FOTO: Facebook

Ons praat met

Hiermee hou Heinz Winckler hom besig

Heinz Winckler is ’n besige man. By die huis is hy die pa van drie seuns, en by die werk is hy sanger, akteur, musiekvervaardiger en deesdae ook skrywer …

Oor sy boek

Heinz, wat Suid-Afrika se eerste Idols-kompetisie in 2002 gewen het, is tans besig om sy eie boek te skryf. Dié boek se manuskrip moet einde vandeesweek klaar wees sodat dit vroeg volgende jaar op die rakke kan wees.

“Dis ’n boek vir jong Afrikaners oor hul identiteit in Christus. Ek skryf dit uit ’n getuienis-oogpunt,” het hy aan SARIE.com vertel. CUM-boeke het Heinz en sy vrou, Aletté-Johanni, verlede jaar genader om boeke te skryf. Aletté se boek, Môre is Maandag, is vroeër die jaar uitgereik. Die paartjie het drie seuns, Lian, Simeon en baba Reuben.

Aletté praat oor ma-wees en haar boek

“Ek is nie ’n teoloog of hooggeleerde nie, maar ek het ’n lang pad gestap en ek wil dit oordra in die boek.”

Nuwe fliekrol

Heinz, wat plaaslik al in die fliekweergawe van Getroud met rugby én in Binnelanders gespeel het, is volgende jaar ook te sien in die Afrikaanse rolprent Mooirivier. Dié fliek is vroeër vanjaar in Potchefstroom, Noordwes, geskiet.

Agter die skerms by Mooirivier

Heinz Winckler en Suzzi Swanepoel, wat ook in Sterlopers te sien is FOTO: Twitter

Heinz Winckler en Sterlopers se Suzzi Swanepoel op die stel van Mooirivier, waarin hulle albei speel.
FOTO: Twitter

“Ek was mal daaroor, die gogga het my opnuut weer gebyt,” vertel hy oor dié ervaring. Hy speel die rol van Dave Meyer, ’n bekende sanger wat sy hart op die enkelma Marcelle (Nadia Beukes) verloor. “Ek hoef nie té diep te gedelf het vir Dave nie, want ek weet hoe dit is om ’n sanger te wees, maar dit was steeds uitdagend én lekker.”

Heinz het ook gehelp om musiek te skryf vir die klankbaan van dié fliek waarin onder andere Nadia Beukes, Tim Theron en Anel Alexander ook speel.

Ek voel ek het van my beste werk gelewer in Mooirivier en dít maak my baie opgewonde.

Hy meen sedert hy byna sewe jaar gelede in Amerika in die musiekblyspel Rent was, kyk hy nie meer dieselfde na musiekblyspele en TV-programme nie. “Ek ontleed alles wat ek sien sodat ek dit kan gebruik om self ook ’n beter akteur te word.”

Sakeman ook …

Sedert hy en Aletté vroeër vanjaar saam met hul seuns na Somerset-Wes in die Wes-Kaap getrek het, het Heinz en nog twee musiekkenners saamgespan om Earth.Song Productions te begin. Dis ’n produksiemaatskappy wat jong musikante wil help om die musiekbedryf te betree.

Heinz en sy nuwe kollega Uys Visser FOTO: Facebook

Heinz en een van sy nuwe kollegas, Uys Visser.
FOTO: Facebook

“Ek dink ons is ’n sterk span,” sê Heinz oor die werk wat hy saam met musiekvervaardiger Uys Visser en kitaarspeler Sven Blumer by Earth.Song Productions doen.