Ons praat met

Hoe maak Desiré Gardner (‘Binneland’ se Daleen) reg vir die somer?

Die somer is om die draai en vir die meeste van ons beteken dit nou ’n ernstige skoonheids- en fiksheidsroetine om goed te lyk op die strand. Hierdie week gesels ons met 5 bekendes oor hoe hulle hul lyf somergereed kry.

Desiré Gardner is ’n ma vir 1-jarige James én aktrise in die gewilde sepie Binneland. Sy is lief vir die hitte van somer en sê dít gee haar sommer ekstra energie en krag.

Alhoewel mense onlangs beweer het dat sy ’n eetsteurnis het (Huisgenoot, 18 Oktober), sê sy dat haar gesondheid vir haar die belangrikste is.

Wat dui die begin van somer vir jou aan?

Wanneer die reuk van jasmyn en laventel in die lug hang, maar nie so skerp is soos aan die begin van lente nie – dié reuke begin deel raak van jou lewe. En dan daardie hitte wat jou tref as jou kar lank in die son gestaan het. Ek is mal oor die energie wat warmte in jou vrystel!

Desiré GardnerWat is die lekkerste van somer vir jou?

Desember-vakansie! Want dan gaan kuier ons gesin by my ma-hul op Hersham (naby Mosselbaai) en by my man, Chris, se ouers in Kaapstad. En dít beteken strand-dae,  sonskyn en ontspan …

Ek is ook mal daaroor om kaalvoet te loop – dit is iets wat ek ook graag vir James leer. Dan ook natuurlik lekker somerkos soos roomys en waatlemoen!

Beste somer-herinnering?

Skooldae se waatlemoen-gevegte in die Vrystaat.

Die somer laat my ook dink aan een van my groot drome – om eendag saam met my gesin langs die see te bly. Die strand is my sielsherberg.

Hoe het jy gewig verloor ná jou swangerskap?

Ek het by Functional Training in Boskruin in Johannesburg aangesluit, waar ek met ’n persoonlike afrigter, Nick Gindre, oefen. Hy analiseer jou lyf en werk aan jou probleem-areas. Ek doen nou oefeninge wat ek nooit gedink het ek sal kan doen nie, maar wanneer jy leer om in jouself te glo, besef jy dat jy sterker is as wat jy dink. Plus, die oefeninge is vet pret!

Hoe berei jy voor vir die somer?

  • Ek is nie skaam om te sê dat ek selfverbruiner op my bene gebruik nie, want kort rokkies en wit bene pas nie! My bene brand ook gewoonlik rooi in die son. Ek verkies Caribbean Tan-produkte, omdat dit nie strepe maak nie.
  • Omdat my vel lig is, glo ek in sonskerm – ek lyk baie maklik so rooi soos ’n kreef as ek te lank in die son is. Gelukkig het ek nie duur velroom nodig om my gesig te bevogtig nie – ek gebruik Nivea Face and Hands op my gesig. Ek hou ook van Hannon se grimering én sy haarprodukte.
  • Ek eet gesond. Ek glo in ’n balans tussen groente en vrugte, en natuurlik ook lekkernye. Sodra jy jouself ontneem van iets raak dit ’n obsessie. Ek hou daarvan om goed te voel, maar ek hou ook daarvan om ’n sjokolade op my eie op te eet as ek daarvoor lus is. Die oefening kan dit dan weer later opraap en gebruik as energie.
  • Ek berei ook voor op aktiwiteite wat ek met James by die see wil doen en ek maak ook ’n lys van boeke wat ek graag langs die see wil lees (al weet ek nou ek gaan seker agter James moet aan hardloop en hom moet weghou van die groter branders!).
FOTO: Phyllis Green

Desiré saam met haar Binneland-medesterre Nadia Valvekens (Pippa) en Elma Postma (Bea) by SARIE se Voorbladgesig van die Jaar-partytjie.                                                                                                           FOTO: Phyllis Green

Hoe belangrik is jou somerlyf vir jou ?

Ek voel jou lyf moet jou nie inhibeer nie. Jou lyf moet op sy gesondste wees – somer,  winter, herfs of lente.

Sover as wat jy dit kan beheer, is dit jou taak om jou lyf te aanvaar en te geniet en om seker te maak dat dit altyd in die beste kondisie is.

Of dit nou 100% lyk of nie, solank jy goed en gemaklik in jou vel voel, kan niemand iets daaroor sê nie.