Ons praat met

Jack Parrow: Die plaas in Zef

Hy’s die een met die laaang keps, die gewilde afrikaanse rapper met sy zef lirieke.  Maar Jack Parow se hartsplek is nie ’n rokerige kroeg in parow nie – hy verlang eerder na sy ouma en oupa se plaas in die langkloof.

Al is dit deksels koud dra Zander Tyler (28) vandag sy Jack Parow-mondering: Bonkige tekkies en ’n neonkleurige strandbroek, so helder ’n mens let nie die detail van sy swart hemp op nie. Hy hou sy kenmerkende kep met die lang-lang skerm vas,  oorgetrek met goue materiaal waaroor luiperdspore kruip. Sy hare staan woes, maar sy snor is netjies geknip.

Ja, dankie. Hy’s nou gesond, sê hy, ná ’n erge uitslag weens waterpokkies. Met die groetslag verwag jy hy sal iets sê soos hey, what’s going down?, maar hy is duidelik nou Zander en nie Jack nie, al sê hy hulle is een en dieselfde mens.

“Dis net met pelle wat ek só praat,”verduidelik dié gewilde Afrikaanse kletsrymer. En wanneer een bel, vra hy juis: What’s up, my bra?

In sy deurmekaar woonstel langs sy ma se huis in Durbanville, Kaapstad, maak hy self die koffie. Sy hartsplek is eintlik die plaas Uitkykhoogte in die Langkloof, ’n vallei in die Suid-Karoo omring deur berge met name soos Kamanasie en Kareedouw.

Die naaste dorpe is Avontuur en Joubertina. As kind het die Tylergesin twee keer per jaar vir oupa Christoffel en ouma Nellie Christowitz, sy ma se ouers, op hul plaas gaan kuier. Dis ’n lewe ververwyder van die digitale media soos YouTube, Twitter en Facebook, wat gehelp het om Jack Parow so gewild te maak.

Meer as 600 000 musiekliefhebbers van reg oor die wêreld het al op sy YouTube-video’s soos “Cooler as ekke” geklik. En dan kry hy boodskappe van Amerikaners wat sê “ons verstaan glad nie Afrikaans nie, maar dit klink so cool, ons wil dit ook leer”.

Cool, ja. Zander is eenparig gekies as vanjaar se gesig vir die Pendoringveldtog wat pryse uitloof aan die makers van die beste Afrikaanse reklameflitse.

“Dis ’n lekker opportunity,” sê hy.

Pendoring spog ook met ’n Afrikaanse kletsrymkompetisie, wat Zander gaan beoordeel. Franette Klerck, Pendoring-hoofbestuurder, sê hulle het hom gekies omdat hy ’n Afrikaanse kultusfiguur is.

“Jack Parow gaan woema aan die veldtog gee en wys presies hóé cool Die Taal is,” sê sy.

Maar sy lirieke skok in sommige geledere. Soos Anoniem wat op 13 Maart vanjaar in Die Burger se bylae By geskryf het:“Wat ’n skande dat Jack Parow met sy growwe ongeskiktheid ons Afrikaners (se naam) so gat maak.”

Franette erken sy swetswoorde kan sensitiewes ontstel.“Met volle reg.Maar Pendoring se uitgangspunt is dat ons primêr met die jonger skeppende geslag van alle kulture praat. Dis onder hulle dat Parow ’n kultusfiguur is.”

Zander se ma, Ronel, sê: “Diegene wat nie van die ‘harde’woorde hou nie,moet maar liewer na iets anders gaan luister. Ek dink Zander is fantasties en ek is baie trots op hom.”

Sy pa, Erwin, is dood toe Zander so “24 of 25” was, voordat hy bekend geword het.

“Ek was mal oor my pa,” sê hy. “Hy was ’n amazing mens en lank ná sy dood was ek nog depressed. Ek mis hom baie.”

Nou wat van al daardie vloekwoorde?

Zander sê hy vloek nie om te skok nie. “Vir my gaan dit oor eerlikheid. Ek is zef, dis wie ek regtig is. Ek kan nie lieg nie.” Maar hy weet ook in watter geselskap om nié te vloek nie. En dit laat ’n mens wonder of die ware Zander met sy goeie maniere en oop gesig regtig so zef is.

“Zef ” is ’n ander word vir “kommin”, verduidelik hy. “Dis heeltemal die teenoorgestelde van posh.”

En die zefste ding wat hy tot dusver gehad het, is ’n motor: “’n Peach-kleurige Ford Sierra met skaapvel oor die sitplekke en nagemaakte gras op die dashboard.”

Die inspirasie agter sy lirieke is dikwels one-liners. “Ek het sulke kommin vriende.Wanneer hulle dronk is, sê hulle lekker goed wat ek in my songs kan gebruik.”

En skryf, dié kán hy. Hy was destyds die eerste st. 6-leerling (gr. 8) in die Hoërskool Durbanville wat 96% vir ’n Engelse (eerste taal) opstel gekry het. “Ongelukkig het die paartie-scene kort daarna begin en het ek nie meer so goed gedoen nie.”

Met sy musiek probeer hy mense van alle klasse verenig, “sodat almal saam kan paartie hou”. En met sy verwysings na vroue se borste as “kanne”of ander growwe name vir liggaamsdele, bedoel hy nie disrespek nie.

“Dis net hoe ’n mens praat as jy zef is. Ek hou tog baie van meisies . . . veral Patricia Lewis is kief omdat sy so ’n mooi tan het,” sê hy en lag.

 

Veral Patricia Lewis is kief omdat sy so ’n mooi tan het.”

 

“Kief ” is ’n sinoniem vir goed, cool of lekker. En die sleng wat hy met sy pelle praat en waaroor hy rap het hy al van kleins af by sy “tjommies” van Bellville opgetel.

Die verlange na sy kinderjare skemer ook deur in sy liedjies. In “Tussen stasies” sing hy juis “neem my terug na die Langkloof ”. Na daar waar hy en sy ouer susters, Tasha en Tanya, skape in die kraal gejaag het, lank voordat hy Jack Parow geword het.

En voordat sy eerste meisie hom afgesê het. Dis juis oor dié pyn dat hy in “Tussen stasies” sing. Hy verwoord dit so: “Ek is gebreek van binne soos al my speelgoed van toe ek klein was.”

Vra jy hom of hy tans ’n meisie het (hy het mos met Dominique Benton, wat ’n graad in skone kuns aan die Universiteit Stellenbosch het, uitgegaan en sy pryk ook in ‘n swembroek op sy CD-omslag), lyk hy effens onseker, gee ’n snorkie en sê: “Nee, ek het nie nou iemand nie.” Maar hy maak dit ook duidelik dat hy nie sulke private sake met die media wil deel nie.

Wanneer Zander oor die Langkloof praat, kry hy so ’n veraf uitdrukking. Reeds op pad plaas toe was die opwinding onder die kinders al groot, vertel hy.

“Ons het soms met my tannie Christene McClouglin se groen Volkswagen-surferkombi gery. Wanneer ons by die Hugenote-tonnel duskant die Paarl gekom het, het ons ‘tonnelpresente’ gekry vir die lang pad.”

Dikwels comics soos Casper the Friendly Ghost of Plastic Man, sy gunsteling.Naby Montagu het hulle stilgehou vir ’n piekniek met broodjies en frikkadelle.

“Op die plaas kon ek vry rondhardloop, sonder vrees dat ’n motor my sou raakry of iemand my sou kidnap. Bedags het ek en my bruin plaasmaatjie,Casper,met karretjies of in die modder gespeel. Ons het ook kleiosse gemaak wat ons in die son laat droog  word het en kleilat gespeel. Skemertyd het ek en my susters die skaapwagter gehelp  om die skape in die kraal te kry.

 

Op die plaas kon ek vry rondhardloop, sonder vrees dat ’n motor my sou raakry of iemand my sou kidnap.”

 

Eenkeer het ek selfs gesien hoe ’n lammetjie gebore word.Dit was awesome.”

Saans het hy sy dors geles met melk “vars uit die koei”.

Dis geler, romeriger en het veel meer smaak as winkelmelk.”

Gaskoeldrank sou hy nooit oor sy lippe neem nie. Die Langkloof is vrugtewêreld en vir hom was daar min dinge so lekker soos vars lemoen- of appelsap.Nie dat hy nou vegetaries is of gesond leef nie. Hy hou van Burger Fair se kos, maar is “nog maller oor die Spur”.

Sy gunsteling-gereg ná al die jare bly egter sy ouma se frikkadelle.

“Ek weet nou nog nie wat daarin is nie,” sê hy.

Maar so baie het Zander daarvan gehou dat sy ouma voor haar dood vir Louisa Martins, sy ma se huishulp, geleer het om dit te maak.

Louisa maak dit steeds en dan eet hy sommer ’n hele bak frikkadelle op.

“Ek het regtig goeie memories van die plaas. Oupa Christoffel was ’n bobaas-storieverteller op wie se skoot ek gesit en luister het na kinderverhale soos Rooikappie of Die drie beertjies,” vertel hy.

Ouma Nellie was ’n sterk vrou, “’n great tannie”. In sy liedjie “I miss” rap hy juis: “There is so much I miss of the old days . . . I miss my ouma sitting reading Danielle Steel.”

“Ek onthou haar in die plaaskombuis met sy Agastoof. Haar kombuis was nog old school.”

Die spens was vol blikke met meel en ander kos. “Heelbo het Ouma die sweeties weggesteek waar ons dit nie kon bykom nie.”

Zander onthou ook die geur van tuisgebakte potbrood wat hy met plaasbotter en  tuisgemaakte appelkooskonfyt geëet het. Die plaashuis het altyd na moerkoffie geruik.

Saam met Ouma en Oupa het hy baie voor die kaggel gesit, “want daardie gebied is maar vrek-vrék koud”. Sou sy ouma net so trots gewees het op sy sukses as sy ma?

“Ek glo so. Sy sou ook nie so erg geskrik het vir die swetswoorde in my songs nie. Ouma kon self ’n knoop of twee los,” sê hy en lag.

 

Ouma sou ook nie so erg geskrik het vir die swetswoorde in my songs nie. Sy kon self ’n knoop of twee los.”

 

Zander onthou ook die kort lui van die plaastelefoon.“Dit was in die dae sonder  selfone, toe ’n mens nog behoorlik kon wegkom.”

En David Kramer se musiek.“My ouers was gek oor sy plate. Soveel dat ek hom vandag net so baie love. Ek glo hy het ’n invloed op my musiek.”

Met Zander se loopbaan gaan dit vorentoe. Sy eerste album Jack Parow is uit en het binne die eerste maand reeds goue status (20 000 verkope) behaal.
 
Dié “romantiese Afrikaanse rapper” soos hy homself beskryf, rits rond tussen Johannesburg en die Kaap, staan onderhoude toe, skiet tydskrifadvertensies vir Pendoring, maak video’s en was onlangs in Nederland, België en Londen. Augustus is hy weer in Nederland.

Daarom moet hy gereeld sy batterye herlaai, vertel hy. Dan lê hy net op sy bed en doen niks. Of slaap. Wanneer hy nie rus of sing nie kyk hy graag TV of “hang rond” saam met vriende. Vakansies gaan hy en sy vriende op ’n road trip iewers teen die kus op en geniet die buitelewe.

In besige tye is die grot op die plaas ’n mooi herinnering. “As jy voor die grot gesit het, het jy uitgekyk oor die vlakte. Binnein was die allermooiste Boesmantekeninge.”

Zander sê hy het baie van die omgewing se mense gehou.“Hulle was real, sonder die invloed van TV of issues van ons-moetprobeer-inpas-by-society”.

Vandag rap hy juis vir sulke mense.Vir diegene waarop ander dalk sal neersien. Hy vertel hy het een aand na Pirates of the Caribbean gekyk. Daarin vertolk Johnny Depp die karakter Jack Sparrow.

“Toe besluit ek ek is JackParow –the pirate of thecaravan park.”Soos hy rap: “My naam is Parow, dik heavy uitgeskollie . . .”

Parow is ook ’n woonbuurt in Kaapstad se noordelike voorstede “waarop sommige uit die suidelike voorstede neersien”. Nes op die inwoners van Bellville en Durbanville, verduidelik hy.

Al wat hy wil regkry, is om mense te laat vergeet van vooroordele.

Ná sy oupa en later sy ouma se dood is die plaas verkoop,maar as Zander vandag daar sou kon gaan sit en skep, sou hy.Hy hou van stilte wanneer hy skryf,maar gee tog toe  dat hy ’n paartieanimal is.

“Ek is eintlik ’n introvert wat my ekstrovertkant laat uitkomwanneer ek paartie hou…”

 

Ek is eintlik ’n introvert wat my ekstrovertkant laat uitkom wanneer ek paartie hou…”

 

Destyds toe die gesin teruggery het van Uitkykhoogte af, het hy dikwels ’n stukkie plaas saamgebring, ’n lammetjie of ’n bokkie wat in hul agterplaas in Durbanville kon wei.

“Hulle het nie te veel geraas nie, so die bure was oukei daarmee.”

Dis net jammer die diere moes teruggaan plaas toe wanneer hulle te groot geword het, vertel hy.

Zander rap al vandat hy 12 is.Toe was hy mal oor Snoop Dogg se album Doggy Style. Ná skool het hy motorwerktuigkunde “by ’n mechanic in Parow”geswot, maar dit laat vaar. Karre laat hom egter steeds tiek.

Eers het hy net in Engels saam met groepe soos The District Alcoholics ge-rap. Later in Afrikaans saam met ’n paar manne soos Knoffel en Scallywag van die Kaapse Vlakte. Dis egter toe sy vriend Rufio Vegas in sy lewe gekom het dat dinge begin gebeur het.

“Ons het trailer trash-Afrikaans gerap” en so het die bekende liedjie “Wie hou van brandewyn drink?” ontstaan. Daarna het Zander saam met onder andere Max Normal (wat Ninja van Die Antwoord geword het) en die Heuwels Fantasties gewerk en ook opgetree as Muis is baas.

“Soort van undercover wanneer bekende name die verhoog verlaat het.”

Pierre Greeff en Hunter Kennedy
van Die Heuwels Fantasties besit ook die platemaatskappy Supra Familias, wat Zander se CD uitgee. Hy werk steeds gereeld saam met hulle.

 

Want ek verkies absoluut die groen van die plaas teenoor die grys geboue van die stad.”

 

Zander sê hy besef hy sal nie vir ewig kan rymklets nie,maar hy sal in die musiekbedryf wil bly. Dalk liedjies vir ander skryf en vervaardig.Hy werk ook reeds daaraan om sy lang kep – sy handelsmerk – te bemark.

En eendag sal hy daarvan hou om op ’n plaas te woon.

“Want ek verkies absoluut die groen van die plaas teenoor die grys geboue van die stad.”

jack parrow en sy susters Zander en sy twee sussies op hulle ouma en oupa se plaas in Langekloof.