Andrea Streso Danelle 7de Laan
Ons praat met

Hoe maak Andrea Streso (‘7de Laan’ se Danelle) reg vir die somer?

Die somer is om die draai en vir die meeste van ons beteken dit nou ’n ernstige skoonheids- en fiksheidsroetine om goed te lyk op die strand. Ons gesels ons met bekendes oor hoe hulle hul lyf somergereed kry.

Die 22-jarige Andrea Streso (Danelle in 7de Laan) is die nuwe jong talent in die Laan. Sy is gewoond aan kusdorpe – sy kom oorspronklik van die Oos-Kaap, maar noem haarself ’n “Kaapse kind” nadat sy by Stellenbosch studeer het, nou bevind sy haarself in Johannesburg met ’n heel anderste somer-klimaat.

Andrea Streso Danelle 7de Laan Wat dui die begin van somer vir jou aan?
Ek sien dit in die natuur. In die Kaap is die  groen bome op hul groenste, maar hier in Gauteng verander die strate oornag in die wonderlike gesig van die mooiste pers Jakaranda-bloeisels.

Wat is die lekkerste van somer vir jou?
Warm somer-Saterdae. My wenresep is son, see (of ’n swembad!) en ’n koue drankie. Die aande is ook lieflik – ek maak altyd seker ek sit buite by ’n eetplek sodat ek die somer ten volle kan geniet!

Beste somer-herinnering?
My vakansie verlede Desember in die Transkei. Ons het in hutte gebly by die mond van die Manteku-rivier en elke minuut buite spandeer. Dit was ongelooflik! Die natuur is ongerep en die weer het saamgespeel.

Andrea Streso Danelle 7de LaanHoe berei jy voor vir die somer?

  • Met die somer-weer eet ek outomaties gesonder – slaai, smoothies, vrugte en groente. Ek eet eerder gesond as om ’n streng kitsdieet te volg.
  • As ek lus is vir ’n somerkelkie maak ek seker ek meng dit met water en ek bly weg van gaskoeldrank en vrugtesap. Baie min koffie en tee (dit is altyd vir my makliker in die somer as in die winter) of een swart koppie koffie vroeg in die oggend om my metabolisme aan die gang te kry. Ek drink ook baie water, want dit laat my dadelik gesonder voel en doen wonders vir my vel.
  • Ek swem en stap gereeld. Ek probeer ook muurbal speel wanneer ek tyd het.
  • Ek gebruik ’n lyfwas met ’n olie-basis. Dit werk soos ’n bom om my vel sag en bevog te hou.
  • Ek smeer ook meer gereeld vogroom aan my gesig en my vel.
  • Om my voete gereed te kry om sandale te dra, verf ek my toonnaels en sorg dat my hakskene glad is.

Andrea Streso Danelle 7de Laan

Hoe belangrik is jou somerlyf vir jou?
Vir my gaan dit oor gemaklikheid. En dít is belangrik. Nie net in ’n swembroek nie (want ek kan nie onthou wanneer laas ek regtig gemaklik was in ’n bikini nie), maar ook in jou somersklere wat bo-arm en been wys. Die oomblik wat ek ongemaklik voel, weet ek ek moet iets begin doen. My “somerlyf” is nie noodwendig slank, viets en bruin nie, maar eerder waarmee ek gemaklik voel. Ek werk aan die dinge wat ek kan verander – al is dit net om my wit-winterlyf ’n bietjie bruiner te kry.

Leer ken vir Andrea ’n bietjie beter – klik hier!

FOTO’S: Andrea as 7de Laan se Danelle

Nóg sterre vertel oor hul somerlywe: