Ons praat met

Heléne Lombard oor die nuwe sitkom, Konsternasie Oppie Stasie

Maak jou reg vir Konsternasie Oppie Stasie, ‘n nuwe TV-sitkom wat vanaf 16 Oktober vir dertien halfuurlange episodes Vrydagaande op SABC2 uitgesaai word.

Dis uit die pen van Paul Slabolepszy en gaan kortliks oor die wel en wee van die inwoners van die La Paloma-woonstelblok in Killarney, Johannesburg. Heléne Lombard speel die rol van Felicity Conradie, wat getroud is met Gys (André-Jacques van der Merwe), `n Afrikaanse motorverkoopsman. Marguerite van Wyk het met haar gesels oor dié rol, SA humor en haar drie ander ”projekte” …

Vertel bietjie meer van Felicity
Dis `n lékker karakter. Sy is `n go getter en `n skoonheidsterapeut. Sy bestuur die huis van haar man en haar broer, Clive Wright (David Clatworthy), `n droë Engelse ou wat die weerman by `n gemeenskapsradiostasie is. Felicity probeer altyd die vrede bewaar en is goed daarmee om haar man te manipuleer sonder dat hy dit agterkom. Hulle probeer mekaar die heeltyd truuk. Dis eintlik nogal `n lekker verhouding.

Was dit lekker om saam met Paul Slab te werk?
Hy was elke oomblik van die dag, tot op die punt nét voor ons begin skiet het, op die stel. Ek het nog nooit met iemand gewerk wat soveel positiewe energie het nie. Ons het by hom geleer hoe om nooit op te gee nie en te bly soek na snaakse dinge, sêgoed, momente wat gaan wérk. Die reeks is ten volle in Engels geskryf, Paul kan glad nie Afrikaans skryf nie en ons moes dit 50 persent in Afrikaans vertaal. Ons het baie min tyd gehad om te verfilm en moes als binne vyf weke skiet. In Amerika skiet hulle `n week lank aan ‘n halfuur-episode. Dit was `n druk, lekker pas.

Dink jy dié humor gaan werk vir Suid-Afrikaanse gehore?
Beslis. Die karakters is baie eg. Daar is intellektuele en fisieke (slap stick) humor. Mense sal beslis daarmee kan identifiseer. Hulle sal sê ek kén iemand soos Felicity of mý man is nes Gys. Dis glad nie polities nie. Dis wat ons nou met die resessie en al die ander dinge in Suid-Afrika nodig het. Dit gaan oor snaakse situasies en Jan Alleman.

Watter uitdagings het die rol aan jou gestel?
Komedie is `n moeilike ding om te doen. Dit verg goeie ensemble-werk tussen akteurs. Jy kan dit beslis nie op jou eie aanpak nie. Jou tydsberekening moet uitstekend wees en jou woorde moet perfek wees. Jy moet dink aan die kameras en dan nog gemaklik lyk en `n geloofwaardige karakter skep. Dit was ook `n uitdaging gewees om `n karakter te vertolk wat lig en speels is. Ek het dit al baie in die teater gedoen, maar nog nie juis op TV nie.

Aan watter interessante projekte werk jy op die oomblik?
Ek maak drie tawwe seuntjies groot – die een onder my arm is 2 ½, Marcel. Dan is daar Lucien (5) en die tienmaande-oue Ronin. Ek dink met die gemors waarin die SABC nou is, moet mens dalk jou hand waag daaraan om meer toneelstukke te skryf. En ek wil graag meer werk.

Sal jy wil terugkeer 7de Laan toe?
Nie nou nie. Daardie tyd was baie spesiaal. As jy teruggaan na iets is dit nooit weer dieselfde nie. Die ure is ook te lank. Ek wil nou eerder vryskut doen en vir korter periodes intens werk, soos in ander sepies waar jy net `n paar uur per dag werk. Ek sal ook graag aanbiederswerk wil doen. Iets arty. Ek stel baie belang in kuns en binneversiering.