pat01
Ons praat met

Italiaanse sanger Patrizio Buanne

Patrizio Buanne se derde CD, Patrizio, word op 31 Augustus in Suid-Afrika bekend gestel. En hy toer einde September ook plaaslik. Hy het reeds een miljoen CD’s met The Italian (2005) en Forever Begins Tonight (2007) verkoop. Marguerite van Wyk het telefonies met hom in Italië gesels oor sy nuwe CD, sy drome en sy grootste musikale inspirasies.

Waaraan skryf jy jou sukses toe?
Ek is só gelukkig. Dis soos ‘n droom wat waar word. Ek dink dis te danke aan al die toere wat ek gedoen het met my eerste twee albums in Asië, Amerika, Australië, Europa . . . Ek is baie opgewonde dat ek my derde CD kon maak by Westlake en Capitol Studios in Los Angeles. Dit is vervaardig deur Humberto Gatica, wat ook al vir groot name soos Celine Dion, Andrea Bocelli en Michael Bublé gewerk het.

Waarna kan ons uitsien op dié CD?
Die musiek is informeel. Dis nie ‘die Italianer in die pak’ nie. Dis my persoonlike gunstelinge. Dis ‘n samestelling van verwerkings van Italiaanse en Amerikaanse treffers soos ‘Mambo Italiano’, ‘Fly Me to the Moon’ , ‘Never, Never, Never’ en ‘Have You Ever Really Loved a Woman’. Ek is só gelukkig om my musiek met die wêreld te deel. Daar is ook oorspronklike goed op.

Wat inspireer jou?
My pa, Franco, is dood toe ek maar ‘n tiener was. Dit was vir my verskriklik om sy dood te verwerk. Ek wil sy naam laat voortleef deur my musiek. Ek was destyds so hartseer oor sy dood dat ek byna gesterf het aan ‘n geperforeerde maagseer. Dít het my met nuwe oë na die wêreld laat kyk en ook verantwoordelikheid geleer. Musiek het my geleer hoe om te ontspan. Dit is vir mense ‘n tonikum vir die siel. Ek is nou, danksy musiek, geheel.

Wat is jou grootste musikale droom?
Om vir die volgende vyftig jaar nog te sing en soos ‘n Frank Sinatra nog tot op 80 gehore te trek. Wat beteken ‘n teater as dit nie gevul is met mense wat kom om na ‘n mens te luister nie? Ek hoop mense is lief vir my stem tot die dag dat ek sterf.

Forever Begins Tonight

Wat is jou geliefkoosde liedjie en waarom?
”Hotel California” deur The Eagles. Ek het dit nog nooit gesing of opgeneem nie. Dit laat my dink aan ‘n rit in ‘n Amerikaanse motor in die woestyn met ‘n lang pad na die ewigheid. Jy weet nie wat op jou wag nie. Maar jy het so ‘n bevrydende gevoel as jy dit hoor.

Wat was jou grootste musikale uitdaging?
Ek is ‘n perfeksionis. Daarom was dit vir my baie belangrik om Engels behoorlik te leer praat sodat luisteraars nie na té veel van ‘n onverstaanbare Italiaanse aksent moet luister wanneer ek Engelse liedjies sing nie. Italiaans is my moedertaal, maar ek werk hard aan my Engelse uitspraak.

Watter kick kry jy daaruit om voor ‘n gehoor op te tree?
Dink vir jouself. Om voor 9 000 mense op te tree by Carnival City waar almal skree ‘Ons het jou lief’. Wat gaan aan in ‘n kunstenaar se kop! Ek bid dat ek dit vir so lank as moontlik kan doen. ‘n Mens moet hard werk vir dié soort erkenning. By die lughawe herken mense jou en hulle het jou lief. Dis ‘n ongelooflike gevoel.

Jy het al voor Pous John Paul II en ‘n skare van 85 000 mense in 1997 in Pole opgetree. Hierna het jy jou eerste platekontrak geteken . . .
Die Pous was beslis die celeb, nie ek nie. Die mense het gestroom om na hom te kom kyk en daar was hope media. Ek is ‘n baie spirituele persoon en het die Pous ontmoet. Dit het vir my baie beteken.

Wie is jóú gunsteling-sanger?
Freddy Mercury van Queen was dié beste.

Toe jy jonk was, wou jy ‘n sjef word. Jou pa het die eerste Italiaanse restaurant in Wene oopgemaak. Kook jy nou nog?
My pa wou nie hê ek moes ‘n sjef word nie omdat hy geglo het ek sou dan elke naweek werk en hy wou ‘n beter lewe vir my gehad het. Nou werk ek in elk geval elke naweek, want ek sing by konserte! Ek is mal oor kook en my gunsteling-gereg is eiervrug parmigiano. En in Suid-Afrika gaan ek beslis biltong en boerewors eet. Ek hou van vleis.

  • Klik by www.patriziobuanne.com
  • Patrizio tree einde September in SA op – hou sarie.com dop vir al die inligting.