ilse_klink
Ons praat met

Kyk wie sing in 7de Laan

Die bekroonde Ilse Klink maak Woensdagaand (13 Mei) haar verskyning as die wispelturige diva Natasha in 7de Laan. Gaan die Laan en sy mense ooit weer dieselfde wees wanneer Natasha haar tasse oor twee weke pak? Ilse, gesoute aktrise en sangeres, speel vir die eerste keer so ’n karakter, wat die een oomblik gaaf is en dan “in ’n draak” verander. Sy’s terselfdertyd besig met tonele vir kykNET se sepie Villa Rosa. Mercy Morkel het met haar gesels.

Wie is Ilse Klink weg van die verhoog?

Ma, aktrise, sangeres. Ek is soms streng en verwag baie van mense om my. Weet jy wat inspireer my? Jong mense wat saam met my werk. Ek word aangetrek deur hul vreugde en kommervrye uitkyk op die lewe. Die lewe kan tog so ernstig wees.

Verklap iets van jou 7de Laan-rol.

Natasha is ’n diva wat ná 5 jaar weer ’n openbare optrede het en ’n geweldige plankekoors ondervind. As verhoogkunstenaar verstaan ek die celeb-karakter baie goed – van mense wat haar handtekening jag en haar nie met rus laat nie. Die Laners weet ook nie wat om van die onvoorspelbare Natasha te verwag nie. Sy gee nie om wie sy seermaak nie. Die sang-rol is vir my uitdagend en groot pret én die liedjie is baie mooi.

Is daar bekendes op stel teenoor wie jy in ander TV-reekse gespeel het?

Ek (as Vanessa Booysens*) en Zane Meas (as Jack van Onselon) het ’n paar jaar gelede in Isidingo op SABC3 ’n affair gehad. In 7de Laan speel ek nie direk teenoor Zane nie, maar sy teenwoordigheid op stel is amazing. Eintlik is al die akteurs in dié sepie wonderlike mense.

Hoe pas jy in jou rol in Villa Rosa?

Carla Mouton, ’n aktivis en navorser, is energiek en passievol oor haar werk. Ek verstaan my karakter se passie goed. Ons glo in ’n saak en wil ander mense help.

Jy’s ook bekend vir top-musiekspele soos Chicago, The Full Monty en Rent. Watter een kan jy uitsonder?

Dis nie maklik om te kies nie. Mens leef jou behoorlik in in elke stuk. Maar Chicago was wonderlik omdat dit so eenvoudig gedoen is. Die musiek is fantasties en ek het matrone Mama Morton se rol baie geniet.

Mens kan seker sê jy was ook al ’n “Bond”-meisie? Vertel ons.

Dit was in die musiekspel 007: A tribute to James Bond in die Kaap. Ek het Shirley Bassey en Tina Turner se temaliedjies in James Bond-flieks gesing. Dit was só lekker.

Jy’s ma van 2. Kan jy jou lewe tussen huis en werk maklik balanseer?

Ek het ’n tienerdogter en ’n driejarige seun. Dit help as ek verhoogwerk in Johannesburg doen, want dan is ek bedags tuis. Dinge raak moeilik wanneer ek vir 6 weke in die Kaap gaan werk. Maar hul pa is baie ondersteunend en staan dan my plek vol. Ek het ook iemand wat die huishouding bestuur. En ek kry dit reg om 100% aan gesinstyd en dieselfde toewyding aan my werk te gee.

*Ilse is vir haar rol in Isidingo in 2000 met ’n Avanti-toekenning bekroon as beste aktrise in ’n sepie.