Annelisa Weiland, Hilda in 7de Laan FOTO: Phyllis Green

Ons praat met

‘Hilda’ keer terug na die verhoog

Ná byna vier jaar maak die aktrise Annelisa Weiland, beter bekend as Hilda in 7de Laan, haar terugkeer na die verhoog by vanjaar se Innibos-kunstefees.

Sy speel in die toneelstuk 4000 myl, wat deur die Amerikaanse dramaturg Amy Herzog geskryf en deur Hennie van Greunen vertaal is. Hennie behartig ook die regie. Die stuk is in 2012 deur die nuustydskrif Time as sy toneelstuk van die jaar aangewys en vertel die verhaal van Vera, ’n 91-jarige vrou, wat een oggend wakker word van ’n lawaai in haar woonstel. Sy tref haar kleinseun aan wat die afgelope maand soos ’n groot speld verdwyn het, en nou moet twee geslagte leer om in een ruimte saam te leef …

Só sien Annelisa haarself

Annelisa vertolk die rol van Vera terwyl Viljé Maritz haar kleinseun, Leo, speel.

“Ek het Viljé al op televisie gesien, maar nog nie op die verhoog nie. Ek is baie opgewonde om saam met hom te werk,” sê die gesoute aktrise oor haar medester. “Ek hou baie van die spontaneïteit en energie van die jonger akteurs.” Crystal Donna Roberts en Karli Heine is ook in die produksie te sien.

Annelisa sê hoewel hulle nog mekaar se energie op die verhoog leer ken, leer sy baie wanneer sy saam met dié jong sterre werk. “Dit ’n voortdurende leerproses en ontdekkingstog,” vertel sy.

“Dis totaal anders as om televisie te doen, so ek is nogal moeg! Ek is nie gewoond daaraan om van nege tot vier te konsentreer nie. By 7de Laan kan ’n mens jou energie spaar vir die tonele waarin jy speel.”

7de Laan-aktrise sê werk het haar help genees

“So, ek raak nou maar eers aan die inspanning gewoond,” sê sy. Aangesien die repetisies hierdie week eers begin het, het Annelisa se voorbereiding tot dusver meestal die leer van haar woorde behels.

“ ’n Mens kyk maar na die karakter om te sien wat jy van haar kan uitlig sodat jy haar emosionele gewig kan bepaal. Jy voel elke dag hoe die karakter nader aan jou kom.

“Baiekeer as ’n mens na ou mense kyk, sien jy hartseer, verlore mense. Maar Vera is feisty. Sy is glad nie selfbejammerend nie, maar intellektueel en filosofies,” sê sy.

Nie net word 4000 myl tydens die Innibos-fees vir die eerste keer in Suid-Afrika opgevoer nie, dis ook Annelisa se eerste keer by dié kunstefees. “Ek hoor dis ’n heerlike fees, so dis vir my opwindend, maar ook effens senutergend,” lag sy.

Annelisa meen dié stuk gaan regtig met die gehoor praat. “Ek is mal daaroor, dis nie vreeslik dramaties nie, maar tog sensitief en die karakters is goed geteken,” vertel sy opgewonde. “Hennie het ’n wonderlike oog vir detail en opregtheid. Dit sny reg deur tot die senuwee van die stuk,” sê sy oor die regisseur.

Hennie van Greunen praat oor die bekroonde Rondomskrik

Hennie is een van die suksesvolste regisseurs op die Afrikaanse verhoog. Hy was al betrokke by onder meer Die Naaimasjien, Lyf, Shirley Valentyn, Vir Ewig en Altyd en Rondomskrik. Dit is die eerste keer dat Annelisa en Hennie saamwerk.