apr08praatmet
Ons praat met

Hier kom Shirley van Bellville…

Ons ken haar alte goed. Dis mos Fiela Komoetie en Nenna Willemse, volksmoeders, wat albei hier voor jou sit, gul en groothartig. Hier in die huis in Witpoortjie, Johannesburg, waar Pippa en Pokkel baas is. Shaleen Surtie-Richards se twee Maltesers. Daar is nie ’n man nie.

Sy’s haar eie vrou . . . Vanjaar leer ons haar ken in ’n ander, welbekende gedaante waarmee vroue wêreldwyd kan identifiseer: Shirley Valentine, deur die vindingryke regisseur Hennie van Greunen verafrikaans tot Shirley Valentyn. Jy sal haar sien op die KKNK en Aardklop en verder. Hennie het die stuk spesiaal vir haar verwerk, om haar soos ’n handskoen te pas.

“Ons siening van komedie is dieselfde,” sê hy. “Ek bewonder die manier waarop sy ’n gehoor kan laat lag en hul siele oopmaak. Hulle wíl na haar kyk. Sy vertolk elke karakter met instink en begrip.”

Pedro Kruger, mede-eienaar van Wordsmith Theatre Factory saam met Hennie, staan haar by met repetisies. Hy het Shaleen die eerste keer op die verhoog raakgeloop in 1986. Destyds het hy as veertienjarige beurte gemaak met Jan Ellis om Benjamin Komoetie in die eerste verhoogweergawe van Fiela se kind te speel in die Nico Malanteater (Kunstekaap) in Kaapstad. Die opregte emosie waarmee sy Fiela gespeel het, het ’n ewige indruk op hom gemaak.

“Ek onthou hoe haar trane elke aand op die verhoog gedrup het. Sy is steeds die formidabele aktrise wat ek bewonder. Ons het ’n hegte band.”

As ’n mens is Shaleen net so opreg, vertel nog ’n vriend, die sanger Dozi. “Jy weet altyd waar jy met haar staan. Wat sy van jou sê, sal sy vóór jou sê. Sy is altyd in dieselfde bui. Selfs al gaan dit sleg met haar.” Hy noem haar “die wyse vrou”.

’n Eenvrouvertoning van byna 90 minute. Is jy senuweeagtig?
Ek is altyd gespanne oor ’n vertoning. Tot die laaste aand.

Hennie (van Greunen) sê jy het die woorde maklik bemeester.
Ek moes dertig A4-bladsye se woorde leer. Op skool het ek op my stertvelle deurgeskuur, maar toe ek begin toneel speel, het ek ontdek ek leer maklik. Pappa het eenkeer gesê met dié talent kon ek dokter geword het. Maar my liefde is vir toneel speel.

Met TV en flieks kan jou slegte performance in ’n goeie een ge-edit word. Maar op die verhoog is dit jy, die gehoor en die waarheid. Jy is verantwoordelik vir wanneer die mense lag of huil. Jy sit met hulle in die palm van jou hand. Die Here het my die ongelooflikste talent gegee.

Dit gaan oor meer as toneel speel?
Ek is geskei en het nooit kinders gehad nie, maar die Here het ander planne gehad. Wanneer ek ouetehuise besoek of met kinders werk, weet ek ’n man en kinders sou nie plek laat vir soveel mense in my lewe nie. Ek gaan nie kerk toe nie, maar ek leef nie sonder die Here nie. Mamma was al so ge-worried oor my geloof. Nou kan sy sien hoe raak ek mense aan.

Haar gunstelinge

KOS: Kaaps-Maleise kerrie, braaivleis en Chinese kos

AKTRISE: ’n Hele paar, maar Anna-Mart van der Merwe

AKTEUR: Dawid Minnaar, Hans Strydom

FLIEK: Fried Green Tomatoes

PLEK: Met my kop op my ma se bors

GOUE OOMBLIK: Toe Mamma vir my sê: ‘Jy kyk so mooi na Mamma dat Mamma nie meer vir Pappa so baie mis nie.

’
DIE MENS WAT JY DIE MEESTE BEWONDER: 
My ma!

LUUKSES: My instap-hangkas, my reuse flat screen-TV en die jacuzzi in my kamer.

Jy’s toegewyd aan bewonderaars, veral kinders?
’n Meisie van Piketberg skryf sy het my foto teen haar muur en dit het haar gehelp om dwelms te los. Franz Marx het al gespot: Jy is ’n volksmoeder en jy is nie eens wit nie! Toe ek in Generations was, het ’n man my in ’n winkelsentrum bestorm en so hard aan my gesig probeer vat dat dit soos ’n klap gevoel het. Ek kon my nie vererg nie, want ek het die bewondering in sy oë gesien.

 

Pla dit jou nie as mense jou so voorkeer nie?
Dis die mense op straat wat jou soos ’n ster laat voel. As ek nie lus is vir mense nie, bly ek liewers tuis. Sonder jou kykers is jy niks. Dis snaaks dat iemand daaraan werk om famous te wees en dan dra hy ’n sonbril sodat niemand hom moet herken nie.

Wat gaan Shirley Valentyn vir vroue beteken?
Ek stem saam met die internet-kletser wat gesê het elke vrou verdien ’n wegloop- oomblik. Vroue sal iets van hulself in Shirley sien. Elke aand sesuur soek Johnny sy kos. Seks is vir hulle net maak oop, maak toe, maak tee. Op ’n dag snap sy en besluit om saam met ’n vriendin Greece toe te gaan. Dan gaan ontdek sy haarself weer.

Is daar iets van Shirley in jouself?
Met haar vrouwees kan ek identifiseer. Maar my eie huwelik was anders. Ek was nie die dienende vrou nie. Ek dank die Here daarvoor. Ek was nooit by die huis nie, daarom het die huwelik twaalf jaar gehou. My ouers het by ons gewoon en my ma het gekook. As ek soms vir Gerald, my eks-man, ’n toebroodjie moes insit, het ek ge-backchat! Ek is ’n ander soort vrou. Ek vat nie twak van ’n man nie. Gerald is die een man vir wie ek rêrig sou luister, maar ek is grootgemaak om nie my mond te hou nie. Pappa het altyd gesê: Na wit hoef jy nooit op te kyk nie en na swart hoef jy nooit af te kyk nie. Jy kyk langs jou na ’n mens en sy menswaardigheid.

Jou ouers, Shagan (Hokkie) en Ellen (Sakkie), het die fondamente vir jou sukses gelê?
Ek baseer my leefwyse op wat my pa, ’n onderwyser, my geleer het. Mamma ook. O, ek het baie pak gekry, want ek was goddeloos! Ek het een keer vir my pa gelieg en hy het my geklap dat my wange só maak. Ek het dit nooit weer gedoen nie.

Hulle het jou geleenthede gegee?
Toe die wit ouers nie wou hê ek moet saam met hul kinders ballet nie, het Pappa ’n balletonderwyseres in die Kaap gaan haal en vir haar ’n huis op Upington gekry. Hy het ballet-bars in ons sitkamer aangebring en ’n linoleumvloer laat insit. Want sy kind sóú ballet neem!

Jy versorg vandag jou ma?
Toe Pappa 80 jaar oud geword het, het ek vir hom en Mamma voor hul vriende en familie beloof ek sal sorg dat hulle nooit ouetehuis toe gaan nie. Hy is in 2000 dood en daarna het Mamma by my kom bly. Sy het ’n beroerte gehad en loop nie meer maklik nie.

Ek verstaan sy was ’n formidabele vrou op haar dag.
My ma was een van die beste sprekers wat ek nóg gehoor het. Sy was in verskeie komitees, selfs saam met Marike de Klerk Ierland toe vir ’n vroueding. Sy het na plase gegaan en vroueklubs gestig. 

Jy glo ook aan vrouebemagtiging?
Ek sorg altyd dat my huishulpe hul eie spaarrekening het waarin ek hul geld betaal. My een huishulp kon só op ’n dag haar goed neem en loop toe haar man haar weer slaan. Sy het my bedank en gesê: ‘Jy het my weer vrou gemaak.’ Maar deur beheer oor haar lewe te neem, het sy haarself weer vrou gemaak. 

Hoe voel jy oor vroueregte?
Ek’s nie ’n women’s libber wat my bra sal brand nie. ’n Mooi bra is sexy. Ek wil vrou wees, maar ek sit nie agteroor nie. Vroue slaap rond en verwag ’n phone call en bos blomme die volgende dag. Almal het gedink ek het op my man se kop gesit, maar dit was nie so nie. Dan sou ek nie met hom getrou het nie, want dan het ek nie respek vir hom gehad nie. Respek is ’n wedersydse ding wat albei moet verdien.

En hoe voel jy oor seksualiteit?
Baie vroue kom uit huise waar die lig moet afgaan en die deur toe as jy seks het. Maar dan word jy groot en leer vryheid. Jy gaan na sex aid parties toe en jy sien goed soos vibrators. Ons is mos te skugter om vir ’n man te sê waarvan ons hou. Jy kry te skaam! Pleks jy jou mond oopmaak en sê: ‘Dis nou lekker, Liefie.’

Mis jy nie ’n man in jou lewe nie?
Ek wag nog steeds vir die man wat weer my maag sal warm maak, maar ek is té besig om rond te kyk. Maar as so ’n man opdaag, gaan ek nie sê ek gaan dit nie vat nie. Ek slaap nie rond nie. Ek wil nooit in ’n bed wakker skrik en dink: ‘O, het hierdie man nou by my geslaap oor my of om te kan sê hy het by Shaleen Surtie-Richards geslaap?’ Dis ’n risiko. Met my persoonlikheid is mans in elk geval versigtig. Ek is nie die hulpelose soort wat sal sê: ‘Ag, maak hierdie skroefie vir my vas’ nie. Ek sal sê: ‘&^%, ek kry nie die ding reg nie, help hier!’

Jy het baie selfvertroue?
Ek voel deur niemand bedreig nie. Ek het nie meer insecurities nie.

Is jy bang vir oud word?
Kyk hoe sit ek hier met my plooie! Ek sal nooit gaan vir ’n face job nie, ek sal wel gaan om ’n tietie te lig. Maar ek het dit nie nodig in my lewe nie.

Klaar met die ewige diëte?
Ek lyk nou goed omdat ek opgehou dieet het. Ek sal wel moet werk aan my stamina vir Shirley Valentyn.

Sien jy daarna uit om terug te wees op die verhoog?
Ons gaan dinge anders doen. Shirley gaan met regte speserye op die verhoog kook sodat die gehoor dit kan ruik. Ek gaan in ’n baaibroek op die verhoog verskyn! Ek gaan nie eens daarvoor dieet nie. Mense moet die kreukels op my boude sien.

Jy het verlede jaar ’n goeie vriendin verloor?
Hannah Botha, wat saam met my in Egoli gespeel het, was ’n suster. Sy was 84. Toe ek haar ontmoet het, was sy ’n stoere Boere-antie uit die apartheidsjare. Dit was vir my baie moeilik, maar binne drie maande was ek nie meer bruin en sy wit nie. Sy het soms gesukkel om aan te trek. Dan het ek gaan help. Ons het nie gepraat nie. As ons klaar was, het sy net haar hand saggies op my skouer gesit. Toe ek die vorige keer uit Egoli weg is, het sy vir my ’n briefie geskryf: ‘My suster, ek voel ek het my regterhand verloor. Wat gaan ek maak sonder jou?’ Ek voel nou ook so.

Jy het kritiek ontvang oor jou optrede in Supersterre?
Ek weet niks van musiek af nie. My job was nie om die kinders af te breek nie, maar om hulle ego’s te boost. Toe kry ek vir die eerste keer in my lewe sulke slegte feedback. ’n Sondagkoerant het gesê ek is vals en praat met ’n vals ‘Kleurling’- aksent. Ek meen, hellouuuuu, is ek dan ’n Chinees?

Is Niekie van den Berg regtig so ongeskik?
Ek vrek oor Niekie. Hy is so gemaak en so laat staan. Ons het groot sports gehad – ek, hy en Theuns Jordaan. Dié is ook nie so knorrig nie.

Dink jy ooit aan die dood?
Ek kan nie swem nie. Ek het Kersfees van my opblaasmatras in die swembad geval en gesink. Ek het gedink: ‘Here, wat gaan van Mamma word? Ek moet uit!’ Ek het kalm gebly en begin skop. Ek het bewerig vir Mamma vertel. Toe vriende kom swem, het sy voor hulle geroep: ‘Poplap, moet net nie aan die diep kant swem nie!’

Jy is in 2005 deur die ATKV as Afrikoon bekroon?
As jy lol met my taal, lol jy met my ma. Dis my moedertaal. Ek is bly ek kan Shirley Valentine in Afrikaans doen. Dis so ’n ryk taal. In Hello and Goodbye was my lekkerste reël toe Hester vir haar broer sê: ‘Ek hoer!’ Jy kan dit nie so sterk in Engels sê nie.

Hennie se teks vir Shirley bevat kleurryke Arikaans.
Ja, daar is reëls soos: ‘Die expression op Jane se gesig sal ’n brood laat muf.’ En: ‘Dan dink ek, Shirley, hou jou bek, maar voor ek my kon kry, het my bek my heeltemal ge-override.’ Dis net soos ek dit ook sou gesê het.

Hoe smaak sukses?
Ek het 38 toekennings agter my naam en daar is ’n roos na my genoem. Ek raak nooit blasé daaroor nie. You are as good as your last performance.