Leandie du Randt
Ons praat met

Hoe maak Leandie du Randt (‘Moeggeploeg’ se Glenda) reg vir die somer?

Die somer is om die draai en vir die meeste van ons beteken dit nou ’n ernstige skoonheids- en fiksheidsroetine om goed te lyk op die strand. Hierdie week gesels ons met 5 bekendes oor hoe hulle hul lyf somergereed kry.

Die 25-jarige Leandie du Randt is ’n jong aktrise met baie woema. Sy is besiger as ooit met baie nuwe projekte (kyk uit vir haar in die nuwe sitkom Kloofstraat én die flieks Windpomp en Welkom by die Schoemans). Boonop het sy ’n boek geskryf vir tienermeisies oor hoe om goed te voel in jou vel.

Wat dui die begin van somer vir jou aan?

Die son wat vroeër opkom en die kleurvolle klere in die winkels.

Wat is die lekkerste van somer vir jou?

Al die buitemuurse aktiwiteite wat mens nou weer kan doen – markies, feeste, om die swembad lê en stranddae! Ek geniet dit om buite in die son te wees. Dis ook lekker om weer vir ’n slag rokkies in helder kleure te dra!

Hoe berei jy voor vir die somer?

  • Ek sorg dat ek baie Bikram-joga doen om van al die oortollige gifstowwe in my liggaam ontslae te raak. Ek doen ook gereeld Pilates.
  • Ek probeer ook nou meer vars groente en vrugte eet en meer water drink.
  • Ek sorg ook dat my naels en lyf mooi gepamperlang en gewaks is, omdat jy soveel meer lyf in die somer wys.
  • Dis ook tyd vir regtrek. Ek pak my huis reg en skuif die meubels vir ’n somer-gevoel. Ek gee my klere wat ek nie meer dra nie by liefdadigheidsorganisasies af sodat ek kan plek maak vir nuwe dinge en energie in my lewe en só ook ander help.

Leandie du Randt

 

Jy is op die oomblik baie besig – wat kelder jou dieet- en oefenplanne?

Ek reis baie, want ons skiet gereeld op klein dorpies en daar is gewoonlik nie ’n gimnasium nie. Daarom moet ek myself dwing om steeds op my eie te oefen en gesond op die stel te eet.

Hoe belangrik is jou somerlyf vir jou?

My somerlyf is net so belangrik soos my winter-, herfs- en lente-lyf vir my is. Ek glo daarin dat jy die hele jaar na jou lyf moet kyk. Maar jy moet nooit so obsessief met jou lyf raak dat dit jou lewe oorneem nie. Gesonde gedagtes én ’n gesonde siel is net so belangrik as ’n gesonde lyf.

Leandie du Randt

 

Wat is jou top-wenk vir vroue op die strand?

Wees lief vir wie jy is, wees bewus van wie jy is en aanvaar die mens wie jy is. As jy gemaklik in jou eie vel is, sal dit uitstraal en jou beeldskoon laat voel én lyk.  Sorg ook dat jy jouself omring met mense wat jou liefhet nes jy is en wat nie net omgee oor die oppervlakkighede van die lewe nie. En geniet dit net … die lewe is op die ou end glad nie ’n kompetisie nie!

 

 

Lees môre hoe nóg ’n celeb vir die somer voorberei.