Rozanne McKenzie
Ons praat met

Hoe maak Rozanne McKenzie reg vir die somer?

Die somer is om die draai en vir die meeste van ons beteken dit nou ’n ernstige skoonheids- en fiksheidsroetine om goed te lyk op die strand. Hierdie week gesels ons met 5 bekendes oor hoe hulle hul lyf somergereed kry.

Rozanne McKenzie, Jacaranda FM-omroeper en Dagbreek-aanbieder, het verlede week bekend gemaak dat sy swanger is en dat sy en haar man, Chris Bishop, hul eersteling in April verwag. Hierdie somer is dus vir haar ekstra spesiaal.

Wat dui die begin van somer vir jou aan?

As ek die pragtige pers jakaranda-bloeisels aan die bome sien wanneer ek soggens vroeg Dagbreek toe ry en sien hoe dit in die pad lê. Dan weet ek die somer is hier!

Wat is die lekkerste van somer vir jou?

Ek geniet dit dat die son later sak en dat die dae langer voel. Daar’s vir my min dinge mooier as ’n sonsondergang en in die winter mis jy dít soms omdat jy so baie binnenshuis is. In die somer is dit makliker om die mooi raak te sien en te waardeer.

Beste somer-herinnering?

Ek en Chris het ’n paar jaar gelede vir vriende in Empangeni, KwaZulu-Natal, gaan kuier. Een dag het ons twee na die strand by Mtunzini gegaan en ons was die enigste twee mense so ver as wat ons kon sien. Die water was heerlik, die weer was wonderlik en ons het lekker ontspan. Dit was perfek! Dit het vir daardie paar uur gevoel asof ons die enigste twee mense in die wêreld is.

Kyk hier na Rozanne en Chris se wittebrood-foto’s!

Jy’s nou swanger. Wat gaan jy dié somer anders doen as ander jare?

My modekeuses gaan nou ‘n bietjie anders wees. Ek het al reeds ’n hele paar maksi-rokke gekoop. Hulle is so gemaklik en stylvol.

Rozanne McKenzieHoe berei jy voor vir die somer?

Ek is iemand wat regdeur die jaar hard probeer om gesond te bly, so ek het nooit die vrees van “ek moet nou my somer-lyf kry nie”. As jy jouself die hele jaar oppas, oefen en gesond eet, is dit nie nodig om ’n plan spesifiek vir die somer te hê nie, want jou dissipline is alreeds deel van hoe jy elke dag lewe. Daarom het ek nie rêrig ’n plan vir die somer nie. My velsorg-roetine verander ook nie, maar ek maak seker dat ek sonskerm gebruik op my gesig.

Hoe belangrik is jou somerlyf vir jou ?

Vanjaar gaan dit beslis nie belangrik wees nie, want ek beplan om my swangerskap werklik te geniet, asook al die veranderinge aan my lyf wat daarmee gepaard gaan. Ek sien uit om vir die eerste keer my baba-boepie te sien en as ek kans kry om ’n bikini te dra op die strand, gaan ek dit definitief doen!

Aan die einde van die dag is hierdie die een lyf wat ons kry, so as jy kans kry om dit af te “show”, dan moet jy – of jy nou die perfekte somerlyf het of nie.

Almal het maar goedjies waarmee hulle ontevrede is en niemand is perfek nie, so aanvaar jouself en geniet jou lyf!

Wat was Chris se reaksie toe hy uitvind jy is swanger?

Hy was en is steeds vreeslik opgewonde! Toe ek hom vertel, het hy net gelag en my omhels en ook ‘n bietjie gehuil. Hy gaan ’n goeie pa wees. Ons kan nie wag om die kleinding te ontmoet nie!

SARIE-winkel verkoop ook nou kraamdrag. Klik hier!

Lekkerste en slegste deel van swangerskap tot dusver?

Ek is baie gelukkig dat ek glad nie oggendnaarheid kry nie. Ek het een of twee vriendinne wat ook nou swanger is en hulle sukkel daarmee. Ek het ‘n bietjie minder energie as gewoonlik en ek is baie emosioneel. Ek weet nooit wanneer ’n crying attack my gaan vang nie, maar ek het dit nou ten minste ‘n bietjie meer onder beheer. Verlede week het ek my gunsteling-jeans gegroet tot ná die baba gebore is, want hulle kon nie meer toegaan nie.

Beste swangerskap-raad wat jy al gekry het?

Elke vrou is anders en elke swangerskap is anders. Iemand het vir my gesê geniet elke oomblik en doen wat reg is vir jou en jou baba.

Lees môre hoe nóg ’n celeb vir die somer voorberei.