sr1105hykie_3_
Ons praat met

Hykie Berg, die laaste Survivor op die eiland

Hy sal kaal rondhardloop as hy Survivor wen, het Hykie Berg gisteraand vol bravade by die eindronde van Survivor SA: Maldives gesê.

Maar noudat hy as die ultimate survivor gekroon is, is hy nie meer so seker nie . . .

Wat gaan jy met die wengeld doen?

Ek wil ‘n deel van die geld belê. En ek beplan om in Desember Israel toe te gaan – ek wil dit graag sien. Ek gaan blomme vir my ma koop en ek gaan baie mense uitneem vir ete.

Wat was vir jou die moeilikste van Survivor?

Om te weet wanneer om die waarheid te vertel en wanneer om inligting van ander deelnemers te weerhou. Enigiemand kan fisiek op die eiland oorleef, jou lyf pas maklik aan. Die moeilikste is om met jou swart honde te baklei: Om heeltyd te moet besluit of jy by jou beginsels gaan bly en of jy jou rug buig vir die geld.

Jy het ‘n paar keer gesê jy neem nie aan Survivor deel vir die geld nie. Is dit waar?

Ek glo as jy geld najaag, gaan dit jou ontwyk. Dit het al met my in die verlede gebeur. Op die eiland het ek in die oomblik geleef en ek het pret gehad.

Jy’t gesê jy sal kaal hardloop as jy die geld wen. Wanneer gaan jy dit doen?

Ek het dit op die ingewing van die oomblik gesê. Ek weet nie of ek dit gaan doen nie. Ek is bang Binneland dank my af.

Is jy verras dat Tejan en Harry vir jou gestem het om te wen?

Nogal, dit sê baie oor wat ons alles deurgemaak het op die eiland.

As jy een van die deelnemers moet uitsonder saam met wie jy nooit weer op ‘n eiland wil wees nie, wie sal dit wees?

Almal het goeie en slegte eienskappe. Vra my, ek het baie slegtes. Dis maklik om op mense se slegte eienskappe te fokus. Ek het dit altyd gedoen, en ek wil dit nie meer doen nie.

As jy weer die geleentheid kry om aan Survivor deel te neem, sal jy dit doen?

Ek sal môre by my werk bedank om dit weer te doen. Ek sal seker nie weer wen nie, maar dis oukei.

Alison het vir jou ‘n “Oscar-toekenning” gegee vir die beste akteur op die eiland. Beskou jy dit as ‘n belediging?

Glad nie. Ek wou nog altyd ‘n Oscar wen en nou het ek!

  • Mandie Venter

    Baie geluk Hykie!

  • Helene van Zyl

    Hykie, dis waar dat jy vol drama is – maar wie van ons is nou nie?! Baie geluk, jy het jou puik gedra in Survivor – ek’t dit geniet, drama en al!! Ek’s BAIE bly dat jy se jy gaan vir jou ma blomme koop – jou "roots" is op die regte plek!! Ek is seker jy sal alles wat jy op die eiland geleer het vir altyd saam jou dra en leer uit die goeie en slegte dinge. Sterkte met jou toekoms en jaag die "geld leeches" weg.