Ons praat met

Jack en Jenna se Ruby word 1 + hoe het sy haar modellyf teruggekry

Hoe sal jy die eerste jaar beskryf met Ruby in jul lewe?
Liefde! Ek het nooit geweet die unconditional love wat ‘n ouer vir ‘n kind het is so groot nie. Ruby kan enigiets doen en ek sal dink sy’s fantasties. Ons het maar min geslaap dié jaar want Ruby het nou eers begin deurslaap, maar die volgende oggend het ek weer van alles vergeet. 

Wat het julle vir haar verjaarsdag gedoen?
Ons het ‘n Minnie Mouse-tema partytjie gehou. Syt vir die eerste keer koek geëet … haar hele gesig én hare was vol versiersel met ‘n breë glimlag op haar gesig. Dis al wat ek wou sien.



Na wie aard sy meer?
 Ek dink sy aard meer na my. Sy’t ‘n wilskrag wat skrik vir niks en wil alles self doen. Sy’t definitief haar pa se liefde vir musiek gekry. Toe ons eenkeer Knysna toe gery het, wou sy nie slaap nie. Ek het spesiaal baba CD’s gekoop, maar toe gil sy nog harder. Die oomblik toe ons rap-musiek opsit, slaap sy vas al die pad tot in Knysna.



Wat is jou hoop vir haar toekoms?
 Om altyd haarself te wees, om nie vir een oomblik te voel sy moet anders wees om aanvaar te word nie. Om net die lewe te geniet, te fokus op die positiewe én die wêreld plat te reis! Ek wil haar grootmaak dat sy ‘n sterk selfbeeld het sodat sy eendag goeie besluite kan neem. 

Is dit moeilik vir jou en Zander om so baie weg van die huis te wees?
Zander is baie meer weg as ek. Die meeste van my werk is oorsee en ek is baie meer selektief oor watter werk ek nou doen. Dis moeilik as hy weg is, maar ek verstaan dis sy werk en ek hou daarvan dat hy kreatief is en sy droom kan uitleef. Met jare van alleen-reis het ek gewoond geraak om alleen te wees, so ek hou van my spasie.


Ken Ruby al vir Jack Parow? En verstaan sy pappa het twee ‘persoonlikhede’?
Nee, sy is nou eers 1 jaar oud, maar sy het nou die dag “Pappa” gesê toe ek sy CD-voorblad vir haar wys.


Enige planne vir nog kinders?
Ek het nog nooit daarvan gehou om my lewe te lank vooruit te beplan nie. Ek dink as daar ‘n tyd kom wat reg voel sal ek graag nog ‘n kind wil hê. As dit nie kom nie, is dit ook okay vir my.



En die trouplanne?
 Op die oomblik dink ek glad nie aan trou nie. Ek’s gelukkig met hoe alles nou is.

Was dit moeilik om jou modellyf terug te kry na jou swangerskap?
Ek kon nie wag om hard te begin oefen na Ruby nie. Ek dink nie mens moet te lank wag voor jy begin nie. My instrukteur, Lloyd Naicker, het my 2 keer ‘n week laat oefen, soms het ek nie meer as 2 ure geslaap nie, maar oefening is vir my soos ‘n uur in ‘n sielkundige se kantoor. Ek het een maal ‘n week kardiovaskulêre oefening gedoen, asook Bikram-joga by Yogalife in De Waterkant.

Toe Ruby 3 maande oud was het ek al my eerste onderklere fotosessie gehad. Ek het nie ‘n dieet gevolg nie. Ek eet oor die algemeen gesond, maar het baie meer proteiene begin eet en minder stysel. Ek het ook ‘n baie goeie produk regdeur my swangerskap gebruik, Mama Mio. Ek het nie een rekmerk nie en die produk help jou ook baie na die swangerskap. Ek glo nie aan sellulietroom nie, maar hulle s’n het waarlik gewerk.  

Ek voel nou baie meer gemaklik in my eie vel. Ek’s nou ‘n ma en ek’s trots daarop.

Jenna in Triumph se onderklere-advertensie