Ons praat met

Henriëtta Gryffenberg se hoop, vrees en lewenslesse

EK HOOP

om eendag my kop neer te lê en te voel ek het iemand se lewe aangeraak. My kinders, Emile (11) en Ben (8), leer my van die liefde. Hulle sien soms die slegste van jou, maar hulle vergewe so maklik en het jou onvoorwaardelik lief. Ek weet nie hoe maak mense sonder kinders sin uit die lewe nie – ek is seker hulle doen – maar my kinders is my saving grace, want ek voel ek doen iets van waarde omdat ek hulle grootmaak.

om op te hou om my te kwel oor my gewig. Erfsondes kos my ’n bietjie van my selfbeeld omdat ek te veel sit en skryf en te min oefen. Ek is nie meer lus om myself in die gimnasium te dryf om soos iets te lyk wat ek nie is nie. Ek word vanjaar 44 en ek dink ek lyk goed.

my jongste seun leer een van die dae lees. Hy sukkel nou al ’n ruk. As hy probeer lees en sy lyfie wieg so – amper asof hy senuweeagtige trekkings kry – dan dink ek: Doen enigiets aan my, trek my toonnaels uit, maar moet net nie dat my kind so sukkel nie.

my skryfwerk laat mense dink. Ek wil verskillende scenarios skep. Ek het nie antwoorde oor menswees nie, maar ek dink as ons meer bedagsaam teenoor ander is, sal ons verder kom met mekaar.

EK IS BANG

om mense teleur te stel. Erfsondes se tweede reeks is ’n vyand wat ek elke dag beveg. (By ons ter perse gaan was sy aan’t skryf aan die reeks.) Met die eerste een wou ek bewys ek kan ’n TV-reeks skryf. Nou het ek ’n verwagting geskep waaraan ek moet voldoen. Ek is bang ek kan nie.

daar gebeur iets met my kinders. Ek weet nie of ek sterk genoeg sal wees om dit te hanteer nie. Ek besef jy het net tot op ’n punt beheer oor wat in jou kinders se lewens gebeur: Ek laai hulle nie alleen by inkopiesentrums af of laat hulle in die strate rondloop nie. Ek weet ook daar kom ’n oomblik waar die lewe eenvoudig gebeur, ongeag wát jy doen.

vir kanker. Dit voel soos ’n siekte wat nie oorwin kan word nie – dit bly ’n sluimerende bedreiging vir jou lewe. Dit het meer te doen met my verganklikheid – dat jy so vinnig kan siek word en doodgaan. Ek worstel met die dood. Ek wonder wat die doel van die lewe is. My suster is drie jaar gelede oorlede. Ek mis haar, maar my lewe het aangegaan. Dit voel of alles nutteloos is as ons tog net doodgaan. Ek weet ek moet nog by die plek kom waar ek dit verstaan.

WAT EK GELEER HET

Die dood is onvermydelik. En die lewe is ’n kosbare geskenk wat ons elke sekonde moet aangryp. Die enigste waarborg wat ons het, is hier en nou. Ek het ’n ruk gelede gely aan depressie en skuldig gevoel, want ek het pragtige seuns, ’n wonderlike man (Robert Plattner), ’n lieflike huis . . . maar ek kon nie goed voel daaroor nie, want ek was ondankbaar. Nou ervaar ek geluk oor hoe geseënd ek is.

Almal is menslik. As mense my teleurstel, probeer ek verstaan almal maak foute. Ek stel hoë eise aan ander omdat ek hoë eise aan myself stel. As ek kan leer om nie so hard op myself te wees nie, sal ek ook nie so hard op ander wees nie.

Geld is nie alles nie, maar dit maak die lewe geriefliker. Ek weet ook geld moenie jou menswees verander nie. As jy my besittings vat, sal dit nie my inbors verander nie, soos dat ek hard werk en dapper is. Maar een ding wat jy nie van my moet wegneem nie, is my gesin, want dít sal my verander.

Jy kan net jou potensiaal verwesenlik as jy jouself aanvaar. Toe ek jonger was, was ek baie mededingend. Ek wou SA se beste aktrise wees. As ek vandag na oorambisieuse mense kyk, is dit nogal offputting. Ek het nie meer nodig dat ander my iets werd moet laat voel nie. Hoe kan jy jou potensiaal verwesenlik as jy heeltyd fokus op iemand wat mooier, beter of slimmer as jy is?