dit ‘n ánder wonderlike tyd en ek koester dit ook. Ek is oor niks spyt nie.

Bekendheid kom en gaan – dis so wispelturig. As jy op die kassie is, wil almal jou ken, en as jy af van die TV is, wonder almal of hulle jou dalk geken het.

Ek is jammer daar is nie genoeg ure in ‘n dag nie. As ek een ding vir my kinders kan leer, is dit: Moet jouself nooit afkraak nie – daar’s genoeg ander mense wat dit vir jou sal doen.

My lewensfilosofie is: Lewe elke dag asof dit jou laaste is. Hoewel party dae soms voel asof dit jou laaste is en dan het jy nie die krag om dit só uit te leef nie!